Die prys van Suid-Afrika se onwaarskynlike herstel is dat sommige met hulle lewe daarvoor sal betaal en dat die mat onder ander uitgetrek sal word, skryf PIET CROUCAMP na aanleiding van ’n onlangse landbouberaad en die rol van die misdadige informele ekonomie.,
DIS seker al vier jaar sedert enige landbou-organisasie my gevra het om met hulle te kom gesels.
Sommige boere beweer ek is ’n ANC-sikofant en ander vrees die oordeel van die Skepper. Dit beteken ons kan heerlik saam rugby kyk en ’n glas duur rooiwyn deel, maar my teenwoordigheid op ’n openbare platform maak die duiwel by ’n boeredag los.
Toe Agri SA dus ’n maand of twee gelede hulle jaarafsluiting hou en ek ’n uitnodiging kry om my daar stil te kom gedra, kon ek nie nee sê nie.
Die uitvloeisel daarvan was dat Christo van der Rheede my weer onlangs genooi het om met die direkteure van Agri SA en Agri Enterprises te kom gesels oor die vooruitsigte vir landbou in die lig van die impak van die oorlog in Oekraïne op voedselsekerheid, China se kommunisme wat fascistiese en paranoïese manifestasies met ’n nul-Covid-beleid het, klimaatsverandering, die druk op ontwikkelende ekonomieë om tot ’n groen energieregime te konformeer en die noodwendigheid van koalisiepolitiek.
Nuwe gevare
Maar, ontplooi ek my relaas Dinsdag op ’n snikhete dag by die ATKV se Goudini Spa, daar is nuwe gevare op die horison wat julle meer as net kennis van moet neem.
’n Onlangse verslag oor georganiseerde misdaad deur die Global Initiative Against Transnational Organized Crime vertel ’n verdoemende verhaal oor Suid-Afrika en vir die doeleindes van my relaas verwys ek deurlopend na die morbiede gevolgtrekkings daarin vervat: “Although many countries have more developed and larger illicit markets – such as the drugs market in Mexico, or arms trafficking in Iraq – few host so many illicit markets across such a broad spectrum of criminal activity. South Africa is a highly developed and diverse criminal landscape.”
Landbou sal nie onbeperk in isolasie van hierdie misdadige ekologie kan funksioneer nie, voer ek aan.
Ek is ook al lank genoeg in die openbare gesprek om te weet die boere wat hulle bedrywe in besighede omskep het, wil hê jy moet oplossings bied eerder as om eindeloos oor politieke probleme en ekonomiese afgronde te murmureer.
Dit gesê, sal dit nié ’n oordrywing wees om aan te voer dat ’n beduidende deel van Suid-Afrikaanse landbou die afgelope 30 jaar op ’n baie dinamiese wyse verander het van ’n middelklas-verskynsel tot ’n tegnologies-gedrewe mega-uitvoerder van verskeie hoëwaarde-landbouprodukte nie.
Plaaslike landbou is reeds jare lank onder die drie grootste uitvoerders van sitrus na die Europese Unie en die Verenigde Koninkryk. Die absorbering van tegnologie en die besef van die noodsaaklikheid van innovasie was en is byna naatloos.
Suid-Afrika se aansienlike voedselsekerheid is te danke aan ’n voorsienings- en waardeketting gedryf deur ’n genetiese affiniteit vir keurig bestuurde risiko’s.
Die godgegewe destruktiewe realiteite is bekend: onvoorspelbare klimaats- en weerstoestande, die koste van entrepreneurskap, die onverantwoordelike bestuur van grondhervorming deur ideologiese amptenary, politieke onsekerheid, die aftakeling van logistieke infrastruktuur, uitdagings met produktiwiteit, korrupsie en misdaad.
Dié ou lysie is lank en bekend.
Suid Afrika nie ‘n mislukte staat, maar op die rand van ‘n fiskale afgrond
Gemilitariseerde mededinging
Maar eintlik het landbou dit tot nou toe makliker gehad as baie ander nywerhede en bedrywe in die Suid-Afrikaanse ekonomie.
Die ANC se kaping van die morele (regstellende) en ekonomiese regverdigings vir swart bemagtiging het in werklike terme nog net indirekte implikasies vir landbou ingehou.
In die mynwese, vervaardiging en vervoer het kaderontplooiing, tenderpreneurskap en patronaatskap (verdoesel as aandeelhouding) en bemagtiging baie dikwels vernietigende gevolge vir die koste van entrepreneurskap gehad.
Elke siel wat koerant lees sonder om sy vinger te gebruik het kennis geneem van dit wat in 2021 gebeur het met kettingwinkels – die afsetpunt van landbouprodukte – in KwaZulu-Natal.
Die vernietiging van infrastruktuur tydens die Transnet-staking is volledig deur Suid-Afrika se onafhanklike en vrye media gerapporteer en gebeeldsend.
Die aftakeling van die hawens in Kaapstad, Durban en Oos-Londen waarheen temperatuursensitiewe sitrus vervoer word, is algemeen bekend.
Die trokke wat landbouprodukte, steenkool en chroom vervoer en by die Mooirivier-plaza op die N3, rigting eThekwini, aan die brand gesteek word, is ’n bekende grusaamheid.
Die betrokkenheid van mafia-agtige taxibase in die Suid-Afrikaanse logistieke stelsel onder voorwendsel van ’n besorgdheid oor plaaslike arbeid is geen geheim nie.
’n Getroue Vrye Weekblad-lesende boer met ’n sin vir kompleksiteit en ’n sielsbegrip vir wederstrewige idees vertel my sy trokke wat werkers na ’n nabygeleë dorp vervoer, is onlangs deur die taxibedryf gestop; taxibase dring aan om deel te wees van sy arbeidslogistiek. Hy weet as hy nie gehoor gee nie, is die volgende fase van die gesprek gewapend.
Die militarisering en bewapening van mededingende gesprekke is ’n toenemende – en in sekere dele van die land ’n noodwendige – kenmerk van die vervoer- en mynekonomieë.
Belange in die taxibedryf het reeds die openbare vervoerstelsel in Gauteng en die Wes-Kaap vernietig sonder dat die staat ’n vinger verroer het.
Die virologie van gemilitariseerde mededinging is besig om na die platteland te versprei.
As jy nie horende doof en siende blind is nie, weet jy van die vermoë van krygshere in Mpumalanga om hulle onwettige mynbedrywighede in die waardeketting van die formele ekonomie te kry en deur hawens in Mosambiek en KwaZulu-Natal uit te voer.
André de Ruyter se steenkool word vervang met ru-materiaal en die hoëgraadproduk word deur krygshere wat onmiddellike verhoudings met die polisie, plaaslike burokrate en provinsiale bestuur het – met verifieerbare papierwerk – deur die hawens na China en elders gelaai.
Misdadige informele ekonomie
Die onderskeid tussen die misdadige informele politieke ekonomie en die formele ekonomie is net teoreties.
Ek was persoonlik binne trefafstand van verskeie onwettige chroommyne in Mpumalanga wat openlik onder die bestuur van mafia-families funksioneer sonder enige aksie of oorsig deur die staat of die polisie.
’n Mynbestuurder vertel my van ’n ervaring waar die “mafia” by die hekke van die myn opgedaag en wild en woes met AK47’s geskiet het. Daar was geen ongevalle nie, maar die mynsekuriteit het op die vlug geslaan en die wit bestuurders het ’n tweespoorpad na veiligheid gevat. ’n Konvooi van trokke en masjinerie wat chroom laai, het die myn geplunder en weer vertrek.
’n Klag kon nie by die polisiestasie ingedien word nie, want die geregsdienaar aan diens het aangedring op ’n naam voordat hy ’n klag kon opskryf. Almal teenwoordig het geweet die lewe van die polisieman wat die klag durf afneem, sou min werd wees. Hulle het hom maar laat begaan.
Terloops, die bestuurder van die voertuig wat my rondgeneem het, se pistool lê rusteloos op sy skoot. “Moenie roekeloos nuuskierig rondkyk nie,” prewel hy terwyl ’n oënskynlik ledige en belangelose slenteraar op ’n straathoek van die informele nedersetting wat spontaan om myne ontwikkel, ons voertuig se nommer probeer lees en neerskryf.
Ek was al in situasies waar AK47’s as ’n afskrikmiddel gebruik is. Die mees onlangse geval was toe ek niksvermoedend laatnag ’n cappuccino by die vulstasie 600 m van my huis gaan koop het. Maar om die een of ander rede voel jy meer kwesbaar in ’n duur Japanse motor.
Blatante Mantashe
Die afgelope week praat RSG se Suzanne Paxton met my. Die minister van minerale bronne en energie, Gwede Mantashe, maak dit duidelik dat die “polisiëring” van Eskom se misdaadsindikate deur die uitvoerende hoof, André de Ruyter, nie voldoen aan die mandaat van ’n uitvoerende bestuurder nie.
Mantashe weet so goed soos ek en jy van die misdadige en gewelddadige sindikate wat in die energie-ekonomie vaardig is. Hy weet dat die logistiek van steenkoolvervoer versadig is aan krygshere en misdadige families wat Eskom reeds dekades lank plunder en ondermyn.
Hy weet van die sabotasie van kragstasies en die opportunistiese entrepreneurs in die voorsieningsketting van Eskom wat die koste van goedere en dienste buitensporig eskaleer. Hy kan op die balansstate sien dat die plundering en vergrype letterlik biljoene per jaar beloop.
Maar hy dring nie net daarop aan dat die “polisieman” vervang word nie, hy maak dit ook duidelik dat ongeag wat by Nasrec se leierskapskonferensie gebeur, hy die enigste persoon is wat minister van minerale bronne en energie kan wees.
By implikasie dreig hy ook die president wat naïewelik vasklou aan Trevor Manuel se verstaan van sy rol as minister toe hy gesê het: “I serve at the pleasure of the president.”
In 30 jaar van demokrasie het ek nog nooit ’n apparatsjik gehoor wat die hoof van Suid-Afrika se uitvoerende gesag op so ’n blatante wyse uitdaag en by implikasie krygshere, plunderaars en tenderpreneurs se werkswyse ter wille is nie.
Lasarus lê onder die stofkombers, maar Gwede swagger selfvoldaan deur die dal van doodskaduwee.
Geldspoor
Teen die tyd dat ek my rekenaar se deksel toeklap in die swanger stilte van die boere se beraad by die Goudini Spa, sug Christo van der Rheede: “Sjoe!”
Aan die ander kant van die tafel sit die president van Agri SA, ’n Vrystater sonder bedrog met ’n “good-natured en soft-spoken”-geaardheid. Sy woorde laat my net weer besef hoekom landbou ten spyte van die verval in byna elke ander sektor steeds met uitnemendheid onverskrokke voortbeur: “Piet, wat kan landbou doen om die probleem aan te pak, hoe kan ons ’n verskil maak?”
Ek hoor myself sonder oortuiging sê: “Wen en behou die vertroue van Suid-Afrikaners dat julle die algemene belang wil dien. Van julle sal met julle lewe daarvoor betaal en ander se mat sal onder hulle uitgetrek word, maar dis die prys van Suid-Afrika se onwaarskynlike herstel.
“Maar daar is geen spesifieke rede hoekom landbou die lot van die mynwese, konstruksiebedryf en logistieke ekonomie sal vryspring nie. Die gemilitariseerde informele politieke ekonomie ‘will follow the money’.”
Terloops, ek het in antwoord op ’n vraag ook genoem dat ek nie dink pres. Cyril Ramaphosa sal Phala Phala oorleef nie.