Om die impak van verdigting op sandgrond te verminder, is dit dalk nodig om verskillende bewerkings af te wissel.
Deurlopende proewe in een van Suid-Afrika se belangrikste mielieproduserende streke, die oorsprong van sowat ’n vyfde van die land se mielies, bied al hoe meer antwoorde oor optimale dieptebewerking vir die hoogste opbrengs en beste dieselverbruik.
’n Belangrike nuwe vraagstuk is afwisselende bewerkings in geenbewerkingsomstandighede. Die sandgrond van die Noordwes-Vrystaat het besondere eienskappe.
Eerstens is die klei-inhoud van die boonste gedeelte van die profiel onder 10%, en naby die oppervlak is dit soms laer as 5%. Deeltjie-groottegewys bestaan die sand hoofsaaklik uit medium- en fynsand.
In die afwesigheid van genoeg klei om deeltjies te bind, is die grond besonder kwesbaar vir winderosie en verdigting. Die verdigting ontstaan gewoonlik op 25 cm of dieper en dit kan die groei van gewasse se wortels ernstig beperk.
Sodra die wortelgroei deur verdigting beperk word, kan dieperliggende grondwater en veral die tydelike watertafel wat dikwels ontstaan, nie benut word nie. Die resultaat is dat die opbrengs deur “droogte” beperk word.
Die ontwikkeling van groter en kragtiger trekkers in die 1960’s en 1970’s het die moontlikheid van omvangryker bewerkings moontlik gemaak. Só het die rip-op-die-ry-bewerking gedurende die 1970’s ná heelwat navorsing en ontwikkeling beslag gekry om die beperkings te oorkom.
Enersyds word die grond diep genoeg losgemaak om enige verdigting op te hef, en andersyds om soveel moontlik oesreste op die grond te laat om winderosie te bekamp.
Hierdie rip-op-die-ry-bewerking het die potensiaal van die Noordwes-Vrystaat vir gewasproduksie ’n aansienlike hupstoot gegee. Dit is veral in droër seisoene van besondere belang as die dieperliggende opgebergde grondwater benut moet word.
’n Behoorlike aanbeveling oor hoe diep die bewerking moet wees, was en is steeds vaag. Algemene stellings soos “bewerk diep genoeg om die verdigting op te hef” word gehoor, maar hoe diep is dit werklik?
Wat soms ook verwarring veroorsaak, is dat ’n bewerkingsdiepte van 40 cm in ander streke en lande as “diep” bewerking beskou word. Is 40 cm diep genoeg in die sandgrond van die Noordwes-Vrystaat?
Proef só benader
Een van die aspekte waaraan die Sandgrondontwikkelingskomitee (SOK) sedert 2016-’17 aandag gee, is om bogenoemde vraag te probeer beantwoord.
Een van die medewerkers, mnr. Thabo van Zyl van Wesselsbron, het vir vyf seisoene ’n proef met ’n behoorlike statistiese uitleg op die plaas Doornbult by Bothaville uitgevoer. Die grondvorm is Avalon en die familie Blackmoor.
Die grondprofiel se klei-inhoud is 6% van die oppervlak tot op 60 cm-diepte en neem dan op 80 cm-diepte toe tot 12%. Op ’n diepte van 100 cm is die klei-inhoud 14%. Die produksiestelsel wat gevolg word, is drie seisoene agtereenvolgens mielies, gevolg deur een seisoen sojabone.
Aan die begin van die proef is die bewerkingsrigting met 30 grade vanaf die vorige seisoen verander. Bewerkings is op dieptes van 45 cm tot 90 cm gedoen met ’n tandemskeurploeg waarvan die tande 76 cm uit mekaar gespasieer is.
Die skeurploeg se diepste tand het ’n dwarsskaar wat 10 cm breed is, en die vlakker tand van sowat 20 cm se skaar is 30 cm breed. ’n Trekker wat ’n kraglewering van 70 kW per tand het, word gebruik om die tandemskeurploeg met sy ses stelle tande teen ’n spoed van 6 km/h te trek.
Bepaalde bewerkingsdieptes is jaarliks op dieselfde persele herhaal en beheerde spoorverkeer is streng met alle aksies toegepas. ’n Sestien-ry-planter met 76 cm-ryspasiëring is gebruik.
Twee plantereenhede is verwyder om twee 152 cm-bane oop te laat wat as tweespoorpad vir ander aksies gedien het. Gedurende die eerste vier seisoene is mielies verbou en in die vyfde seisoen sojabone.
Ekstra persele is in die vyfde seisoen bygevoeg waarop geen skeurploegbewerkings toegepas is nie. In die voorafgaande seisoen was die bewerkingsdiepte 75 cm op die betrokke persele.
Spoorverkeer en die sogenaamde "Moffieripper"- Suid Afrika
Dieselverbruik
Dieselverbruik word deur verskeie faktore bepaal, onder meer die diepte van bewerking, die waterinhoud en digtheid van die grond. Hoe dieper bewerk word en hoe droër en digter die grond is, hoe hoër is die dieselverbruik.
Selfs die verandering van die ry- en bewerkingsrigting beïnvloed die dieselverbruik. Sodra die ryrigting verander word, word die verdigte “tweespoorpad”, wat tydens die vorige seisoen ontstaan het, weer bewerk.
Die resultate wat verkry is, illustreer die invloed van bewerkingsdiepte en gronddigtheid weens rigtingverandering goed. Soos logies verwag is, het die dieselverbruik met bewerkingsdiepte toegeneem, soos in Grafiek 1 gesien kan word.
Tydens die eerste seisoen met die verandering van die ryrigting was die dieselverbruik aansienlik hoër as in die daaropvolgende seisoene waar daar jaarliks op dieselfde plek of ry bewerk is.
Vanaf ’n diepte van 45 cm het die brandstofverbruik, waar die ryrigting verander is, met 5,8 liter/ha toegeneem per 10 cm- toename in die bewerkingsdiepte.
Die ooreenstemmende dieselverbruiktoename waar die ryrigting nie verander is nie, was 3,8 liter/ha.Vir ’n bewerkingsdiepte van 75 cm was die verskil ’n aansienlike 10 li- ter/ha. Om dus jaarliks op dieselfde plek in ’n beheerde spoorverkeerstelsel te bewerk, maak uit ’n besparingsoogpunt sin.
Mielie-opbrengs
In die vier seisoene waarin mielies verbou is, is die graanopbrengs in die twee droër seisoene sterk beïnvloed deur die bewerkingsdiepte tot op ’n diepte van 75 cm (Grafiek 2). Bewerkings dieper as 75 cm het geen opbrengsverhoging tot gevolg gehad nie.
Die opbrengstoename tussen die bewerking van onderskeidelik 45 cm en 75 cm diep was gemiddeld 0,73 t/ ha vir elke 10 cm wat dieper bewerk is.
Met die huidige diesel- en graanprys is die koste om dieper as 45 cm te bewerk, besonder klein in vergelyking met die inkomste wat met opbrengsverhoging gepaard gaan.
In die twee natter seisoene is die opbrengs glad nie deur die diepte van bewerking beïnvloed nie. Om 45 cm diep te bewerk was net so goed as om 75 cm diep te bewerk.
Gedurende die eerste van dié seisoene waartydens droogte geen, indien enige, rol gespeel het nie, was die gemiddelde opbrengs 8,4 t/ha. In die tweede seisoen was die gemiddelde opbrengs van al die bewerkingsdieptes slegs 2,8 t/ha weens versuiping.
Duidelik speel ’n seisoen se reënval ’n bepalende rol in die optimale en winsgewendste bewerkingsdiepte. Die voorspelbaarheid van ’n komende seisoen se reën op ’n bepaalde plaas bly onmoontlik.
Afgesien van die hoeveelheid reën het ondervinding geleer dat die verspreiding van reën deur die seisoen ’n baie groot invloed op die prestasie van gewasse het. Die boodskap vir mielies is dus: Bewerk die grond 75 cm diep en moenie onnodig die ryrigting verander nie.
Sojaboonopbrengs
Die opbrengs van sojabone is, soos met mielies, ook sterk deur die bewerkingsdiepte van 45 cm tot 75 cm beïnvloed. Die opbrengs het met 0,36 t/ha toegeneem vir elke 10 cm wat dieper bewerk is, tot op ’n diepte van 75 cm (Grafiek 3).
Die sojaboonpatroon stem dus ooreen met dié van mielies en die boodskap is dieselfde: Vir die beste resultate, bewerk 75 cm diep. Die invloed van bewerkingsdiepte is, aan die bogroei beoordeel, gewoonlik onopvallend. Die invloed op die opbrengs is gewoonlik duidelik (sien foto hiernaas).
Onbeantwoorde vrae
’n Baie belangrike vraag is of dié resultate ook op ander dele van die Noordwes-Vrystaat met soortgelyke grond van toepassing is. Teoreties beskou, behoort grond waarvan die tekstuurpatroon van die profiel verskil, bes moontlik ’n ander bewerkingsdiepte te vereis.
Só kan ’n skerper toename in die klei-inhoud met diepte van die profiel dalk ’n vlakker bewerking vereis. Om die vraag te beantwoord, is verdere navorsing nodig.
Met die voortdurende styging van bewerkingskoste is ’n tweede vraag of dit nie dalk sin maak om slegs elke tweede seisoen ’n diepskeurploegbewerking toe te pas nie.
Dit sou met ander woorde behels om bewerking en geenbewerking seisoensgewys af te wissel met die behoud van beheerde spoorverkeer en posisie van die plantrye.
’n Moontlike afname in die opbrengs weens geenbewerking kan dalk kleiner wees as die koste van ’n skeurploegbewerking van 75 cm diep. Dié moontlikheid is deur mnr. Lourens van der Linde, ook ’n SOK-boeremedewerker naby Wesselsbron, ondersoek.
Slegs twee jaar se resultate is beskikbaar en, soos klokslag, speel die reënval ’n belangrike rol in die resultate. In die eerste seisoen was die mielie-opbrengs van die geenbewerking sowat 10% of 0,87 t/ha laer as die opbrengs van die seisoenale bewerking.
In die tweede seisoen was die opbrengs van die geenbewerking weer 4% hoër as die opbrengs van die jaarlikse bewerking. Heelwat navorsing is ook oor dié aspek nodig.
As ’n mens na die bogroei kyk, kan die invloed van die bewerkingsdiepte gewoonlik nie juis gesien word nie. Die invloed op die opbrengs is egter duidelik. Die sojabone links is dieper bewerk, en die regterkantse gewasse vlakker.
Mnr. André Nel is ’n onafhanklike landboukundige. Hy het dié artikel geskryf met die samewerking van mnre. Danie Beukes, Thabo van Zyl en Lourens van der Linde, almal medewerkers van die Sandgrondontwikkelingskomitee, wat met die finansiële steun van die Mielietrust onafhanklike agronomiese navorsing op die watertafelsandgrond van die Noordwes-Vrystaat doen.