Rooivleisbedryfsforum se standpunt oor uitvoere van lewendehawe per see- Suid Afrika

Star InactiveStar InactiveStar InactiveStar InactiveStar Inactive
 

Die Rooivleisbedryfsforum ondersteun die handel van lewendehawe en vervoer per skip indien dit eties en sonder enige dieremishandeling gedoen word.

Plaaslike wetgewing sowel as die beginsels en riglyne soos uiteengesit deur die wêreld-organisasie vir dieregesondheid, die OIE, moet in die afwesigheid van Suid-Afrikaanse riglyne die uitvoere van lewendehawe vanaf Suid-Afrika regeer.

Agri SA, Agri Oos-Kaap, die Nasionale Wolkwekersvereniging, die SA Voerkraalvereniging, die SA Varkvleisprodusente-organisasie, die Rooivleisprodusente-organisasie en die Rooivleisbedryfsforum wil dit kategories duidelik maak dat skepe wat betrokke is by die uitvoer van lewendehawe al die prosedures en riglyne binne die OIE-standaard sal moet volg en aan die voorwaardes sal moet voldoen soos wat deur die regering gesertifiseer word. Al Mawashi het ‘n aansoek by die hof ingedien om ‘n interdik wat die skip in die Oos-Londense hawe verhoed om met lewendige skape na Koeweit te vertrek, ter syde te stel of aan te pas. Uitspraak is voorbehou tot Dinsdag, 30 Junie.

Die Rooivleisbedryfsforum is verlof toegestaan om toe te tree as ‘n respondent in hierdie hofsaak tydens ‘n vorige verhoor.

Daar is op 25 Junie aangevoer dat die besending en die vaartuig nie aan die OIE-riglyne en die Dierebeskermingswet voldoen nie. Die Rooivleisbedryfsforum se regspan het beklemtoon dat die Forum die handel van lewendehawe per see ondersteun, maar sodanige handel met voldoen aan die minimumstandaarde soos wat dit in die OIE-riglyne uiteengesit word.

Volgens die Rooivleisbedryfsforum se regspan kon geen bewyse van voldoening voorgelê word nie. Die Rooivleisbedryfsforum se regspan het daarom die interdik ondersteun totdat bewyse van voldoening voorgelê kan word. ‘n Hofuitspraak sal op Dinsdag, 30 Junie gelewer word. Die finale hofsaak is geskeduleer om op 16 Julie 2020 plaas te vind.

Die Rooivleisbedryfsforum en sy lede wil die volgende duidelik maak :-

  • Dieregesondheid is van die uiterste belang.
  • ‘n Standaard moet in plek wees om uit te voer.
  • In die afwesigheid van ‘n eie standaard behoort die OIE se standaard as ‘n minimum-standaard te dien.
  • Handel is uiters belangrik, onderhewig aan ‘n standaard.
  • Standaarde moet deur die regering afgedwing word.

Dit is die instruksies aan die Rooivleisbedryfsforum se regspan vir die hofsaak wat vir 16 Julie 2020 geskeduleer is.

Die Rooivleisbedryfsforum het dit in ‘n vorige persverklaring duidelik gemaak dat hy ‘n direkte en aansienlike regsbelang by die uitvoer van lewendehawe per see het en nadelig geraak mag word deur ‘n hofbesluit aangesien die Forum die belange en beeld van die rooivleisbedryf beskerm en bevorder. Die Nasionale Dierebeskermingsvereniging se hofaansoek kan indien dit suksesvol is, ‘n direkte impak en bedreiging op die Suid-Afrikaanse rooivleisbedryf hê. Daarom is die Forum baie besorg oor die hofaansoek.

Indien die Forum nalaat om ‘n rol in die aansoek te speel en sou dit gesien word dat die Forum wreedheid teenoor diere goedkeur, wat hoegenaamd nie die geval is nie, kan die rooivleisbedryf se beeld ernstige skade berokken word en die gevaar bestaan dat die algemene publiek en die verbruikers van rooivleis se vertroue afgebreek en selfs heeltemal vernietig kan word.

Om dié redes het die Forum, as rentmeesters van die rooivleisbedryf, besluit om deel van ‘n oplossing vir die bedryf te wees met die volgende standpunt: Enige aksie om die vervoer van diere per see te verhoed sal ondersteun word as daar enige bewyse van wreedheid teenoor diere is. Die OIE se kode vir die vervoer van diere per see, hoofstuk 7.2, is tans die dokument wat as riglyn in dié verband dien.

Die Nasionale Dierebeskermingsvereniging se aansoek om ‘n oorkoepelende verbod op die vervoer van lewendehawe per see word egter nie ondersteun nie.