DIE MPO-STREKE SE TERUGBLIK OOR ʼN JAAR VAN UITERSTES- Suid Afrika

Star InactiveStar InactiveStar InactiveStar InactiveStar Inactive
 

Die Melkprodusente-organisasie (MPO) het die afgelope week ʼn reeks jaarvergaderings virtueel aangebied om terugvoer aan MPO-lede op streeksvlak te gee oor die jaar wat verby is.

Die eerste van hierdie geleenthede het op Woensdagaand 19 Augustus plaasgevind vir MPO Noord-streekslede. MPO Noord se voorsitter, Fanie Ferreira, beskryf die afgelope jaar as ʼn jaar wat onthou sal word vir sy uiterste gebeure. Die noordelike produksiegebied is finaal in 2020 onder een bestuur saamgebind en die areas sluit die Noord-Kaap, die Vrystaat, Noordwes, Gauteng, Mpumalanga en Limpopo in.

Dr. Chris van Dijk, uitvoerende hoof van die MPO, het by al drie geleenthede die suiwelbedryf se risiko’s, onsekerhede en geleenthede midde die COVID-19-pandemie uitgelig. Die belangrikste boodskap wat hy uitgedra het, was egter dat die melkbedryf nie ʼn verlaging in die produsenteprys van melk kan bekostig nie. Die produsenteprys-indeks vir onverwerkte melk toon sedert Januarie 2015 tot Maart 2020 ʼn sywaartste neiging in vergelyking met kleinhandelspryse van suiwelprodukte, volgens MPO Aanwyser 9 wat op 18 Augustus deur Bertus van Heerden, hoofekonoom van die MPO, uitgereik is.

Tydens die MPO Noord- en MPO Oos-Kaap-webinare het toekomskundige Pieter Geldenhuys ʼn oorsig gegee oor die tegnologie-golwe wat die toekoms voorspel en die wêreldekonomie dryf. In die winter van die vyfde tegnologie-golf is dit interessant dat stabiele tegnologie vinniger aanvaar word deur pryssensitiewe markte, omdat markte meer oop is vir verandering. Geldenhuys is van mening dat dit duurder gaan word om uit te voer na Suid-Afrika, wat plaaslike produksie die antwoord maak vir voedselsekuriteit. Geldenhuys deel ook ʼn gratis skakel na sy onlangse boek, Headlines from the future, met die webinaar-deelnemers.

Op Dinsdag 25 Augustus tydens die MPO Wes-Kaap-jaarvergadering, bevestig die voorsitter, Hannes Nel, dat daar 397 melkprodusente in die Wes-Kaap is, waarvan 70% MPO-lede is. Hy meld dat 31% van die afgelope jaar se melkvolume van die Wes-Kaap afkomstig was, net so ʼn kort koppie voor die 28% bydrae elk van KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap.

Nikki Weimar van Nedbank bied ʼn ekonomiese oorsig aan en sê dat Suid-Afrika skynbaar oor die ergste van die COVID-19-pandemie is te oordeel aan die oordragtempo, maar dat die pandemie-omstandighede steeds ʼn onvoorspelbare monster is. Suid-Afrika het die krisis in slegte vorm met swak leierskap binnegegaan en die COVID-19-pandemie het die slegte omstandighede net kom slegter maak. Daar was min lig aan die einde van die donker tonnel wat geskets is.

Die wêreldwye dieregesondheidsonderneming Zoetis stel Clarifide® Plus, ’n produk vir genomiese toetsing, bekend tydens die MPO Noord- en Wes-Kaap-webinare om die belangrikste eienskappe van koeie en kalwers in Suid-Afrikaanse melkbeeste te voorspel. Volgens dr. Chantelle Erwee, tegniese bestuurder van die herkouerafdeling by Zoetis Suid-Afrika, sal genomiese toetse melkboere help om spesifieke eienskappe by melkbeeste te identifiseer om te voorspel watter diere meer bestand is teen sekere duur siektes, soos mankheid, mastitis en longontsteking, sowel as dié met ‘n hoër potensiaal vir eienskappe soos melkproduksie, vrugbaarheid en produktiewe lewe.

Tydens die MPO Oos-Kaap se jaarvergadering op Donderdag 27 Augustus, lys die voorsitter, Zola Gebeda, verskeie bemarkingsgeleenthede waarby die lede die afgelope jaar aktief betrokke was. Hy plaas die klem op die nasionale MPO Projek Een-inisiatief tussen melkboere en -verwerkers wat tydens die COVID-19-grendeltydperk van stapel gestuur is. Deelnemende melkboere borg onder andere ’n gedeelte van hul daaglikse melkproduksie as deel van plaaslike kospakkie-inisiatiewe en reik sodoende uit na ons kwesbare gemeenskappe om hulle te ondersteun met voedsame melk en suiwelprodukte.

Dr. Craig Galloway lig drie groot risiko’s vir melkboere toe met betrekking tot water-rentmeesterskap, naamlik wetlike vereistes, watergehalte en watergebruiksdoeltreffendheid; en Adriaan Groenewald, regskenner, trap die nuutste waterwetgewing deur in die onderskeie Oos-Kaap-webinaaraanbiedinge.

Hartlike dank word weereens betuig aan die onderskeie hoofborge: Dairy-Smid en Zoetis van die MPO Noord-webinaar; Nedbank en Zoetis, hoofborge van die MPO Wes-Kaap-webinaar; en Die Koöperasie, FNB, Waikato/AfiMilk en Four Lakes, borge van die MPO Oos-Kaap-webinaar. Hierdie borge se voorgesette ondersteuning word hoog op prys gestel.

Voorsitterverslae, voorleggings, opnames en finansiële state vir die onderskeie streke se algemene jaarvergaderings is beskikbaar op aanvraag vir lede wat nie die geleenthede in Augustus kon bywoon nie. MPO KwaZulu-Natal se jaarvergadering sal later vanjaar saam met MPO Nasionaal se virtuele jaarvergadering en kongres op 4 November plaasvind. Bespreek gerus nou al jou plek by Julie McLachlan (This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.).