Graan Suid Afrika markkommentaar - Mei 2019 /Half

Star InactiveStar InactiveStar InactiveStar InactiveStar Inactive
 

Die plaaslike ekonomie is steeds grootliks onder druk met die kleinhandel-, vervaardiging- en mynbousektore wat laer syfers gedurende die eerste kwartaal van 2019 getoon het.


Hierdie sektore speel 'n baie prominente rol in die plaaslike ekonomie en dus is die swak vertoning daarvan 'n groot risiko vir die BBP-groeivooruitsigte vir die eerste kwartaal. Die waarskynlikheid is baie groot dat die ekonomiese groei negatief sal wees gedurende die eerste kwartaal van 2019.

Mielies:

Die Amerikaanse mieliemark het eergister hoofsaaklik onder druk gekom, maar het later in die dag weer ondersteuning gevind om marginaal hoër te sluit. Die verwagting in die mark vir die weeklikse uitvoersyfers wat later vandeesweek bekendgemaak word is dat dit tussen ongeveer 300 000 en 900 000 ton behoort te wees. Die Amerikaanse etanolproduksie het verlede week die hoogste uitset getoon sedert begin Januarie met meer as 1.051 miljoen vate wat per dag geproduseer is. In ander internasionale nuus is die verwagting dat die mielieproduksie in die Oekraïne tot 7% laer behoort te wees as die vorige seisoen se rekord-produksie. Dit sal die uitvoere vanaf die Oekraïne ook hierdie seisoen laat daal.

Plaaslik: Die plaaslike mieliemark het eergister ondersteuning gevind en het sterker verhandel vir die dag in meeste van die wit en geelmielie kontrakmaande wat tans gelys is. Die weeklikse produsentelewerings wat deur SAGIS gerapporteer was, is 23 465 ton se witmielies en 64 975 ton se geelmielies.

Sojabone:

Die Amerikaanse sojaboonmark het eergister ondersteuning gevind met heelwat aankope wat in die mark gedoen iss om beskerming te bied teen die kort posisies wat van die rolspelers in die mark het. Die sojaboonaanplantings in die VSA vind ook aansienlik stadiger as die normale tempo plaas en die mark sal die vordering daarvan in die volgende twee tot drie weke dophou. Die verwagting in die mark vir die weeklikse uitvoerverkopeverslag is dat dit tussen ongeveer 300 000 en 990 000 ton behoort te wees. Die verwagting in die mark is ook dat daar tussen 125 000 en 375 000 ton se sojaboonmeeluitvoere en tussen 5 000 en 25 000 ton se sojaboonolie-uitvoere behoort te wees.

Plaaslik: Die plaaslike sojaboonmark het eergister goeie ondersteuning gevind en het sterker verhandel vir die dag. Die weeklikse produsentelewerings wat deur SAGIS gerapporteer is, is 160 504 ton.

Koring:

Die Amerikaanse koringmark het eergister gemeng verhandel, maar het hoofsaaklik onder druk gekom met die verwagtinge dat die produksie vir die seisoen goed behoort te wees en die uitvoere steeds teen 'n stadige tempo sal plaasvind. Die verwagting in die mark is dat die weeklikse koringuitvoerverkope tussen 150 000 en 600 000 ton behoort te wees. In ander internasionale nuus word verwag dat die Oekraïne se koringproduksie vir die seisoen hoër behoort te wees as die vorige seisoen se produksie met die weer wat meestal gunstig was gedurende die produksie seisoen. Die verwagting in Frankryk is dat die seisoen se koringuitvoere buite die EU ongeveer 9.98 miljoen ton behoort te wees.

Plaaslik: Die plaaslike koringmark het eergister hoofsaaklik onder druk gekom en het laer gesluit vir die dag in meeste van die kontrakmaande wat tans gelys is.