Landbou is baie meer as 20% produsente se aandeel - Suid Afrika

Star InactiveStar InactiveStar InactiveStar InactiveStar Inactive
 

Vrystaat Landbou (VL) beskou uitsprake dat 20% produsente altesaam 80% van Suid-Afrika se voedsel produseer as onverantwoordelik en gevaarlik. Só het Francois Wilken, president van VL, gesê nadat dié uitlatings onlangs in die media gemaak is.

Volgens hom word landbou in die Vrystaat as ’n geïntegreerde vennootskap tussen almal in die landbouwaardeketting beskou. Dit sluit kommunale, opkomende, kommersiële en sogenaamde megaboere, waarvan baie lede van georganiseerde landbou is, in. Landbou-ondernemings en -bedrywe, insetverskaffers, verwerkers en finansierders is almal kardinale rolspelers in die landbousektor.

“Om byvoorbeeld ’n paar groot beesvoerkrale as die voorsieners van vleis vir die land te sien, is oorvereenvoudig. Die beeste wat gevoer word, word deur die hele spektrum van produsente, ongeag die grootte van die boerdery, aan die voerkrale voorsien,” sê Wilken.

Gewone landbouers is belangrik

Hy meen om sekere dele van die waardeketting op te offer en die onvermoë van die regering, korrupsie en ideologiese opportunisme te verbloem, is gevaarlik en onregverdig. “Wanneer twee lokomotiewe byvoorbeeld 30 treinwaens trek, kan jy nie besluit om die waens eenvoudig af te haak en dan dink die lokomotiewe gaan in elk geval hul bestemming bereik nie.”

Volgens Wilken is landbouproduksie ook baie meer kompleks as net die produksie van stapelvoedsel. “Vat die wolbedryf as voorbeeld. Dit is ’n multimiljardrand-uitvoerbedryf, waar die wol soms in van die moeilikste dele van ons land deur gewone en kleiner landbouers geproduseer word.”

Hy sê daar is dus baie ander bedrywe wat ’n rol speel om die broodnodige buitelandse valuta te genereer. Wilken meen die sogenaamde ‘kleinboere’ is die landbouers wat die ekonomie van klein dorpies in stand hou en werk aan die ongeskoolde arbeidsmag verskaf.

Raak betrokke by gevestigde strukture

“Vrystaat Landbou bly, soos deur sy geskiedenis, verbind daartoe om die belange van al sy lede en landbou oor die algemeen te dien. Ons wil verseker dat elke produsent ’n regverdige en billike kans sal hê om sy passie uit te leef,” sê Wilken.

Volgens hom is dit belangrik dat landbouers by gevestigde strukture betrokke raak, deelneem en self hul toekoms bepaal.

“Ons moet ook bedag wees op die misbruik van die media, emosie en persoonlike aanvalle om korttermyndoelwitte te bereik,” sê hy. “Elke produsent moet verantwoordelikheid neem vir homself deur betrokke te raak en sy stem te laat hoor. Dit help nie om net met ’n wenslys te sit en hoop iemand gaan verbykom en dit waar maak nie.” – Persverklaring