HERNUBARE ENERGIE UIT DIE SEE

Star InactiveStar InactiveStar InactiveStar InactiveStar Inactive
 

“Die beweging van die groot golwe dieper in die see is een van die grootste alternatiewe en hernubare energiebronne in die wêreld wat vandag steeds nie op ‘n grootskaal ontgin en gebruik om fossielenergie soos ru-olie en steenkool te verplaas nie,” sê Fanie Brink, ‘n onafhanklike landbou-ekonoom.

Die seegolwe stel elke dag ‘n enorme hoeveelheid hernubare energie vry, terwyl fossielenergie nie vir ewig beskikbaarheid sal wees nie en reeds tekens begin toon dat dit uiteindelik sal opraak.

Hierdie hernubare energiebron kon al vir baie jare lank ‘n baie groot bydrae tot die land se energiebehoeftes gemaak het, veral omdat Suid-Afrika een van die lande in Afrika is wat oor ‘n baie lang kuslyn beskik. Dit kon ook ‘n groot voordeel gehad het om die verspreidingskoste deur middel van gedesentraliseerde kragsentrales aansienlik te verminder het. Daarbenewens kon dit die land ook geweldig baie gehelp het om die ontsaglike lugbesoedeling wat deur die steenkoolkragsentrales en die gebruik van fossielbrandstof vrygestel word, te verminder.

Die tegnologie om die seegolwe as ‘n energiebron te ontgin is reeds vir meer as ‘n dekade lank al in die wêreld beskikbaar en het boonop die verdere voordeel dat die energie wat so opgewek word ook vir die ontsouting van seewater gebruik kan word. Ontsoute seewater het ‘n al groter noodsaaklikheid geword om die gevolge van aardverwarming en klimaatsverandering te verlig en kan terselfdertyd ‘n groot bydrae maak om die volhoubaarheid van voedselsekerheid te bevorder.

Die ontwikkeling van elektriese motors wat geen nadelige uitlaatgasse vrystel nie, het reeds baie ver in die wêreld gevorder en sal nog een van die belangrikste vervoermiddels in die toekoms word, soos die elektriese busse en lokomotiewe wat alreeds algemeen in gebruik is.

Enige land wat sy lugbesoedeling verminder kan spesifieke voordele bekom, soos byvoorbeeld om koolstofkrediete te verdien, wat reeds geruime tyd al op internasionale markte verhandel word. Die lande in die wêreld wat nie instaat is om hulle uitlaatgasse voldoende te verminder nie, kan hierdie koolstofkrediete aankoop om sodoende aan die voorskrifte van die Kyoto-verdrag wat reeds in 2008 onderteken is om lugbesoedeling en aardverwarming te verminder, te voldoen.

Die land is reeds vir ‘n geruime tyd in baie ernstige energieprobleme gedompel wat steeds vir ‘n paar jare al direk deur Eskom se onkunde, ongevoegdheid en korrupsie veroorsaak word, selfs terwyl miljarde Rande nog steeds ingepomp moet word om Eskom van ‘n finale ineenstorting te probeer red en om die nuwe aanlegte wat elke dag meer kos, te voltooi.

Selfs die stokoue olieraffinaderye ondervind ook reeds vandag ernstige kapasiteits- en kwaliteitsprobleme omdat dit nie deur die staat of die plaaslike brandstofbedryf opgegradeer wil word om brandstof te vervaardig wat aan die internasionale kwalteitstandaarde sal voldoen nie, behalwe as die brandstofverbruikers daarvoor moet betaal.

“Die negatiewe gevolge van ‘n baie moontlike dramatiese verswakking in die R/$-wisselkoers binne die volgende jaar of twee wat met die verdere verswakking van die ekonomie en die regering se groterwordende skuldlas wat met ‘n gevolglike verdere afgradering van sy kredietwaardigheid gepaard sal gaan, moet geensins onderskat word nie.

Die dreigende beleidsvoorskrifte aan die land se pensioenfondse om in die regering se ontwikkelingsprojekte te belê, asook die duidelike aanslag van die ANC-regering om toegang en beheer oor die land se goud- en buitelandse reserwes te verkry deur die nasionalisering van die Reserwebank, sal hiermee saam ook nog verdere ernstige gevolge vir die ekonomie en die land inhou,” sê Brink.