Dit is in die middel van die winter van 2019- Somergraan produsente is besig met insameling van hulle oeste. En dis al weer tyd om grondmonsters te neem en te kyk hoe lyk die gronde na die oes afgehaal is. Daar word baie gepraat oor die insetkoste wat graan produsente net nie meer kan bekostig nie.
Kunsmis is baie duur en daar word beweer dat landbouers te veel kunsmis gee in vegelyking met die opbrengste wat hulle afhaal. Kunsmis maak seker gronde suur en daarom is dit belangrik om seker te maak dat jou gronde genoeg kalk kry sodat die PH volkome reg is vir die volgende oes. Daar is baie artikels reeds geskryf en inligting gedeel rondom grondsuurheid. Lees gerus die artikel.
Gewasproduksie vind grootliks plaas op grond wat jaarliks bewerk word. Hierdie bewerkingsproses versteur die ewewig tussen grond, plant en klimaat, en het grondversuring tot gevolg. Dié proses word juis aangehelp deur die onoordeelkundige gebruik van stikstof, veral die gereduseerde vorm daarvan. Die versuringsproses kan suur grond oplewer wat feitlik geen plantegroei meer kan onderhou nie, sê dr. Gawie
du Toit van Pretoria, ’n bekende grondkundige raadgewer.
Grond met ’n ligte tekstuur (soos sand- tot sandleemgrond) word besonder nadelig daardeur beïnvloed, hoewel grond met ’n swaarder tekstuur (soos leem- tot sandkleileemgrond) ook aan hierdie vernietigingsproses onderhewig is.
Die toediening van kalk vorm die grondslag vir gesonde gewasverbouing en dus ekonomies doeltreffende voedselproduksie. Daarom word daadwerklike aandag vereis om die grond (die voedselproduksiestelsel) te stabiliseer en op ’n ekonomies gesonde grondslag te plaas en te onderhou. Hiervoor word ’n doelgerigte en dinamiese program van kalktoediening vereis.
Du Toit vertel jare lange navorsingswerk, veral aan die Universiteit van Pretoria en onlangs ook op die Nooitgedacht-proefplaas by Ermelo, dui onteenseglik daarop dat die toediening van hoëgehaltelandboukalk van kardinale belang is vir suksesvolle gewasproduksie. Van die inligting in hierdie skrywe is afkomstig van navorsing deur mnr. Marius van Rensburg van Nooitgedacht.
Die neutralisering van oormatige grondsuurheid deur die regte hoeveelheid landboukalk toe te dien, maak dit vir die boer ook moontlik om met baie minder stikstof-, fosfaat- en kaliumkunsmis (NPK) klaar te kom as waarop die algemene riglyne dui. Dit lei noodwendig tot laerisiko-produksiemiddele, met meer ekonomies doeltreffende oeste en uiteindelik ’n finansieel gesonde landboubedryf.
Die mieliebedryf is die grootste gewasbedryf in Suid-Afrika. Dit vorm ook die grondslag van die vee- en verwante bedrywe, soos vir die produksie van vleis, melk, eiers, kaas en botter, wat dan ook meer ekonomies kan presteer. Uiteindelik kan voedselproduksie, wat vandag die mees strategiese “wapen” in lande se beheer is, waarskynlik tóg ekonomies en teen ’n hoë gehalte geskied. “Voedselsekerheid kan
derhalwe só ’n permanente posisie in die land inneem,” sê Du Toit.
Die suurheidsgraad van grond kan as gesond beskou word by ’n pH (water) van 6,5 of ’n pH (KCl) van 5,5. By hierdie waarde is die toeganklikheid van voedingselemente optimaal en die grondmikrobes funksioneer die beste.
Met gewone grondbewerking en matige stikstofbemesting is die versuringsproses in die grond minstens gelykstaande aan ’n jaarlikse toediening van 1 ton kalk per ha. Hierdie vereiste kan natuurlik groter word, veral met die onoordeelkundige en oormatige toediening van stikstof.
Die beskikbaarstelling van makro- en mikrovoedingselemente deur die grond neem af namate die grond se pH (water) na waardes onder 5 daal (of ’n pH (KCl) van onder 4). Swaar bemesting kan in ’n mate vir kalktoediening instaan, maar teen ’n prys. Die werklike probleem word nie opgelos nie; slegs die simptoom word behandel. Veral die molibdeenprobleem kan net met ’n verhoogde pH herstel word.
Namate die grond verder versuur, word ’n punt bereik waar selfs hierdie swaar toediening van misstowwe (veral met fosfaat) nie meer kan verhinder dat opbrengste daal nie.
Du Toit sê minstens 1 ton tot 2 ton kalk per ha is jaarliks nodig om grondversuring wat in ’n seisoen deur mielieproduksie veroorsaak word, op droëlande teen te werk.
Vir die 2,5 miljoen tot 3 miljoen ha grond onder mielieproduksie in Suid-Afrika sal minstens 3 miljoen ton kalk benodig word om die pH op ’n konstante vlak te hou. Dan word nog nie eens voorsiening gemaak nie vir die omvangryke gevalle waar die pH kritiek laag is en heelwat meer kalk nodig is.
Gewasse, behalwe mielies, by wat ook kalk benodig, dan is dit duidelik dat aansienlike hoeveelhede kalk benodig word; waarskynlik minstens 5 miljoen ton per jaar.
Volgens statistiek van die Misstofvereniging van Suid-Afrika word kwalik meer as 1 miljoen ton kalk per jaar vir alle gewasse in die land gebruik; dus is daar ’n geweldige agterstand. “Derhalwe sal ernstige aandag aan hierdie uiters belangrike aspek gegee moet word indien ons gewasproduksie in die algemeen, en
mielieproduksie in die besonder, op ’n gesonde, volhoubare vlak in die toekoms wil hou,” sê Du Toit. Die toediening van goeie gehalte landboukalk om hierdie ongewenste toestand reg te stel, vorm dus die grondslag van suksesvolle mielie- en algemene gewasproduksie. Pleks van geld aan ’n oormaat kunsmis te bestee, sal dit die boer oor en oor loon om eerder geld in kalk te belê. Die resultate spreek vanself. ’n
Groter belegging in kalk kan dan lei tot ’n meer realistiese toediening van misstof, met ’n beter oesprestasie en dus groter winsmarge.
Kontak Dr Gawie du Toit- This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..