Groot oeste ondanks vroeë versuipskade, later rypskade en ’n natter seisoen met neutrale toestande wat vroeër as gewoonlik aangeklop het, sal uitstaan as kenmerke van vanjaar se natter siklus. Vier lesse kan veral uit 2021 geleer word.
Nou is ons in 2022 en dis weer nat- en baie nat op baie plekke.
Op ’n keer het ’n wyse boer gesê: “Dit reën nie op droë grond nie.” Hoewel dit teenstellend klink, steek daar tog waarheid in. Dit is baie “moeilik” vir die eerste reën in die seisoen om te kom, maar daarna reën dit dikwels baie makliker.
Baie mense vra wat die beste of akkuraatste webwerf vir weervoorspellings is omdat dit dikwels veral aan die begin van die seisoen die reënval oorskat. Ook in droër jare is die voorspellings baie keer swakker as wat in werklikheid gebeur.
’n Mens sien dikwels dat baie mooi wolke en weerstelsels ontwikkel, maar dan reën dit nie, terwyl dit in natter jare baie makliker reën, soms byna sonder dat daar ordentlike wolke is. In natter jare is die voorspellings akkurater en betroubaarder.
Die jaar 2021 was in die algemeen taamlik nat of bogemiddeld, en dit lyk asof 2022 hierop gaan voortbou, want “die grond is nat”.
Oorsaak van gebrekkige reën
Gedurende droë jare en aan die begin van die seisoen moet toestande supergunstig wees voordat die eerste reën kom. As die sinoptiese situasie ontleed word, is die groot oorsaak van gebrekkige reën die Atlantiese hoogdrukstelsel wat dikwels byna staties oor die suidoostelike Atlantiese Oseaan geleë is, en dan ook oor die westelike en sentrale binneland van Suid-Afrika, Namibië en Botswana inrug.
Soms vind dit aansluiting in die bolug met die Indiese Oseaan-hoogdrukstelsel en veroorsaak baie warm, droë toestande en vorm byna ’n koepel oor die land.
As gevolg van die hitte op land begin laagdrukstelsels onder die hoogdrukstelsels ontwikkel, wat dan vog in die atmosfeer kan laat styg, wolke vorm en ligte reën kan veroorsaak.
Die laagdrukstelsels is egter nie sterk genoeg in die bolug ontwikkel nie omdat die koepel van hoogdruk die ontwikkeling demp, met die gevolg dat belowende reënstelsels baie vinnig verdwyn. In natter jare of natter tydperke is die relatiewe posisies van hoog- en laagdrukstelsels verskillend.
Dan vind beter wolkontwikkeling plaas met laagdrukstelsels meer prominent tot in die hoër luglae van die atmosfeer. Om ’n bietjie meer te verduidelik: Daar is die sogenoemde band van hoogdruk wat ontstaan op ongeveer 30° noord en 30° suid van die ewenaar as ’n teenwig vir die band van laagdruk wat rondom die ewenaar gesentreer is.
Die band van laagdruk (binne 5° N en 5° S van die ewenaar) ontstaan omdat die tropiese gedeeltes rondom die ewenaar baie warmer is en stygende lug met baie wolke en reën veroorsaak.
Die uitgereënde en droër lug word neergesit as dalende lug in die band van hoogdruk verder vanaf die ewenaar, rondom 30° N en 30° S, wat ongunstige toestande vir reën skep.
Hierdie band van hoogdruk word dan onderbreek deur die topografiese eienskappe, soos die Afrika-vasteland wat ’n obstruksie vorm, en breek die band op in selle van hoogdruk.
Hierdie hoogdrukselle beweeg ooswaarts en onder normale omstandighede beweeg ’n hoogdruksel nagenoeg een keer per week om die suidpunt van Afrika.
In die winter en tydens droë toestande neig die hoogdrukselle om verder noord te posisioneer en word dan byna staties, wat omtrent alle somerreënval-aktiwiteite nadelig beïnvloed. Tussen hierdie selle van hoogdruk is daar dan gebiede van laagdruk wat reën kan veroorsaak.
Die afgelope jaar
Die 2020-’21-seisoen is gekenmerk deur ’n matig-sterk La Niña-verskynsel wat in ongeveer Desember 2020 ’n hoogtepunt bereik het. Teen einde Febuarie 2021 het die La Niña-verskynsel verswak en oorgegaan na meer neutrale toestande, dit wil sê al die Niño-gebiede het teruggekeer na ’n reeks van temperatuurafwykings 0,5 °C koeler as normaal tot 0,5 °C warmer as normaal.
Dit was vroeër as wat verwag is, want gewoonlik duur ’n La Niña- (of El Niño-) gebeurtenis tot Maart of April. Die vroeë verdwyning van La Niña was verantwoordelik daarvoor dat reënvaltoestande reeds van Maart af verswak het oor die sentrale tot westelike dele.
Dit is waar die meeste reën gedurende La Niña-seisoene van Januarie tot Mei veronderstel is om voor te kom. Dit was normaal dat die oostelike produksiegebiede ’n droër tydperk in laat-Januarie en Februarie gekry het toe die band van reën weswaarts begin skuif het, maar die siklus in die meer westelike dele is egter nie voltooi nie omdat die La Niña te vroeg verswak het.
Die jaar 2021 het dus baie goed begin. Plek-plek was daar byna katastrofiese vloede in veral die Benede-Oranjerivier toe swaar reën teen einde Januarie oor die Vrystaat en Lesotho voorgekom het, wat die Bo-Oranjerivier in vloed laat kom het.
Gelukkig was daar minder reën in die opvangsgebied van die Vaaldam en was dié dam nog nie vol nie. Dus was die Vaalrivier nie in volle vloed nie, hoewel die Bloemhofdam sterk oorgeloop het.
Swaar reën in veral Januarie 2021 het veroorsaak dat versuipskade by veral mielies voorgekom het in dele van die Vrystaat en Noordwes. In vergelyking met die res van die somergraangebied het dit relatief min skade verteenwoordig, maar individuele boere het groot skade gely.
In dele by Bothaville, Wesselsbron, Viljoenskroon, Wolmaransstad en Odendaalsrus was daar plek-plek mielie-opbrengste van minder as 1 t/ha.
Met ’n totale mielie-oes van 16,2 miljoen ton, wat ’n gemiddelde opbrengs van byna 6 t/ha verteenwoordig, is dit duidelik dat die res van Suid-Afrika baie goeie opbrengste en selfs rekordopbrengste behaal het.
Droëlandmielie-opbrengste van meer as 10 t/ha is op verskeie plekke behaal, selfs in gebiede waar die langtermyngemiddelde opbrengste minder as 5 t/ha is. Nie net die grootste deel van die somerreëngebied het bogemiddelde reënval gekry nie, maar ook groot dele van die Wes-Kaap.
Hoewel die winterreënval effens laat begin het, was daar byna nie ’n week waar dit nie gereën het nie en was droogteskade grotendeels afwesig. Dit het egter tot in Desember 2021 gereën.
Gehalteskade het veral by koring voorgekom met reën tot in oestyd, maar opbrengste was bogemiddeld. Damvlakke in die Wes-Kaap is die beste in minstens die afgelope 5-7 jaar.
’n Ander kenmerk van die klimaat van 2021 is die baie koue toestande wat in die laatwinter en lente en selfs eerste deel van die somer voorgekom het. Vir die vyfde jaar agtereenvolgens het rypskade by koring en ander gewasse voorgekom in veral die besproeiingsgebiede van die Noord-Kaap en die Vrystaat
Later rypskade kom voor
Dit lyk asof dit ’n neiging begin vorm dat temperature wat rypskade kan veroorsaak, in die afgelope meer as ’n dekade ál later begin voorkom.
In die afgelope vyf jaar was die gemiddelde laaste rypdatums meer as twee weke later as die langtermyngemiddelde rypdatums, en soms byna ’n maand later.
Pekanneute in die Suidwes-Vrystaat het byvoorbeeld groot rypskade opgedoen toe temperature van selfs -3 °C die nag van 17 Oktober 2021 aangeteken is. Met die verbeterde reënvaltoestande in veral die Karoo, Kalahari en suidelike dele van Namibië het ’n sprinkaanplaag begin ontwikkel.
Die reën het in die meeste gevalle eers in Januarie begin voorkom, maar saam met opvolgreën was dit vroeg genoeg dat verskeie generasies sprinkane kon uitbroei. Die plaag was taamlik ernstig tot in Mei vanjaar. Met die reën wat in Oktober oor groot dele van die Karoo en Kalahari voorgekom het, kon die sprinkaanplaag weer momentum kry.
Die risiko is groot dat dit verder noord gaan voorkom en selfs in die somergraangebiede kan beland. Tot nou was die heersende windrigtings uit ’n noordelike komponent, wat vinnige noordwaartse beweging beperk het, maar daar was ook nog nie baie sprinkane in die vlieërfase nie. Daar is ’n potensiële groot risiko vir die res van die 2021-’22-somer oor groter gebiede as in 2021.
Met ’n tweede agtereenvolgende La Niña-verskynsel wat heers en waarskynlik tot Maart of April sal voortduur, is daar weer ’n groot waarskynlikheid vir bogemiddelde reënval oor veral die somerreëngebied.
Daar kan selfs reën in die winterreëngebied later in die somer (rondom Februarie) voorkom, wanneer die band van reënval weswaarts oor Suider-Afrika behoort te skuif en tropiese vog oor Namibië suid- en suidooswaarts kan laat beweeg oor die Noord- en selfs die Wes-Kaap.
Met die grond wat relatief nat is oor groot dele van Suid-Afrika, is daar rede om te glo daar gaan nog baie reën hierdie seisoen voorkom, want “dit reën wel op nat grond”. Mnr. Johan van den Berg is ’n onafhanklike landbouweerkundige.
Grootste lesse
Graanboere het ’n baie goeie jaar beleef, hoewel versuiptoestande, ryp, droogte, hael en ’n oormaat reën gedurende strooptyd probleme veroorsaak het. Die inkomste-tot-insetkoste-verhouding was relatief gunstig, maar wat as daar weer swakker opbrengste of laer pryse voorkom?
Die 2022-’23-seisoen het ’n groot waarskynlikheid vir ’n El Niño-verskynsel. Dit kan gunstig wees vir gebiede waar baie water opgegaar is, soos rondom Bothaville, maar meer marginale grond kan gou droogteskade kry.
Die les is dat dit nie altyd só goed sal gaan soos in 2021 nie, en dat daar nou langtermynbeplanning gedoen moet word en om nie weer te wag totdat daar ’n krisis is nie.
Die reënval en produksietoestande soos in 2021 ervaar, is nie die nuwe normaal nie, maar eerder deel van ’n natter siklus en as gevolg van La Niña. Natter toestande soos in 2021 en soos in 2022 verwag word, het sy eie risiko’s, soos vloede, hael, sprinkane, siektes en plae.
Elke boer moet homself afvra wat sy risiko is en of hy dit kan bestuur. Die probleem met risiko is dat dit gewoonlik nie as individuele risiko’s voorkom nie, maar as ’n groep, soos oormaat reën en hael.
Klimaatsverandering is bepalend vir landbouproduksie en het baie komponente. Hoewel die aarde warmer word en veral maksimum temperature styg, is daar aanduidings dat minimum temperature in die laatwinter en herfs langer laag bly en die risiko vir ryp vergroot.
Lesse uit 2021 is dat boere baie beter moet beplan oor veral waar aanplantings gedoen word. Só word ’n hooggroeiende gewas soos pekanneute dikwels parallel aan riviere aangeplant omdat dit naby aan die waterbron is.
Dit vorm egter ’n ondeurdringbare muur wat die vloei van kouer lug na laergeleë gedeeltes blokkeer en groot rypskade veroorsaak. Hoewel die beskikbaarheid van grond in besproeiingsgebiede dikwels ’n probleem is, moet wintergewasse waar moontlik eerder op hoërgeleë gedeeltes aangeplant word, en somergewasse op die laergeleë lande.
Die jaar het getoon dat goeie produksietoestande wel moontlik is, maar selfs met ’n gemiddelde jaar gaan baie boere nie die mas opkom nie weens die skerp styging in insetkoste. Dit is belangrik om terwyl dit relatief goed gaan, so gou moontlik strukturele veranderinge aan te bring.
Johan Van Den Berg Santam Suid Afrika