Danksy die kanteling van die aarde se denkbeeldige as, is ons wêreld nie naastenby die eentonige plek wat dit andersins sou gewees het nie. Hierdie as hel met ’n hoek van 23,5 grade oor op die vlak van ons planeet se kringbaan om die son en wys altyd in dieselfde rigting.
Die gevolge is dramaties vir die mense wat nie in die tropiese dele van die aarde woon waar dit regdeur die jaar warm is nie…
FEITLIK alles wat ons in die hemelruim daarbo waarneem, is sinsbedrog. Nie een van die sterre is soos hulle vandag lyk nie, maar soos hulle tientalle, honderde, duisende of baie meer jare gelede gelyk het toe die lig wat ons hulle nou sien uitstraal die lang tog na die aarde begin het. Al beweeg lig teen ’n duiselingwekkende snelheid van sowat 300 000 km per sekonde, neem dit die lig van ons heel naaste buur-ster nog omtrent 4,3 jaar om ons te bereik.
Die enigste ster wat net ’n hanetreetjie van ons is—gemiddeld
149 600 000 km ver—is die son, waarvan die lig ná slegs iets meer as agt minute op die aarde aanland.
Nog ’n yslike illusie is die oënskynlike beweging bedags van die einste son oor die hemelkoepel bokant ons. Ons weet natuurlik almal dat dit nie rêrig die son is wat om die aarde beweeg nie, maar dat die son relatief tot die aarde “stilstaan” terwyl die aarde om sy eie as wentel.
Ons weet ook daardie aardas is denkbeeldig—daar is nie werklik ’n as wat regdeur ons planeet loop nie, maar dit is tog die spil waarom ons planeet wentel soos ’n speelgoedtol rondom sy middelspyker.
Die wenteling van die aarde om sy as word sy rotasie genoem, en dié rotasie sorg vir die verskynsel van dag en nag. Die aarde roteer een keer in 24 uur om sy as. Dit is een van die twee belangrike bewegings van die aardbol.
Die tweede belangrike beweging is die aarde se voortdurende rondtomtalie in ’n kringbaan om die son. Daar is een omwenteling, of revolusie, in elke sonjaar, oftewel in nagenoeg 365 en ’n kwart dag.
(Daar is nog ’n beweging van die aarde, die revolusie saam met die son om die middelpunt van die plaaslike sterrestelsel—die Melkweg—maar dit vind oor só ’n baie lang tyd plaas dat dit ons, sover ons weet, glad nie raak in die kort tydjie wat ons hier op aarde beskore is nie.)
Die aarde se betreklike nabyheid aan die son maak dat feitlik alle lewe hier regstreeks of onregstreeks vir hul energie totaal afhanklik van hierdie vurige hemelliggaam is. Die son veroorsaak ook allerhande klimaatverskynsels op die aarde.
Maar as die aarde se draai-as penorent sou gestaan het op die vlak van sy baan om die son, sou ons wêreld ’n bra eentonige plek gewees het om op te woon. Die son sou gedurig loodreg op die ewenaar (’n denkbeeldige lyn om die middel van die aarde, halfpad tussen die pole) geskyn het en ons sou nooit die afwisseling van somerhitte en winterkoue geken het nie. Plante sou ook nooit ’n wintertydse rus gehad het om daarna met hernieude groeikrag te ontluik nie.
Gelukkig is dit egter anders. Pleks daarvan dat die aarde se draai-as loodreg op sy jaarbaan om die son staan, staan dit skuins. Dit hel naamlik met ’n hoek van 23,5 grade op die jaarbaan oor—en wat meer sê, die as wys ook altyd in dieselfde rigting.
Ons platteland in Suid Afrika lyk alweer aantreklik maar die inwoners moet beheer neem.
Die as korrel naamlik noordwaarts in die rigting van die Poolster, tans Polaris, ook bekend as Alpha Ursae Minoris, in die konstellasie Ursa Minor (Klein Beer). Omdat Polaris so ontsettend ver van die aarde af is, wys die aardas steeds soontoe, ongeag waar die aarde hom ook al op sy baan om die son bevind.
(Die Poolster is weliswaar nie altyd dieselfde ster nie. Met verloop van eeue vind daar verskuiwings in die as plaas waardeur ’n nuwe ster elke paar duisend jaar die Poolster word.)
Hoe ook al, die skuinste van die aardas het ’n uiters belangrike gevolg. Die son bestraal elkeen van die twee halfronde van die aardbol ses maande lank om die beurt méér as die ander deel. Die twee helftes suid en noord van die ewenaar word die Suidelike en Noordelike Halfrond genoem. Wanneer dit somer in die een halfrond is, skyn die son min of meer loodreg op daardie halfrond, terwyl die ander deel winter het omdat die son se strale meer skuins daarop val.
Strale wat die aarde loodreg tref, verskaf meer hitte en lig as strale wat skuins val. Waar hulle die grond bereik, is die lig gekonsentreerd. Skuins strale moet deur ’n groter dikte van die atmosfeer beweeg en verloor baie van hul hitte. Omdat hulle die grond skuins bereik, word die lig oor ’n groter gebied versprei.
Nog denkbeeldige lyne, die sogenaamde Steenbokskeerkring en Kreefskeerkring, onderskeidelik suid en noord van die ewenaar, is waar die son se strale in Desember en Junie die meeste loodreg val. Wanneer dit gebeur, word van ’n sonstilstand gepraat.
Ons kan self hierdie skynbare verskuiwing van die son in die hemelruim sien. In die lente, namate die dae langer raak, lyk dit of die son elke dag hoër oor die hemel beweeg. Die dag waarop die somerson sy hoogste middagpunt bereik, is die somer-sonstilstand. Dit is ’n dag of drie, vier voor Kersfees en dan het ons die langste dag van die jaar—die somer het “amptelik” aangebreek.
In die volgende ses maande is die middagpunt al hoe laer in die hemelruim. Die dag waarop die son sy laagste middagpunt bereik en “stilstaan” om sy draai te maak—teen 20, 21 Junie—begin ons winter. Dit is ons winter-stilstand in die Suidelike Halfrond. In die Noordelike Halfrond gebeur dinge vanselfsprekend andersom.
In die lente en herfs (September en Maart) val die son se strale die meeste loodreg by die ewenaar.
Die temperatuurwisselings en lengte van die daglig wat met die seisoensveranderinge gepaard gaan, verskil aanmerklik namate ’n mens van die ewenaar af in die rigting van die pole beweeg. By die pole is die somer een lang dag en die winter een lang nag. Naby die ewenaar, daarenteen, bly die dae en nagte regdeur die jaar sowat twaalf uur lank.
Herfs is 2 maande weg. Hierdie tyd van die jaar gebeur dit ook vele kere dat ek herfs in my siel beleef. Die somer geskarrel van onthaal, kuier, mense ontmoet – en selfs ou bekendes wat tog te besig was vir ‘n somer kuier – hierdie tyd van die jaar dan voel ek soos ‘n Populierboom in die Oos Vrystaat. Die blare hang lossies. Met die minste geritsel van die wind, val hulle af. Blare wat soos klere, die geraamte van die mens en boom mooi tooi. Dan lê die siel oop en bloot. Ek self, die groot stam wat vas ge-anker is in die aarde. Oral groei takke uit. Famielie en vriende wat deur die jare al so deel geword het van my bestaan. Soms gaan ‘n tak aan ‘n boom dood, so ook mense. En dan die nuwe seisoen se kleiner takkies, wat nog nie sterk aan die boom vashou nie. Party het met genoeg krag gekom om permanent deel te bly van die boom. Ander val saam met die blare af.
Herfs is die seisoen vir skoon maak, en ook vas maak. Vas hou aan dit wat waardevol is.