Eskom: ’n gekweste bok, ’n ramptoestand en ’n eis dat die Ruyter afgegooi word

User Rating: 5 / 5

Star ActiveStar ActiveStar ActiveStar ActiveStar Active
 

'N KRISIS veel groter as dié van die gewelddadige oproer in Julie verlede jaar,  selfs groter as die Covid-19-pandemie. Dít is hoe ernstig die elektrisiteitskrisis nou is, met potensieel rampspoedige implikasies vir Suid-Afrika se stabiliteit.

Net die laaste week se kragonderbrekings kos die ekonomie in die koers van R20 biljoen, het 'n ekonomiese navorser gister vir my gesê, “en dan praat ons nie eens van sakevertroue en die land se prestige as 'n beleggingsbestemming wat ondermyn is of die impak op kleinsake en werkloosheid nie”.

As die krisis veel langer voortduur, gaan die ekonomiese groeikoers vanjaar dalk nader aan 1% as die gehoopte 2% of meer wees, en is 'n  kredietafgradering op hande.


Fase 8-beurtkrag, wat elektrisiteitsvoorsiening tot 10 uur per dag beperk, is nou nie meer net 'n doemprofesie nie.

Die probleem is dat die regering van Cyril Ramaphosa swak, rigtingloos en verdeeld is en vandag minder gesag en aansien het as enige regering sedert 1994, buiten dalk Jacob Zuma se laaste paar maande.

Ramaphosa se politieke teenstanders en ander opportuniste sien hom en sy regering as 'n gekweste bok, en die kragkrisis as die ideale geleentheid om met hom klaar te speel. Sy probleme met die Phala Phala-skandaal is boonop soos 'n blok aan sy been.

Ramaphosa se raadgewers glo die RET-faksie van die ANC, kop in een mus met die EFF en die vakbondgroep Numsa wat Ramaphosa se ou vakbond, die National Union of Mineworkers (NUM), nou op sleeptou geneem het, gebruik elke moontlike kans om die energiekrisis uit te buit om Ramaphosa verder te verswak. “Chaos is dié elemente se bondgenoot,” sê 'n bron in sy dampkring vir my.

Die topbestuur van Eskom het die laaste paar maande herhaaldelik beweer dat van sy kragstasies gesaboteer word. Dit is moeilik om 'n  ander motief as politieke ondermyning daaragter te sien.

Die eis dat die hoofbestuurder van Eskom, André de Ruyter, en sy operasionele regterhand, Jan Oberholzer, in die pad gesteek moet word, is besig om 'n crescendo te bereik.

As dit gebeur, kan Eskom dalk gou oor die afgrond stort. De Ruyter word blykbaar steeds deur Ramaphosa en die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, gesteun, maar die minister van energie, Gwede Mantashe, is een van sy felste kritici.

Elias Monage van die Black Business Council (BBC) het hom Woensdag by Julius Malema van die EFF se eis geskaar dat De Ruyter en Oberholzer summier die trekpas moet kry. Monage sê die BBC gaan die ganse ekonomie tot stilstand dwing totdat dit gebeur.

Die hoofsekretaris van Numsa, Irvin Jim, het dié week 'n skerp persoonlike aanval op die twee Eskomhoofde geloods en hulle as “wit rassiste” beskryf vir wie daar nie langer plek is nie.

Jim was ook die leidende figuur agter die onwettige staking van Eskom-werkers wat meegewerk het tot die instelling van fase 6-beurtkrag. Sy ou opponente in die NUM, 'n Cosatu-vakbond, het agter hom ingeval.

Minister Pravin Gordhan het dié week foto’s aan die media gewys van die intimidasie van werkers by kragstasies wat aanvalle met brandbomme op huise en motors ingesluit het.

Die ministers van energie en van arbeid, onderskeidelik Gwede Mantashe en Thulas Nxesi, was onsigbaar en tjoepstil oor dié staking, en die polisie het volgens alle getuienis bitter min gedoen om die intimidasie en verwoesting by kragstasies te beheer.

Ramaphosa het glo self Dinsdag ingegryp en 'n ooreenkoms tussen Eskom en die vakbonde bewerkstellig. Eskom het verhogings van 7% aangebied vir 'n werksmag wat reeds ver bo die gemiddelde betaal word. Die vakbond Solidariteit het gedreig om 'n hofbevel te kry om wetstoepassers te dwing om die hofbevel wat die staking onwettig verklaar het, af te dwing, iets wat Eskom nie self wou doen nie.

   HOE KAN ESKOM GERED WORD?- Suid Afrika

Die woordvoerder van die NUM, Livhuwani Mammburu, het Woensdag gesê die werkers vertrou nie meer Eskom se bestuur nie en beweer dat die “apartheid wage gap” onder De Ruyter steeds in plek is. (“Daar kan nie 'n groter leuen as dit wees nie,” was 'n Eskom-woordvoerder se kommentaar toe ek hom hieroor uitgevra het.)

Ontleders van die energiesektor soos prof. Mark Swilling van Stellenbosch se Centre for Sustainability Transitions pleit vir die afkondiging van 'n nasionale ramptoestand met spesiale maatreëls om beurtkrag binne twee jaar te beëindig.

“It is arguable that the consequences of further load shedding – that could eventually lead to a total collapse of the grid – would do far greater damage to the South African economy and society than the pandemic did in 2020 and 2021. If the pandemic justified the declaration of a national disaster, why not the threat of a deepening energy crisis,” skryf hy.

Swilling sê dit is absoluut onbetwisbaar dat die enigste tegnologie wat 'n oplossing binne twee jaar kan bring, wind en sonkrag is. Dit is egter nie hoe die minister van energie dit sien nie.

Nog 'n voorste energiekenner, Chris Yelland, bepleit 'n nasionale prioriteitsprojek waaraan alle ekonomiese sektore deelneem om 10,000 megawatt se wind- en sonkrag en 5,000 megawatt se stoorkapasiteit binne 24 maande te bou.

Die laaste keer dat Eskom fase 6-beurtkrag afgedwing het, was in 2019. Ramaphosa moes toe inderhaas 'n besoek aan Egipte kortknip. Dié week moes hy ewe inderhaas uit Duitsland terugvlieg waar hy 'n G7-beraad bygewoon het sodat hy 'n vergadering van 'n kabinetskomitee oor die krisis kon bywoon.

Die nagmerrie van fase 6-kragonderbrekings is 'n metafoor vir hoe die ANC die land regeer. Kom ek vertel jou hoe.

In 1998 het Eskom, toe nog 'n model-energiemaatskappy, die regering gewaarsku dat daar teen 2007 nie meer genoeg elektrisiteit sou wees as geen nuwe bronne geskep word nie. Dit is geïgnoreer, en in 2007 is beurtkrag die eerste keer ingestel.

Dieselfde jaar het die ANC se beleggingsmaatskappy, Chancellor House, 'n aandeel van 25% in die plaaslike been van Hitachi aangekoop, wat toe die tender gekry het om twee reuse-steenkoolkragstasies, Medupi en Kusile, te bou. Dié kragstasies kos toe dubbeld soveel as wat begroot is, is steeds nie klaar nie en die ontwerpfoute gaan jare neem om reg te maak.

In 2014 stel Jacob Zuma vir Lynne Brown as minister van openbare ondernemings aan. Die verhaal van staatskaping en grootskaalse korrupsie by Eskom met karakters soos Mosebenzi Zwane, Ben Ngubane, Anoj Singh, Brian Molefe en Matshela Koko ontvou in die Zondo-kommissie se verslag en gaan in die komende maande in die howe uitgespel word. Die steenkoolkragstasies is in die grond in gedryf en steenkool se prys het skerp gestyg.

Die gevolg was dat Eskom vandag minder krag as in 2007 lewer, maar die prys van elektrisiteit is veel hoër en die aantal werknemers het kwaai vermeerder, meestal met buitengewoon hoë salarisse.

In Desember 2014 stel Zuma sy adjunk, Cyril Ramaphosa, as hoof van die “Eskom War Room” aan om die probleme uit te stryk.

In 'n pas uitgereikte verslag van Meridian Economics, “Resolving the Power Crisis”, word onomwonde bevind dat as daar ná 2016 voortgegaan is met die REIPPPP (Renewable Independent Power Producer Procurement Programme), wat 5 megawatt sou kon lewer, Eskom in 2021 meer as 96% van die beurtkrag sou kon voorkom het. Dit sou boonop die hoeveelheid diesel wat in die turbines gebruik word om noodkrag op te wek, met 70% verminder het. Lees die verslag hier. 

Wel, Ramaphosa het darem toe uiteindelik die waarde van privaat opwekkers van son- en wind-energie begin besef en Mantashe onlangs gedwing om veel groter kapasiteit daarvoor toe te laat.

In 2020 word André de Ruyter as hoofbestuurder van die nou reeds aan flarde Eskom aangestel. Drie maande later dreig hy om te bedank as die raadslid wat hom valslik van korrupsie beskuldig het, nie bedank nie. De Ruyter oorleef twee ondersoeke na bewerings dat hy 'n rassis is.

Gwede Mantashe maak dit by elke moontlike geleentheid duidelik dat hy De Ruyter by die deur sou wou sien uitstap. Hy hou niks van De Ruyter (en die Eskom-raad) se voorstelle van 'n ambisieuse “just transition” na volhoubare energie nie. Sy teenstand word deur ANC-parlementslede geëggo wat sê die onafhanklike kragopwekkers gaan net wit mense ryker maak en swart werkers werkloos maak.

Mantashe bly die kern van die probleem. Hy moet sekerlik weldeeglik weet dat dit nie Eskom se taak is om nuwe kragbronne te ontwikkel nie, maar sy departement s’n – 'n taak wat hy tot onlangs weens sy verslaafdheid aan steenkool geweier het om uit te voer. De Ruyter klink al soos 'n langspeelplaat wat vashaak met sy oproep dat nuwe kragbronne gevind moet word.

En tog verklaar Mantashe Woensdag in 'n onderhoud met news24 oor die fase 6-beurtkrag: “It’s unfair to place blame on myself or the government. What should I do with Eskom as mineral resources and energy minister? The power utility is a matter which falls under public enterprises.”

Dit lyk baie na 'n dwarsklap na Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings. Gordhan het Woensdag self op Mantashe se energietone getrap toe hy op 'n perskonferensie gesê het rompslomp moet nie net verminder word nie, hy verkies “scrapping the damn red tape”. (Gordhan se eie posisie is ook nie meer so stewig ná sy omstrede hantering van die SAL-transaksie nie.)

Gordhan het die eerste aanduidings gegee dat die regering dalk nie heeltemal doof is vir pleidooie vir 'n noodliggaam wat die energiekrisis kan aanpak nie. “We have had that kind of discussion and we certainly take on board suggestions made. The government realises we cannot be pedantic and must respond with urgency and flexibility.”

Sê dit vir Gwede, Pravin. Of praat julle nie meer met mekaar nie?


Newsletter Subscribe