Herkouerdiere vat die pak vir nywerheidsrevolusie

Herkouerdiere vat die pak vir nywerheidsrevolusie

User Rating: 5 / 5

Star ActiveStar ActiveStar ActiveStar ActiveStar Active
 

GROOT klem is by vanjaar se COP27-beraad gelê op die inperking van landbou-aktiwiteite wat metaangasuitlatings meebring om sodoende kweekhuisgasse in die atmosfeer teen 2030 te help halveer.

Hoekom dié dringendheid wat landbou-metaangasuitlatings betref?

Christiaan Cruywagen, emeritus-professor in veekunde aan die Universiteit Stellenbosch, verduidelik dat die belangrikste kweekhuisgasse op grond van hulle globale verwarmingspotensiaal (GWP) koolsuurgas, metaan en stikstofoksied is. Indien die GWP van koolsuurgas as 1 geneem word, is die GWP van metaan 28 en dié van stikstofoksied 265.

“Metaan, wat soms as ‘fast and furious’ beskryf word, is dus ’n baie kragtige kweekhuisgas.

“Maar die ander kant van die munt is dat koolsuurgasmolekules wat deur die verbranding van fossielbrandstowwe gevorm word, tot 1 000 jaar lank in die atmosfeer bly, vergeleke met slegs nege tot 10 jaar in die geval van metaan.

“Voorts is koolsuurgas ’n voorraadgas (stock gas) en metaan ’n vloeigas. Dit beteken dat metaangasse, anders as koolsuurgas, afgebreek kan word.”

Metaanuitlatings deur herkouers, veral melk- en vleisbeeste, word in klimaatsgesprekke geteiken juis omdat dit die potensiaal het om afgebreek te word.

“Die algemene siening is dat aardverwarming beperk kan word as metaanuitlatings verminder. ’n Betekenisvolle verlaging in metaanvrystellings is wel die vinnigste manier om aardverwarming op kort termyn te rem, maar op lang termyn is koolsuurgas die groter probleem.”

Cruywagen meen die blaam op dierelandbou is oordrewe en word deur beleidmakers, politici, die publiek en selfs oningeligte wetenskaplikes uit verband geruk.

Vloeigasse vs. voorraadgasse
Om die verskil tussen vloei- en voorraadgasse en herkouers se rol in aardverwarming in perspektief te stel, sê Cruywagen dit gaan alles oor koolstof.

“Of dit nou koolsuurgas of metaan is, koolstof beweeg in ’n siklus, bekend as die biogeniese koolstofsiklus. Dit begin by koolsuurgas in die atmosfeer wat deur plante opgeneem word, gevolg deur fotosintese waar dit ingebou word in koolhidrate, onder meer sellulose.

“Sellulose word in die grootpens van herkouerdiere deur ’n mikrobiese populasie verteer en een van die vele neweprodukte is metaan, wat in die atmosfeer vrygestel word.

“Maar hierdie koolstof is, ná voltooiing van die siklus, dieselfde koolstof wat in die lug was voordat die dier dit via plante ingeneem het. Daar word dus geen nuwe koolstof deur herkouers gevorm nie en dit is deel van die voorraadkoolstof.”

Hierdie siklus duur al miljoene jare voort. “Dit beteken dat as beesgetalle oor die afgelope 10 jaar (die leeftyd van metaan in die atmosfeer) konstant gebly het en hulle vreet vandag dieselfde rantsoene as 10 jaar gelede, sou metaanvrystellings konstant gebly het en kon beeste nie die afgelope 10 jaar tot aardverwarming bygedra het nie. Maar beesgetalle het nie toegeneem nie en voer is deesdae baie meer gespesialiseerd om metaanproduksie te verminder.”

In teenstelling met voorraadkoolstof, wat al voor die nywerheidsrevolusie in die atmosfeer was, word groot hoeveelhede “nuwe” koolstof in die atmosfeer vrygestel wanneer fossielbrandstowwe soos olie, steenkool en natuurlike gasse verbrand word en dit is dus bykomend tot die voorraadkoolsuurgas.

Voor en ná Columbus
Cruywagen illustreer die biogeniese koolstofsiklus aan die hand van die bison- en takbokbevolkings in Amerika:

“Voordat Christopher Columbus voet aan wal gesit het in Amerika, was daar na raming tussen 30 en 60 miljoen Amerikaanse buffels in Noord-Amerika, terwyl daar ook tussen 25 en 30 miljoen takbokke was. Die totale herkouerbevolking was dus tussen 60 en 90 miljoen.

“Vandag is daar ongeveer 91 miljoen beeste in die VSA. Die totale herkouerbevolking het dus nie noemenswaardig verander nie, maar die groot verskil is dat diere in intensiewe produksiestelsels, soos in die geval van melk en vleis, rantsoene vreet wat relatief min ruvoer (gras en blare) bevat en wat tot aansienlik minder metaanproduksie lei.

“Voor Columbus was die totale metaanuitlatings heel moontlik meer as dié van die huidige beesbevolking, maar die atmosferiese stelsel was danksy die biogeniese koolstofsiklus wêreldwyd in balans voor die nywerheidsrevolusie plaasgevind het.

“Dié balans is stelselmatig versteur soos wat steenkool, olie en natuurlike gasse ontgin en verbrand is. Dit het die afgelope dekades vererger, met die gevolg dat klimaatsverandering vandag ’n erkende realiteit is, hoofsaaklik weens die verbranding van fossielbrandstowwe.”

Verteringsproses
Oor presies hoe en hoeveel die verteringstelsel van herkouerdiere tot kweekhuisgasse bydra, sê Cruywagen herkouers se grootpens is soos ’n groot fermentasievat waar ’n hoogs effektiewe mikrobiese bevolking voedingsbronne soos gras, kruide en blare in produkte omskep wat die mens kan benut.

“Voedingstowwe soos vitamien B12 kom feitlik uitsluitlik in diereprodukte voor en die vleis en melk bevat ook ’n uiters gesonde vet, bekend as gekonjugeerde linoleïensuur. Melk en vleis van herkouerdiere is dus van groot waarde vir die mens.

“Gedurende die fermentasieproses word gasse soos koolsuurgas, metaan, ammoniak en waterstof ook geproduseer. Groot hoeveelhede waterstof word vinnig deur metabolisme in onder meer vlugtige vetsure geïnkorporeer, wat as energiebronne dien en ander funksies verrig. Nog ’n groot hoeveelheid waterstof vorm verbindings met koolstof om metaan te vorm, wat uiteindelik deur windopbreking vrygestel word.”

Die proporsionele bydrae van menslike aktiwiteite wat metaan produseer, is: fossielbrandstofproduksie (33%), die globale veebedryf wat beeste, buffels, skape, bokke en kamele insluit (27%), globale vullishope en afval (16%), verbranding van biomassa (11%), rysverbouing (9%) en biobrandstofproduksie.

“Die geraamde bydrae van fossielbrandstofproduksie is ongeveer 90 tot 100 Tg (1 Tg = 1 triljoen metrieke ton per jaar) en dié van die veebedryf 85 tot 95 Tg. ’n Vleisbees van 500 kg op ’n hoëkragvoerdieet produseer ongeveer 100 g metaan per dag (37 kg/jaar) en ’n melkkoei van 550 kg op weiding 145 tot 150 g metaan per dag (54 tot 55 kg/jaar). Melkkoeie op hoëkragvoerdiëte produseer aansienlik minder.”

Vordering met voernavorsing
Baie navorsing word onderneem om metaanproduksie in herkouerdiere te beperk en groot vordering is die afgelope vyf jaar gemaak.

’n Produk wat deur die Nederland-gebaseerde maatskappy DSM in samewerking met wetenskaplikes ontwikkel is (3-NOP) het teen die laagste aanbevole dosisse getoon dat metaanproduksie met tussen 22% en 35% verlaag kan word, terwyl melkproduksie-doeltreffendheid terselfdertyd verhoog is. Teen hoër dosisse is metaanproduksie in voerkraal-vleisbeeste met tot 80% verlaag.

  Cows and cars should not be conflated in climate change debates

Asparagopsis taxiformis, ’n rooi seegras, het metaanproduksie met tussen 70% (lae ruvoerdiëte) en 80% (hoë ruvoerdiëte) in vleisbeeste verlaag. Bromoform, wat in rooi seegras voorkom, word ook onttrek en in verskeie produkte beskikbaar gestel. Die produkte word nog ondersoek, maar wetenskaplike studies toon geweldige moontlikhede.

Vlieg of vreet?
Oor hoekom hy meen die blaam op dierelandbou is oordrewe, sê Cruywagen dit gaan alles oor die koolstofvoetspoor.

“Kom ek verduidelik dit so: As jy van ’n omnivoor- na ’n veganistiese dieet sou oorskakel, sal jou totale koolstofvoetspoor (wat koolsuurgas en metaan insluit) met 0,8 metrieke ton verlaag. Daarenteen lewer ’n enkele transatlantiese vlug 1,6 metrieke ton kweekhuisgasse per passasier. Jy sal dus twee jaar lank ’n veganistiese dieet moet volg om op te maak vir slegs een transatlantiese vlug.

“As jy dus jou besluit grond op jou erns om die planeet te red, moet jy ook nie met jou motor ry of vlieg nie, want daardeur gaan jy ’n veel groter impak maak. Elke keer as jy jou motor aanskakel, word nuwe koolstof in die vorm van koolsuurgas geproduseer, wat 1 000 jaar in die atmosfeer gaan bly.”

Ingrypings in wêreld-kosstelsel
Leiers van 128 lande het by COP27 hulle steun beloof aan ’n koalisie van nieregeringsorganisasies wat hulle beywer vir ingrypende veranderings aan die wêreld se kosstelsel. En onderneem om hulle burgers aan te moedig om minder vleis te eet. Voor in dié koor is Nederland, wat boere betaal om van veeboerdery af te sien.

Maar Cruywagen meen aanmoedigings om minder vleis te eet sal min impak op metaan- en totale kweekhuisgasuitlatings hê. “Daar is bereken dat as die hele Amerikaanse bevolking van ongeveer 332 miljoen mense vir ’n jaar lank ’n veganistiese dieet sou volg, hulle koolstofvoetspoor met slegs 2,6% sal afneem.”

“Boerdery is nie slegs vir voedselproduksie nie, maar dra ook tot die bestaan van miljoene mense by. Boere kan eerder vergoed word as hulle kan bewys dat hulle hulle koolstofvoetspoor verklein.”

Rol van ‘fabrieksboerdery’
Groot gewag word gemaak van die rol van grootskaalse produsente en “fabrieksboerdery” in metaanuitlatings en die vinger word veral na die 15 groot vleis- en suiwelmaatskappye in die wêreld gewys. Maar Cruywagen sê die statistieke oor hierdie maatskappye is misleidend.

“Die 15 maatskappye sluit groot rolspelers in soos JBS, Tyson, Marfrig (vleis) en DFA, Danone, Lactalis en FrieslandCampina (melk). Hulle besit net die abattoirs en verwerkingsaanlegte en vleis- en melkprodusente lewer aan hulle. Ons praat dus nie hier van ‘fabrieksboerdery’ nie. Die groot getalle diere wat gesamentlik by al 15 maatskappye betrokke is, beteken vanselfsprekend dat die totale metaanvrystelling noemenswaardig sal wees.”

Cruywagen gebruik Nestlé as voorbeeld, wat 354 fabrieke in 79 lande besit en aan wie talle Suid-Afrikaanse produsente melk lewer. Die metaanproduksie van al die koeie wat melk aan hierdie 354 fabrieke oor die wėreld heen lewer, word kollektief beraam bloot op grond van hulle getalle.

“Dis onmoontlik om die metaanproduksie van elke melkery individueel te beraam, want die produksiestelsels en tipe rantsoene verskil geweldig tussen plase en tussen lande. Die maklikste en eintlik enigste manier is om almal oor dieselfde kam te skeer, maar dis soos om lemoene met appels te vergelyk.

“Metaanproduksie deur herkouers word beraam deur syfers te gebruik van diere wat hoofsaaklik op weidings is, of waarvan die dieet grootliks uit kuilvoer of ander ruvoer bestaan. Die dieet van vleisbeeste wat in voerkrale afgerond word, bevat ’n groot komponent kragvoer en net 10 tot 15% ruvoer en hulle produseer noemenswaardig minder metaan as veldbeeste. Dieselfde geld lakterende melkbeeste, wat minstens 40% tot 60% kragvoer in hulle rantsoene ontvang.”

Produksiedoeltreffendheid
Voorts moet die groot toename in die doeltreffendheid van melk- en vleisproduksie die laaste paar dekades in gedagte gehou word.

In die meeste lande waar melk intensief geproduseer word, het die getal melkkoeie noemenswaardig afgeneem, terwyl produksie toegeneem het. In Suid-Afrika het koeigetalle byvoorbeeld van 1,8 miljoen in die 1970’s afgeneem tot ongeveer 600 000 koeie vandag, maar melkproduksie het toegeneem van 2,2 miljoen ton in 1979 (SA Tydskrif vir Veekunde) tot 3,4 miljoen ton in 2021 (Lactodata).

Voorts het die groot melkerye in die wêreld, met kuddes van 7 000 tot meer as 100 000 koeie (wat almal oor verskillende plase heen versprei is), van die modernste toerusting en word presisievoeding vir optimale doeltreffendheid toegepas.

Op die kruis
Cruywagen sê ’n vermindering van metaanuitlatings van ál die potensiële bronne sal feitlik onmiddellik tot ’n afname in aardverwarming lei. Dit sal tyd koop sodat die groot sondaar, naamlik koolsuurgas, aangepak kan word en sodat nul-emissies hopelik teen die teikendatums bereik kan word.

“Talle van die metaan-‘sondaars’ kan nie bygekom word nie en dit lyk of herkouerdiere vir die sondes van die nywerheidsrevolusie gekruisig word.”