Spoorverkeer en die sogenaamde "Moffieripper"- van die Vrystaat- Suid Afrika

Spoorverkeer en die sogenaamde "Moffieripper"- van die Vrystaat- Suid Afrika

User Rating: 5 / 5

Star ActiveStar ActiveStar ActiveStar ActiveStar Active
 

Bewaringslandbou is deesdae die top besprekingspunt op al wat boeredag of seminar is.

Die voedselwaardeketting is die ander woord wat op elke Landbou Televisie program en sosiale media of besprekingsprogram aangespreek en bespreek word. Baie landbouers pas dit met sukses toe.

In die laat sewentigerjare het 'n paar Landbouers waarvan ek een was in die Noord Wes- Vrystaat begin met deklaagbewerking nadat ons uitgevind het hoe die sandgrond gekompakteer het met jarelange ploegaksie. Die ploegblad soos dit bekend gestaan het was op ongeveer 12 duim en dit was ongeveer tussen 3 en 6 duim dik.(Duime was die maatstaf in die sewentigjare)  Die blad het verhinder dat die mielies se wortelstelsels die vog en vry water kon gebruik wat onder die ploegblad vrylik beskikbaar was. Ons het letterlik gate gegrou en moes 'n pik gebruik om deur die blad te kom.

Landboukundiges het oral gate gegrou en met yster hammers die grond begin bestudeer. Ons moes implemente vind om die blad te breek.  Daar was op daardie stadium nie enige implemente beskikbaar om die aksie uit te voer nie. Twee wiel dryf trekkers was te swak. Viertrek of 4x4 trekkers was ook nog nie beskikbaar nie. Die eerste 4x4 trekkers het eers in 1978/79 die lig gesien. John Deere, Ford en Fiat was van die eerstes. Die baie bekende groot ACCO trekker wat in Hoopstad gebou is deur Koos Coetzer was het ook later sy verskyning gemaak.

Die platteland soos Wesselsbron, Hoopstad, Bothaville en omliggende gebiede het almal 'n plaaslike sweiswerke gehad en dis eintlik hier wat die spesiale implemente hulle onstaan gehad het op aanbeveling van ons. Die "Rippers" die Rolmoere en merkers.  

Bewerkingsdiepte op sandgrond: Hoe diep is diep genoeg? - Vrystaat Suid Afrika

Met baie min Kilowatt tot hulle beskikking het 'n paar Landbouers die sogenaamde " Moffie-ripper"(agtermekaarpen) laat ontstaan met twee tande wat amper 1-meter diep onder die ploegblad kon inkom en met baie swaarkry getrek was deur 'n tweewiel trekker van 45 Kw plus. Dit was ook die ontstaan van "Spoorverkeer" en “Rip op die Ry” waar 'n land vooraf uitgemeet is volgends ry wydte om alle werk wat gedoen word op een spoor te laat plaasvind. Dit was groot uitmeet en beplanning. Twee diep spore is agter die trekker se eie spore gemaak met 'n skaar wat 'n "varkoor" genoem is en merkers is aan beide kante gebruik om 'n merkerspoor te laat om elke keer weer op werk. Alle bewerkings het op die spore plaasgevind.

Hierdie was ‘n groot onwikkeling in Landbou omdat daar drasties afgewyk is van die ou ploeg en plantmetode. Boere in ander gebiede van die land het ons besoek om meer te sien en te leer. Boere het ook vir eerste keer meer geleer oor die tipe grond en wat onder die grond gebeur.

Landbouers is aangeraai deur landboukundiges om die stoppel van die vorige oes op die land te los en nie in te werk nie. Dit het bekend geword as Deklaagbewerking. Om die stoppel stukkend te kry na 'n Stroper met 'n plukkerkop daaroor is,was 'n ander implement ontwerp, naamlik die "Rolmoer" .. Dit was basies 3 dik pype op aste en rolaars in 'n 3 punt raam, met halfmaan skottelskare wat aan die dikpype was gesweis was en plat op die grond geloop het en met 'n baie hoe spoed getrek is. Dit het die stoppel stukkend geslaan wat die plantproses sou vergemaklik- Die bestaande planters moes ook verander word om die stoppel weg te neem van die saadbed. – die skottels was genaamd ( “Forrow openers”).

Dit was 'n groot omwenteling in Saaiboerdery en nie almal wou daaraan byt nie. Die eerste resultate van die geen bewerking en "Rip op die Ry" het in 1980/81 soveel mielies opgelewer dat al die graansilos vol was en daar geen Sleepwa of vragmotor te koop was nie. "Moffierippers" is in massas vervaardig en oral ingespan en was hoog in aanvraag. Dit het ook die verkoop van 4x4 trekkers laat toeneem in die begin tagtigerjare.

Met 'n opbrengs van 2 ton plus het landbouers met die bewerking dit verdubbel na 5 ton plus- en teen 'n mielieprys van R400 plus was dit baie geld.  Claas stropers wat deur Vetsak bemark was, het soveel stropers verkoop dat Landbouers 'n oorsese vakansie saam met die stroper gekry het. Oral is gate gegrou tydens  die groei proses en landbouers het met groot verwagting gesien hoe hierdie wortelstelsel deur die bladopening beweeg en 'n enorme wortelstelsel in die natgrond ontwikkel wat mielies deur die sogenaamde droe tydperk van Januarie gedra het.

Met die bewerking is landbouers aangeraai om geen vee op hulle lande meer te laat wei nie, want dit veroorsaak verdigting. Presies 35 jaar later- is dit nou 'n moet om jou lande weer te bewei- Nuwe name soos -Deklaagbewerking-Spoorverkeer- Ploegblad, Verdigting, Moffieripper, Rolmoer, Varkoor en nog meer was op almal se lippe- vandag is dit Bewaringslandbou. 

Kyk gerus hoe staan die implemente nog rond op plase en ander plekke. Die ontwikkeling van baie soorte implemente wat vandag baie waarde toevoeg tot Saaiboerdery het in daardie jare die lig gesien. Meeste van die implimente is verder ontwikkel en vergroot om aan te pas by vandag se bewerking metodes.

Soveel kennis is deur jare opgebou en vandag se landbouers het soveel hulpmiddels tot hulle beskikking om alles te weet wat in die grond aangaan.

Dis wel meer as 40 jaar terug wat ons hierdie drasties stap geneem het maar dit was ‘n voorreg en ‘n uitdaging om deel te kon wees van hierdie drasties ommekeer in bewerking wat finansieel tot almal se voordeel gewees het.

  

Johann Pretorius  CRA Group Pretoria   (As jy enigsins iets wil byvoeg stuur dit aan This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.