Die alternatiewe rondom ‘n IMF lening.- Suid Afrika

Star InactiveStar InactiveStar InactiveStar InactiveStar Inactive
 

‘n Lening van die Internasionale Montêre Fonds (IMF) is in sekere omstandighede ‘n besliste opsie om te oorweeg.

Die IMF is egter nie ‘n hulpverleningsorganisasie wat geld uitdeel nie. ‘n IMF lening gaan gepaard met ‘n IMF program waarin hulle vereistes stel en waarborge soek, en hulle soek hulle geld terug en wil ‘n wins maak. Dit is glad nie verniet of in die vorm van ‘n skenking nie.

Tans verkoop Suid-Afrika se staatseffekte maar traag, en met al die huidige negatiewe ekonomiese aanwysers en afgraderings is dit onduidelik waarmee ‘n IMF lening terug betaal kan word. Daarby sit ons met ‘n regering wat absurde konsepte soos wit monopolie kapitaal in sy balansstate in fantaseer en radikale ekonomiese transformasie as ‘n tipe van word-gou-ryk skema probeer verkoop. Dit is die rede waarom die regering self ‘n beleggingverskrikker (“investment repellent”) geword het.

Een belangrike faktor wat hier ‘n rol gaan speel is die huidige regering se herverdelingsprogram wat goed op dreef is. Ekonomies aktiewe Suid-Afrikaners verdra dit maar omdat hulle hier bly en belange hier het, maar die IMF gaan nie miljoene hier inpomp wat onoordeelkundig herverdeel word en in nie-rentedraende reise, duur motors, munisipale geknoeiery en hoenderpakkies belê word nie.

Die IMF se oorsprong en setel, en gevolglik sy denke en beginsels, is gevestig in die Weste en Westerse kapitalisme. Sedert die 2008 internasionale finansiële krisis het die Weste in teenstelling met die res van die wêreld die vinnigste herstel, en groei lande met vry Westerse kapitalistiese ekonomiese stelsels groter en vinniger as op enige stadium in die geskiedenis. Dit is debatteerbaar of die IMF enigiets anders as so ‘n stelsel kan ondersteun, want sy lede sal hulle vereistes stel.

Ons sit dus nie met ‘n suiwer finansiële ekonomiese probleem nie, maar met ‘n politieke ekonomiese probleem waarvoor daar net een uitweg is—‘n nuwe regering. Ons moet onsself hiervoor gereedmaak, want die hele internasionale gemeenskap beweeg weg van Suid-Afrika af, en daar is niemand wat hulle meer kan oortuig die huidige regering is die een wat die wa deur die drif gaan trek nie. 

 

Johan de Klerk, Praktiserende Prokureur, Pretoria.