Suid Afrika kan die broodmandjie word as ons ons sokkies optrek

User Rating: 5 / 5

Star ActiveStar ActiveStar ActiveStar ActiveStar Active
 

SLAGGATE en beurtkrag is een ding, voedselsekerheid is ’n heeltemal ander storie. 

In die hiërargie van daaglikse rampe is voedseltekorte sekerlik naby aan boaan die lys, net onder suurstof en water wat betref die nodigheid vir oorlewing. Die risiko vir ’n globale voedseltekort is nader as wat ons dink, maar dit kan opgelos word, en Suid-Afrika kan ’n groot rolspeler daarin wees.

Wie sou kon dink dat ons in 2022 voedselsekerheid enigsins nog as ’n groot globale uitdaging sou beskou? Wie sou kon dink dat ’n sinnelose oorlog, gedryf (lyk dit vir my) deur die ambisies van een man, tot hierdie krisis sou lei?

Hier sit ons, relatief gelukkig (maar natuurlik nie almal van ons nie) dat ons darem basiese voedsel in groot genoeg hoeveelhede kan vervaardig sodat ons die surplus kan uitvoer. Ek het onlangs deur Noordwes gery, slaggate omseil, en deur dorpe gery wat in toestande van flagrante wanhoop verkeer, maar langs daardie selfde paaie staan duisende hektare sonneblomme, mielies en wat ook al nog. Saam met ’n paar van ons bure kán ons die wêreld se broodmandjie wees.

Die Russiese inval in Oekraïne (om dit oorlog te noem sou beteken al twee kante was lus vir baklei) het ernstige gevolge vir voedselsekerheid wat tot ver buite daardie streek strek. Albei lande is groot verskaffers van koring en sonneblomolie, en ook die vervaardiging van landbouprodukte soos kunsmis.

  Suid Afrikaanse landbouers moet bouers en Welvaartskeppers bly.

Ek sien ons het pas humanitêre hulp van Katar ontvang vir KwaZulu-Natal. Kom ons hoop dit word regverdig en sonder winsbejag versprei waar dit die nodigste is. Maar dalk is dit ons beurt om na vore te tree en te gee eerder as om te ontvang? Ons het, per slot van rekening, ’n groot klomp van al die natuurlike elemente relatief gesproke in ons guns. Dink jou in hoe die bui in die land kan verander, en al die werk wat geskep kan word!

Ryker lande en individue gaar voedselreserwes op en slurp wat hulle ook al nog in die hande kan kry op deur voorsieningskontrakte vir hulle toekomstige behoeftes aan te gaan. Die resultaat is duidelik. Ons het reeds gesien hoe die prys van basiese produkte opskiet, en in sommige gebiede lyk hongersnood na ’n tragiese moontlikheid.

Ons probleem is dat ons net nie ons dinge agtermekaar kan kry nie. Die natuurlike hulpbronne was ’n geskenk. Wat ons kort, is sentrale bestuur, regulatoriese instaatstelling, ondersteunende logistiek, finansies en infrastruktuur om hierdie behoefte te vervul en die geleentheid te ontgin.

Dit is amper ondenkbaar dat ons tot dusver nog nie volhoubare finansiële oplossings vir landbou, ons naasgrootste verdiener van buitelandse valuta ná mynbou, kon vind nie. Alle aspekte van landboufinansiering en balansstaatstruktuur word oor die wêreld heen mooi verstaan, maar ons Landbank het klaaglik misluk.

Die antwoord lê ook nie net in gewone gesekureerde lenings van die kommersiële banke nie (veral lenings waarvoor daar net behoorlike sekuriteit verskaf is deur ’n verband op grond nie; dinge is nie meer so eenvoudig nie). Ons het ’n bietjie meer verbeelding nodig (nie eens baie nie) om ander befondsingstrukture te aanvaar, die benutting van die hoogs likiede en mededingend geprysde termynmarkte vir kommoditeite, spesifieke finansiering vir kapitaalgoedere, ontwikkelingsfinansiering, en natuurlik ruilhandel.

Daarna kan ons (dringend) werk maak van logistiek, en sy goeie vriend infrastruktuur. Ons hawens en spoorwegstelsel is veral ’n gemors en kan nie voorspelbare diens lewer nie. Soos met finansiering is die oplossing nie geweldig ingewikkeld nie, en geld is nie die probleem nie – deskundigheid en regulatoriese instaatstelling (wat wel binne ons vermoë is) is die probleem.

As ons ons sake agtermekaar kan kry met net hierdie twee elemente – finansiering en infrastruktuur – kan ons ’n strategiese legkaartstuk wees wat die voedseluitdaging wat in Europa op loer lê die hoof kan bied. Dit is deugsaam en waardevol. In die huidige omgewing van hoë werkloosheid, sal dit nie wonderlik wees om rond te hardloop en goed gedoen te kry eerder as om te erken dat Suid-Afrika nie teen 2030 die doelwitte van die Nasionale Ontwikkelingsplan gaan haal nie?

Ons moet ons geërfde rommel uitsorteer en belê in die nuwe realiteite waarvoor ons nou te staan kom. Suider-Afrika kan die broodmandjie vir Europa word. Ons kan ook ’n sentrale rol speel om prysstabiliteit in hierdie krisis te verseker. Wat keer ons?