Saai: Presidensiële verslag oor grondhervorming teleurstellend - Suid Afrika

Star InactiveStar InactiveStar InactiveStar InactiveStar Inactive
 

Die Suider-Afrika Agri Inisiatief Saai is teleurgesteld met die verslag wat die sogenaamde adviespaneel van kundiges oor grondhervorming aan die kabinet voorgehou het, en wil op hierdie stadium op kernaspekte van die verslag ’n teenoorgestelde standpunt stel.

Die verslag is opsigtelik gebrekkig omdat dit nie moreel regverdigbaar is dat individuele grondeienaars wat hul eiendomme wettig gekoop het, die rekening vir grondhervorming as ’n nasionale verantwoordelikheid moet diens nie.

Dit vermy enige verwysing na hoe landboufinansiering – as een van die hoekstene van kompeterende primêre produksie in Suid-Afrika – beïnvloed sal word. Elke boer in Suid-Afrika loop die risiko om ’n plaas of twee te verloor, maar die banke kan alle plase wat as sekuriteit vir produksiefinansiering dien, verloor.

Saai is veral teleurgesteld in die oppervlakkige, oorvereenvoudigde en eensydige weergawe van die geskiedenis van grondbesit (wat ook blatante onwaarhede bevat), wat aangebied is om die res van die verslag ideologies te regverdig. Daardeur posisioneer die paneel en sy lede hulle as aanhitsers van verdeeldheid en rassespanning, eerder as ’n oplossingsgedrewe invloed op die grondkwessie.

In die oordrewe klem wat op die regte van plaasplakkers gelê word, en gepaardgaande kritiek op die toepassing van verblyfregsekerheidswette, skry die eensydige invalshoek van die paneel ten hemele. Daar is geen sweempie van ’n verwysing na oorbeweiding, brandstigting, misdaad of intimidasie wat grondeienaars daagliks in Suid-Afrika in die haglikste veiligheidsomgewing ter wêreld van plaasplakkers moet verduur nie. Die paneel se onderrok hang té ver uit.

Saai bevraagteken ook die bronne waarop die paneel se syfers van plaasafsettings gegrond is. As daar 1 679 471 plaasplakkers van plase afgesit is, en daar 35 000 kommersiële boere is, het elkeen gemiddeld 48 mense van plase afgejaag!

Saai verwerp die paneel se eis dat die staat die Ingonyama Trust (of enige ander trust) oorneem, ontbind of vernietig. Dit is ’n aanval op die kultuureie sowel as geestesgoedere van die Zoeloe-bevolking, en op trusts as legitieme regspersone. Duisende onroerende eiendomme in Suid-Afrika word in trusts gehou, en die paneel werp geen lig op hoe sodanige drakoniese aksie tot die Ingonyama Trust beperk sal word nie. Daar is geen rede om die Zoeloes se historiese hartland te onteien of uit hulle hande te ruk nie.

Die paneel vertoon ’n skreiende naïwiteit in hul voorstelle oor finansiering van grondhervorming. Voordat die wêreld, en veral vermoënde Suid-Afrikaners, oortuig is dat korrupsie en wanadministrasie hanteer word, en dat daar gevolge vir die vergrypers is, sal vrywillige bydraes tot grondhervorming nie realiseer nie. Wie sal ooit enige skenkings doen as jy vermoed dat dit in onaantasbare kaders se sakke gaan beland?

Saai onderskryf volledig die paneel se voorstel dat titelaktes aan begunstigdes van grondhervorming oorgedra moet word. Dit sal ’n scenario verhoed waar Suid-Afrika oor 10 jaar weer twee kategorieë van boere sal hê: wit boere wat hul eie plase besit, en swart boere wat tot ewige bywonerstatus as huurders op staatsgrond gedoem is. Tog maak die voorstel geen sin in dieselfde dokument waarin onteiening sonder vergoeding aanbeveel word nie – tensy die wysiging aan die Grondwet spesifiseer dat dit slegs op wit mense van toepassing is.