Die regering van Suid Afrika sien nog steeds nie die waarde van sy Landbouers nie.

Star InactiveStar InactiveStar InactiveStar InactiveStar Inactive
 

Die einde van 2020 is insig- 'n jaar wat baie min mense wil onthou, 'n jaar waarin die huidige regering van 26 jaar- feitlik Suid Afrika se ekonomie vernietig het in hulle soeke na mag en geld.

En soos dit met alles in lewe gaan het die ANC regering en sy meelopers deur die jare so mak geraak met korrupsie, dat dit nou elke dag aan die orde van die dag is- en was die Covid 19 pandemie die goue eier wat met geluk in hulle skote geval het.

Met hierdie goue eier in die hand het Suid Afrika se skuld nog verder gegroei en is die land in 'n groot finansieele posisie. Miljoene mense is honger en werkloos en die regering en sy meelopers leef nog steeds in weelde en nie een van die gulsige staatsamptenare weet eintlik wat Covid 19 is nie- behalwe dat hulle nie meer so lekker kon reis die wereld deur nie en kuier en in duur hotelle kon bly en eet en drink soos hulle gewoond is nie.  Nog steeds sien die arm werklose honger inwoners wat hulle sogenaamde leiers aan hulle doen nie.

Sonder Suid Afrika se landbouers en hulle harde en professionele werk sou daar geen kos in die land gewees het in die Covid 19 grendeltyd nie.- Landbou se bydrae tot die staatskas is enorm en nog steeds gee die edelagbare President en sy meelopers 'n koue skouer aan die landbou.   

Grond, nog ‘n pion in die intellektuele skaakspel, dui nog duideliker aan dat die ANC ‘n ander eksperiment voer as wat ons en die wêreld in 1994 vertel is. 

Die ANC sit op meer as 5000 landboueenhede, maar deel dit nie uit aan hulle wat graag wil boer nie.  Sommige plase word uitverhuur, maar dit is bitter selde dat iemand werklik hul naam op ‘n titelakte sien.  Dit maak nie sin nie, behalwe as die party van die begin af nooit geglo het dat mense hul eie plase moet besit nie, en aktief daardie beleid najaag.

Die eenvoudige punt is dat ons nou duideliker as ooit tevore kan sien waarmee die ANC besig is, ons kan nou, duideliker as ooit tevore sien wie hulle werklik is, en wat hulle planne met ons landbouers en inwoners is. 

LEES MEER Suid Afrika se grondwet- Die huidige situasie

Die jongste groeisyfers wat sopas vrygestel is, toon dat landbou die een bedryf is wat werklik groei en ‘n sleutelrol vervul in die land se ekonomie en waar daar nog baie min inmenging is van die regering.

Elkeen wat in enige ander sektor van die ekonomie werk, moet daagliks eet. Niemand kan sonder voedsel nie, en al is daar al moderne stedelinge wat glo dat daardie kos van die bekende supermark se rakke af kom, is daar tog nog die meer ingeligtes wat weet dat die landbouers daardie winkelrakke vol maak. Landbou is dus in wese daardie een sektor van die ekonomie wat nie mag krimp nie, en in wese selfs nie kan krimp nie en wat onafhanklik moet staan en homself beheer.

Solank die boere kan produseer en bemark, in terme van die vryemark beginsels, behoort dit geen probleem te wees nie. Die mark reguleer homself, alhoewel Suid-Afrikaanse boere prysnemers is wat maar moet vat wat ‘n dikwels gemanipuleerde mark vir hulle bied, terwyl die staat geen enkele vorm van ondersteuning of subsidie gee nie.

Die grootste rooi lig is die beplande inmenging van die staat. Tydens die minister van finansies se onlangse medium termyn begroting, het dit duidelik geword dat die staat nie eens sy eie publieke administrasie kan bestuur nie, en dat geldvermorsing, korrupsie en flagrante diefstal een van die groot probleme bly. Nou moet geld weggeneem word van onder andere polisie en onderwys.Niks  is van landbou weggeneem is nie, maar aan die ander kant word daar niks aan landbou spandeer nie. Al wat daar is, is groot hindernisse soos swart ekonomiese bemagtiging, verlammende grondeise, kwelsugtige arbeidswetgewing, beskuldigings dat boere grond gesteel het, hulle werkers swak sou behandel, en selfs onbewese bewerings dat boere hulle werkers skiet is die afgelope week gemaak.

Dan is daar ander kwelsugtige wetgewing wat beoog word om die lewe vir die boer moeiliker te maak. Grondbelasting op plase is al etlike jare met ons en waarvoor die boer niks terug kry nie. Nou word beoog dat elke boer vir die water moet betaal wat hy op sy koste uit die grond kry. Hy moet ‘n duur watermeter op sy eie koste aanskaf, installeer en dan sommer ‘n nie betaalde staatsamptenaar word wat getrou elke maand die lesing neem, dit vir die departement stuur, sodat hulle vir hom ‘n rekening vir sy eie water kan stuur.

Verder word ‘n Plaas Beplanning Regulasie beplan. In kort kom hierdie stukkie suiwer kommunistiese wetgewing daarop neer dat elke boer ‘n gedetailleerde plan van sy plaas moet opstel, waarin elke stukkie grondgebruik beskryf sal word, hoe water moet vloei, hoeveel boorgate waar is en hoeveel van watse diere daar is.

Dan word daar weer poste geskep vir sogenaamde Uitvoerende Amptenare, wat na willekeur die plan kan terugtrek of wysig. Hier is word dus weer ‘n ideale geleentheid vir korrupsie en omkopery geskep, terwyl die staat se salarisrekening met nog miljoene per maand gaan styg.

Boere is positief en gaan voort om die ekonomie aan die gang te hou. Die vraag is net hoe lank daardie positiwiteit nog geduld gaan word by magshonger bewindhebbers, en hoe lank die boere hierdie imenging sal verduur. Die brutale moorde op ons landbouers , hulle gesinne en plaaswerkers gaan voort en die regering spreek geen woord daaroor nie. Landbouers is aangewese op hulleself as dit kom by selfbeskerming. Hulle is reeds besig om drasties planne in plek te stel om bewegings te monitor en hulle eie beheer toe te pas. Wees verseker dat boere in die land genoeg gehad het van hierdie lafhartige nikswerd barbare wat geen respek het vir enige lewe nie en dat daar geen genade getoon gaan word nie. 

Die ANC regverdig hul beleid van radikale transformasie, oftewel sosialisme, gewoonlik deur te waarsku dat die alternatief ’n rewolusie van die armes is. Hulle verduidelik dat die talle diensleweringsprotesaksies bewys is van die ongeduld van die armes weens die stadige pas van herverdeling.

Wat die ANC verswyg, is dat dit juis hul eie sosialisme is wat hulle kiesers verarm, en hul eie wanbestuur van dienste is wat die armes strate toe dryf. Die armes is kwater vir die vrot regering as vir die sogenaamde wit rykes, omdat hulle elke dag sien wié hul verarm. Die regering het nog net gevat en die wat oorbly is uitgedeel. Die regering het nie vermoee om welvaart te skep nie- inteendeel hulle het Suid Afrika se hele infratruktuur  feillik tot in die grond bestuur in 26 jaar

Dit is beslis so dat opstande deur arm massas ’n groot gevaar vir die land inhou, veral met die verswakkende ekonomie en die leë staatskas en biljoen skuld. Daar is egter een groter gevaar as ’n rewolusie van die armes, en dis ’n rewolusie van die rykes. Met rykes word hier nie die handvol miljoeners bedoel nie, maar gewone middelklasmense met ’n kwalifikasie, ’n huisverband 'n motor of twee,'n huigesin, lewenspolise en ’n mediese fonds. Hierdie middelklas is volgens sosialiste deel van die rykes.

Rykes se rewolusies verskil totaal van die rewolusies van armes. Dit behels nie  opstande, vurige toesprake, dreigemente en geweld nie. Dis ’n stille en geruislose rewolusie, maar dit is baie meer verwoestend. Dit vernietig nie stede en dorpies nie, dit versper nie paaie en steek binnebande aan die brand wat weer herstel kan word nie- Dit vernietig 'n land permanent.

Dit neem verskeie vorme aan, omdat die rykes baie meer wapens as klippe en brandbomme in hul arsenaal het. Dit begin met ’n gedagte in rykes se koppe dat hulle vertroue in die ANC-regering verloor. Die volgende stap is dat die rykes nie hul spaargeld belê in sakeondernemings wat werk skep en belasting aan die regering betaal nie. Beleggings word na die buiteland geneem, wat dáár werk skep en belasting betaal. ’n Staking van rykes se beleggings het ’n baie dodeliker uitwerking as stakings deur armes. Sonder beleggings in die land is daar nie werk nie, en sterf werkloses en hul kinders van honger.

Rykes verminder jhulle personeel of neem minder mense in diens. Hulle betaal so min belasting moontlik. Hulle koop minder, en die laer besteding lei tot die sluiting van fabrieke wat minder produseer en mense moet afdank.

Sodra rykes voel dat daar geen belang is meer in Suid Afrika nie, begin hulle die land verlaat. Hulle vat hul vaardighede, toekomstige belasting en werkskeppings en welvaartskeppingsvermoë saam. Die rewolusie van die rykes lê nie in die toekoms nie inteendeel dis reeds besig, stil maar uiters vernietigend.

Suid-Afrika is reeds die grootste uitvoerder van werkskeppers, kundigheid en belastingbetalers. Dis ’n dubbele slag: die staat se inkomste neem af, en die uitgawes aan die armes se welsyn neem toe. Dit is waarom die staat in duie stort, sonder genoeg kundigheid en geld om ’n moderne land ekonomies selfstandig te bestuur. 

Daar is net een manier om hierdie dodelike ryk rewolusie te keer. Regerings moet die middelklas behandel soos kliënte wat behou moet word, en nie soos onderdane wat verdruk voel nie. Die omstandighede sal geskep moet word om rykes tevrede te hou. Die edelagbare President en sy meelopers behandel die middelklas Suid Afrikaner soos onderdane en deel hulle ahrd verdiende belastinggeld uit aan die armes om hulle stemme te werf.

Die president van die Suider-Afrika Agri Inisiatief, dr Theo de Jager reageer  met `n opebrief aan president Ramaphosa. Hy skryf:  “Ek wens gereeld dat u en u kollegas – veral die ministers in u veiligheidsgroepering – ’n plaasmoordtoneel kan besoek, selfs net een keer. U moet dit ruik en sien: die dierlike wreedheid van die marteling; die bloed teen die plafonne en mure. Slegs dán kan u met gesag en ondervinding oor hierdie onderwerp met die landbougemeenskap saampraat.”

Tot Ramaphosa egter aan dr de Jager se versoek gehoor gee sal hy ongelukkig `n toondowe president bly.

Suid-Afrika se boere is ’n buitengewone groep mense. Hulle leef vir hul grond en hul grootste strewe en doelwit is om kos te produseer. Hulle is baie, baie taai en hardwerkende mense. Maar mense wat ook net tot sover gedruk, verneder en verbrysel kan word. Ons boere het elkeen van ons se ondersteuning en gebede nou meer as ooit in die geskiedenis van die land nodig.

Saamgestel deur Johann Pretorius CRA MEDIA

(Erkenning aan Nuuskommentaar PFM)