Volgens prof Jannie Rossouw, ‘n ekonoom verbonde aan die Universiteit van die Witwatersrand se besigheidskool, lei arm mense wat honger is tot revolusies en dit is hier waar landbouers se heil lê.
“Suid-Afrika se bevolkingsgroeikoers is 1,5% per jaar en hierdie mense moet eet. Ons moet ‘n konstant groeiende bevolking voed.” Dit is die mening van prof Rossouw, wat op Donderdag, 4 Februarie, ‘n webinaar wat deur Nedbank aangebied is, toegespreek het oor landboumarkvooruitsigte onder die tema: Word Suid-Afrika regtig ‘n mislukte staat? Geleenthede in tye van onsekerheid.
Prof Rossouw meen dat daar tog uiters doeltreffende staatsinstellings in die land is, soos Suid-Afrika se regstelsel en nasionale tesourie. Hy glo ook dat Edward Kieswetter, kommissaris van die SA Inkomstediens, besig is om dié instelling weer in die regte rigting te stuur.
‘n Oorsig oor Suid-Afrika
Die suidpunt van Afrika is die 26ste grootste land ter wêreld, het die 32ste grootste ekonomie ter wêreld en ook die derde grootste ekonomie in Afrika, naas Nigerië en Egipte.
“Ons moet ons posisie in Suider-Afrika gebruik as beleggingstoegang tot die res van Suider-Afrika. Dit is ‘n fantastiese geleentheid wat ons tot ons voordeel moet gebruik. Chaos by grensposte lê dit egter aan bande.”
Landbou dra slegs sowat 4% tot Suid-Afrika se bruto-binnelandse produk (BBP) by, maar die feit dat dit soveel skakels tot die waardeketting het, maak sy rol tot die ekonomie baie belangrik. “Ons het ook ‘n werkloosheidsprobleem en landbou is inderdaad ‘n belangrike werkgewer,” het hy genoem.
Wat is ‘n mislukte staat?
In ‘n mislukte staat het die regering tipies nie meer beheer oor sy grondgebied nie. Dit kan nie met ander lande skakel nie en dit kan nie openbare dienste lewer nie. “Suid-Afrika het dus elemente van ‘n mislukte staat, maar ons is nog nié ‘n mislukte staat nie. Ons groot krisis is die fiskale afgrond wat die regering in ‘n posisie gaan plaas waar dienste glad nie meer gelewer kan word nie,” het hy egter gewaarsku.
Hy het verduidelik dat die fiskale afgrond die punt is waar staatsdienssalarisse, sosiale toelaes en rente op staatskuld die staat se inkomste oorskry. In 2007/2008 was dié verhouding 55% en is vandag meer as 100% omdat daar ‘n groot afname in staatsinkomste as gevolg van die ekonomiese inkrimping weens COVID-19.
“Al die belasting word hiervoor aangewend, so die staat moet geld leen vir ander uitgawes – of dit nou entstowwe of ampsmotors is. Die regering sal dinge anders moet doen om hierdie tendens om te draai.”
Tog meen Jannie dat Suid-Afrika ‘n groot sukses met monetêre beleid het, waar ons inflasiekoers aan die onderpunt van die inflasie teikenband van 3% tot 6% per jaar is, wat ruimte geskep het vir laer rentekoerse.
DIE REGERING DIE SONDEBOK
Die regering is ‘n oneffektiewe herverdelingsinstrument, aldus prof Rossouw. “Mense vang vis en die regering vang mense se visse by wyse van belasting en verdeel dit in die ekonomie op ‘n baie oneffektiewe manier. Die belastingbetaler moet telkens die kole uit die vuur krap. Die regering is op die belastingbetaler aangewese om die ekonomie van ‘n regeringskant af deur dienslewering te laat werk.
“Sedert die resessie in 2008 is die gemiddelde begrotingstekort van hierdie regering 6,3% van die BBP. Ons het stimulerende begrotings gehad wat nie tot ekonomiese stimulasie gelei het nie.”
Hy het telkens na austerity budgets, oftewel oordeelkundige begrotings, verwys. Dit behels basies dat die regering onnodige uitgawes snoei, wat Suid-Afrika nié gedoen het nie. Staatskuld het skerp toegeneem en die rente op staatskuld het dramaties toegeneem.
“Ons gebruik tans 21c van elke rand belastinginkomste om rente op staatskuld te betaal. Suid-Afrikaners is die eienaars van staatskuld – ons pensioen- en aftreefondse. Sou jy ophou om rente op staatskuld te betaal, sal dit tot bankrotskap van hierdie fondse lei en die middelklas uitwis.”
Die hart van die probleem in Suid-Afrika is dat die salarisse van staatsamptenare te vinnig gegroei het. Sedert 2008 het staatsamptenare se salarisse baie hoër as die nominale groei in die ekonomie toegeneem. “Ons kan nie langer hierdie salarisse bekostig nie.”
WAAK TEEN TÉ HOË BELASTING
Suid-Afrika het van die hoogste belastingkoerse in die wêreld en dit ontmoedig beleggings. In 2020/2021 was daar 573 000 belastingbetalers met ‘n belasbare inkomste van R750 000 of meer. Hulle dra sowat R284 miljard, oftewel 20% tot die totale regeringsinkomste by.
“Daar is baie min ruimte om belasting verder te verhoog, want hierdie mense kan eenvoudig emigreer.”
Boonop is daar tans meer as 17 miljoen mense in Suid-Afrika wat sosiale toelae ontvang.
Wat moet ons doen om ‘n mislukte staat te verhoed?
- Jannie glo dat aksie teen korrupsie die beste teenvoeter is. Onmiddellike optrede is nodig.
- Beskerm instellings (soos bo genoem) wat doeltreffend funksioneer.
- Raak ontslae van staatsinstellings wat nié werk nie, soos SAL en Denel. Daar is weer R10 miljard opsy gesit om SAL te probeer red. “Dit is baie geld. Jy kan daarmee tot 200 000 laekoste huise bou,” het hy benadruk.
- Plaas onmiddellike beperkings op die vergoeding van die uitvoerende bestuur van staatsondernemings.
- Eskom is ‘n staatsonderneming in ‘n monopolie. Open sy raadsvergaderings vir die media en publiek en publiseer al hulle kontrakte vir openbare insae.
- Publiseer ook alle staatskontrakte op alle vlakke vir publieke insae. Dit sal ‘n groot bydrae lewer om korrupsie hok te slaan.
- Regeringstrukture op alle vlakke moet plaaslik aankoop. “Ondersteun plaaslike vervaardiging en diensverskaffing. Koop net voertuie wat in Suid-Afrika gemaak is vir die regeringsvloot.”
- Suid-Afrika het versnelde ekonomiese groei nodig om werkloosheid te verminder, geleenthede te skep, die belastingbasis te groei en kos vir alle Suid-Afrikaners te verskaf.