AANGEPASTE BEGROTING BEREIK VERNIETIGENDE VLAKKE - Suid Afrika

Star InactiveStar InactiveStar InactiveStar InactiveStar Inactive
 

Fanie Brink, Onafhanklike Landbou-ekonoom-

Die ANC-regering se aanpassingsbegroting  wat die Minister van Finansies, Tito Mboweni, vandag aan die parlement voorgelê het, het die onomkeerbare en onstuitbare vernietiging van die ekonomie en die land verder blootgelê as gevolg van sy toenemende oorspandering, begrotingstekorte, skuldlas en bankrotskap wat dit net sal vererger,” sê Fanie Brink, ’n onafhanklike landbou-ekonoom.

Hy sê die begroting het weereens die oorheersende rol van die regering in die ekonomie bevestig, asook sy totale onvermoë om te verstaan hoe ekonomiese groei vandag wêreldwyd geskep word. Die gevolg is dat hy die land en sy mense reeds totaal gefaal het met sy ideologie van sosialisme en kommunisme wat reeds die aftelling na die finale vernietiging binne die volgende drie tot vier jaar begin het.

Die ANC se politieke ideologie van “ekonomiese transformasie” en “inklusiewe groei” is niks anders nie as suiwer sosialisme sonder ekonomiese groei wat op grond van die kommunistiese leerstellinge op die ekonomie en die land afgedwing word. Die privaatsektor se  beleggingsgeleenthede is hierdeur ondermyn en het die regering se inmenging en regulering van die ekonomie al meer vergroot.

Die verbeelding van die president, Cyril Ramaphosa, om die "ekonomie op ‘n stewige en volhoubare pad te plaas" is weereens niks anders as ‘n totale misleiding wat net soos sy minister van finansies en hele kabinet presies niks van die ekonomie verstaan nie! Om "rentekoerse op die langtermyn te verlaag om ondernemings vinniger te laat groei en huishoudings se spandering te verhoog,” is 'n totale dwaling omdat die rol wat rentekoerse in die ekonomie speel weglaatbaar klein is en die feit dat die ekonomie deur die winsmotief gedryf en geskep word.

 Die regering se onvermoë om die ekonomie en die land uit die verknorsings van ‘n bankrot en mislukte staat met steeds stygende begrotingstekorte en staatskuld, hoë werkloosheid, vernietigde staatsondernemings, geen ekonomiese groei, korrupsie en 'n rommelkredietstatus te verbeter, het nou uiters kommerwekkende vlakke bereik wat geensins volhoubaar is nie,” volgens Brink.