Agri X Gholfdag: Projek om kinderhuis selfversorgend te maak, suksesvol afgeslaan-  Suid Afrika

Agri X Gholfdag: Projek om kinderhuis selfversorgend te maak, suksesvol afgeslaan- Suid Afrika

Star InactiveStar InactiveStar InactiveStar InactiveStar Inactive
 

‘n Suksesvolle gholfdag is op Donderdag 17 Februarie by die Waterkloof Gholfklub aangebied as deel van ‘n fondsinsamelingprojek van die Agri X Groep en Kleinskuur Aquaponics om ‘n akwaponiese stelsel by die President Kruger Kinderhuis in Villieria, Pretoria, op te rig.

Die stelsel sal die Kinderhuis help om grootliks selfversorgend te raak ten opsigte van die voorsiening van gesonde, vars groente en vis aan die 64 kinders en hulle versorgers.

Die Agri X Groep se betrokkenheid by die Kinderhuis vorm deel van dié groep se inisiatief om  landbougemeenskapsontwikkeling te bevorder. Koos Nel, hoofuitvoerende beampte van die Agri X Groep, is ‘n bekende skeppende denker en sy droom is om ‘n verskil te maak deur sake-ontwikkeling in die landbouwaardeketting.

Die maatskappy se waardestelsel word uitgebou deur die groep se sterk fokus op netwerkvorming en die skep van platforms om groepe en landbouprojekte te ondersteun, soos die projek om die President Kruger Kinderhuis selfonderhoudend te maak.  

Samewerking tussen die Agri X Groep en Colin en Annemarie Bremner van Kleinskuur Aquaponics, het gelei tot die skep van ‘n fonds waarin alle geld wat benodig word vir die installasie van die akwaponiese stelsel inbetaal kan word. Die Gholfdag was die eerste projek vir die fondsinsameling en ‘n tweede golfdag sal in Mei 2022 gehou word.

Die totale bedrag wat benodig word is R470 000. Na die gholfdag is die eerste R125 000 in die rekening inbetaal en heelwat nuwe vriendskappe is gevorm met die belofte van verdere ondersteuning.

Die Covid-19-inperkings het ‘n groot negatiewe uitwerking op die Kinderhuis se ondersteuning vanuit die korporatiewe gemeenskap gehad. Die gewone jaarlikse projekte ten bate van die Kinderhuis, soos musiekkonserte, damestees en ander funksies kon ook nie plaasvind nie en dit het tot ernstige geldelike tekorte op die afgelope twee jaar se begrotings gelei. Die staat se maatskaplike befondsing is wisselvallig en onbetroubaar en die Kinderhuis moes baie dringend alternatiewe opsies oorweeg om selfvoorsienend te raak in die produksie van varsprodukte vir gesonde en voedsame maaltye.

Die installasie van die akwaponiese stelsel is meerdoelig. Dit sal die Kinderhuis in staat stel om in die daaglikse behoefte aan varsprodukte te voorsien en die oorskotprodukte te verkoop om die bedryfskoste van die stelsel te dra. Wins wat gemaak word deur waardetoevoeging tot produkte kan gebruik word vir ander behoeftes van die kinders soos  die aankoop van sportklere en -toerusting.

Die stelsel sal onder toesig van Kleinskuur Aquaponics, deur die Kinderhuis self onderhou en bedryf word en ook bydra tot die kinders se begrip van sake-ontwikkeling, dissipline en verantwoordelikheid. Dit bied ook terapeutiese waarde en indiensopleiding vir  loopbaangeleenthede in landbou.

Die Agri X Groep sal in samewerking met Kleinskuur Aquaponics, die Kinderhuis ondersteun om ‘n onderneming te registreer vir eienaarskap van die stelsel, ‘n handelsnaam te vestig en etikette te ontwerp vir die verpakking en verkope van varsprodukte. Produkontwikkeling en waardetoevoeging sal ook aangemoedig word deur byvoorbeeld die maak van souse, pestos en verpakte maaltye wat verkoop kan word vir bykomende inkomste.

Kleinskuur Aquaponics beskou die projek as ‘n voorbeeld wat uitgerol kan word na ander instansies.

Die Agri X Groep steun Kleinskuur Aquaponics in die loodsprojek by die President Kruger Kinderhuis met die oog op uitbreiding van die stelsel na skole, kerke en instansies met behoefte aan die produksie van varsprodukte vir die verspreiding van voedsel onder behoeftige gemeenskappe in die bedieningsgebiede.

Kleinskuur Boerdery Aquaponics

Kleinskuur Boerdery Aquaponics is in 2016 gestig met die droom om ‘n akwaponiese stelsel vir Afrika te ontwikkel en oral op die vasteland op te rig. Die Kleinskuur-stelsel is robuust en ‘n nabootsing van ‘n natuurlike rivierstelsel. Dit is kostedoeltreffend met min onderhoud en maak gebruik van die son se groeikrag, gravitasie vir die vloei and water en geotermiese verhitting en verkoeling van water om die optimale toestande vir die visse en groente te skep.

Afvalprodukte van die visse word deur goeie, aerobiese bakterieë omskep in die voedingstowwe wat die plante nodig het en op hulle beurt suiwer die plante die water wat teruggaan na die visse.

Die stelsels het ‘n klein voetspoor, benodig relatief min elektriese krag (dit kan deur son- en windkrag aangedryf word) en kan op enige grond wat nie normaalweg vir landbou geskik is nie, opgerig word.