Suid Afrika kán met beste van wêreld vergelyk

Star InactiveStar InactiveStar InactiveStar InactiveStar Inactive
 

Die Food Safety Modernisation Act het ten doel om die voorvalle en impak van gebrekkige voedselveiligheid in Amerika te voorkom.

Dié wet vereis dat die produsente, opbergers en vervoerkontrakteurs van voedsel en voer ’n voedselveiligheidsplan gereed moet hê. Die plan moet potensiële risiko’s identifiseer met geskikte maatreëls om dit te voorkom. Produsente en opbergers kan verantwoordelik gehou word as uitbrekings van voedselonveiligheid in die res van die waardeketting na produsente of opbergers teruggespoor kan word. Die vermoë en bereidwilligheid van Amerikaanse produsente en opbergers om voldoende maatreëls gereed te kry en geskrewe waarborge te kan lewer oor die voedselveiligheid van graan en oliesade wat opgeberg word, kan in die toekoms ál meer bepalend wees vir volle markdeelname. Amerikaanse produsente en opbergers wil voorkomende maatreëls toepas om kopers te verseker dat mikotoksiene voldoende deur produksie- en opbergingstelsels bestuur word. Hulle wil ook bewys kan lewer dat goeie bestuurspraktyke toegepas is tydens ’n uitbreking van voedselonveiligheid, veral omdat dit teruggespoor kan word na die plaas of opberger. Die Amerikaanse Food and Drug Association behou ook die reg voor om voorkomende maatreëls te oudit.

LEES OOK -Naspeurbaarheid van ons voedsel in Suid Afrika

MIKOTOKSIENE Kom ons neem die veevoerbedryf en varkvleisproduksie as voorbeeld. Mikotoksiene word deur swamme geproduseer. As mikotoksiene in varkvoer voorkom, kan dit die produksiesiklus nadelig beïnvloed. Dit is maklik om te sien wanneer ’n mikotoksien, soos womitoksien (deoksinivalenol) en zearalenoon, varkvoer besmet het. Varke se voerinname en gewigstoename neem drasties af en kan in die geval van besmetting deur zearalenoon tot reproduktiewe probleme lei. Die impak van fumonisien op varkvleisproduksie is nie duidelik waarneembaar nie. Fumonisien word moeilik deur varke se spysverteringstelsel opgeneem en bly langer in die dier.

Die mikotoksien is langer in kontak met die maag- en dermwande en die gevolglike skade verhoog sekondêre bakteriese infeksies deur byvoorbeeld Escherichia coli en die vorming van patogeniese kolonies. Fumonisien is veral belangrik omdat selfs lae vlakke van fumonisien siene te verminder of om produkte in byvoorbeeld veevoer te gebruik wat die algemene gesondheid van die spysverteringskanaal verbeter. Die vlak van mikotoksienrisiko voor stroop en tydens die produksie van graan is hoogs afhanklik van veldswamme se lewensiklus. Indien die patogeen (swam) en die gasheer (graan) teenwoordig is en ideale klimaatsomstandighede heers, kan mikotoksienproduksie plaasvind.

Gegrond op die klimaat en weersomstandighede kan afgelei word watter tipe mikotoksien (aflatoksien, deoksinivalenol, fumonisien of zearelenoon) in die betrokke produksieseisoen of streek teenwoordig kan wees. Tesame met droogtetoestande het windstorms byvoorbeeld in Augustus in sommige Amerikaanse graanproduksiegebiede die ideale omstandighede geskep vir hoër mikotoksienvlakke. Die hoë innametempo van graan tydens oes en beperkte droogen opbergingsgeriewe het silo’s in Amerika se vermoë beperk om deurlopend vir mikotoksiene te toets. Boonop het die silo’s in die windstormgeteisterde produksiegebiede opbergingsruimte verloor. Produsente het gevolglik ’n probleem om opgebergde graan in ’n goeie toestand te hou. Amerikaanse produksietoestande verskil van dié in SuidAfrika. Suid-Afrika het met sy songedroogde graan en oliesade, puik opbergingstrukture en die Suid-Afrikaanse Graanlaboratorium se ontledende vermoëns ’n mededingende voordeel om gehalte-graan bo dié van graanwaardekettings in Amerika te lewer.

Suid-Afrikaanse verbruikers moet in ag neem dat die klimaat en omgewing waarin die produksie en opberging van graan plaaslik geskied met die beste ter wêreld vergelyk. Die uitvoerbaarheid, koste en wenslikheid van nuwe moniteringstelsels moet dus deeglik geëvalueer word om te verseker onnodige koste word nie tot die waardeketting gevoeg nie, maar dat die beste stelsel gebruik word. Dit behoort ook op versoek van die bedryf te wees en nie eensydig deur die staat afgedwing te word nie. Ter wille van regverdigheid behoort dit statutêr verpligtend te wees dat alle belanghebbendes, klein en groot, aan dieselfde vereistes moet voldoen. Die doeltreffende bestuur van mikotoksiene en die monitor daarvan is egter ’n duur proses en kleiner produsente sal waarskynlik nie die verpligte toetse vir mikotoksiene kan doen sonder om groot koste aan te gaan nie. As dit waar is vir Amerika waar die staat die koste van stelsels dra, hoeveel te meer is dit nie waar van Suid-Afrika waar die private sektor die koste aangaan nie.

Mnr. Wessel Lemmer is hoofbestuurder van AgbizGrain