Suid Afrika se grondwet- Die huidige situasie

Star InactiveStar InactiveStar InactiveStar InactiveStar Inactive
 

Suid-Afrika se Grondwet is in vele opsigte nutteloos, en dit word weerspieël in die haglike staatkundige, sosiale- en ekonomiese doodloopstrate waarin die land verkeer.

Die rol van die President is gelukkig duidelik omskryf, en sou mens dit lees kan jy tot geen ander gevolgtrekking kom as dat President Ramaphosa die Grondwet kras oortree nie.

Artikel 87 bepaal spesifiek dat die persoon wat as President verkies word, nie verder deel vorm van die Nasionale Vergadering van die Parlement nie. Die President word by inswering Staatshoof, wat verskil van sy vorige rol as lid van die Nasionale Vergadering, en waarvoor die Grondwet spesifieke magte en pligte voorskryf. 

Artikel 83 (b) bepaal spesifiek dat die President onderdanig is aan die bestaande Grondwet en dit moet respekteer en verdedig as die oppergesag (supreme law). Hy kan homself dus nie die reg toe-eien om die Grondwet te probeer wysig, of optree asof dit wel gewysig gaan word nie. Hy is nie by magte om enige grondregte te wysig deur  te beweer of te fantaseer iemand se grond behoort eintlik aan iemand anders nie.

Daarby lê Artikel 83 ( c ) ‘n plig op die President om nasionale eenheid te bevorder. Die President se optrede om bv. na “ons mense” te verwys as dit na ‘n spesifieke groep verwys en nie na al die burgers nie, of op enige ander manier tussen groepe te onderskei en nie as ‘n eenheid te verteenwoordig nie, is ‘n direkte oortreding van hierdie artikel.

Die duidelikste botsing is egter in Artikels 84 en 85 van die Grondwet, wat onderskeidelik die funksies en die magte van die President puntsgewys opsom. Hierdie twee Artikels bepaal onomwonde dat die President se magte beperk word tot die uitvoering van nasionale wette en –beleid, binne die raamwerk van die bestaande Grondwet.

Hy en sy kabinet is dus geensins by magte om lenings en finansieringsooreenkomste aan te gaan wat nie in terme van Nasionale Wetgewende prosesse goedgekeur is nie, en hy kan nie enige geheimhouding daar rondom te hê, soos wat ooglopend gebeur nie.  President Ramaphosa en sy kabinet is lankal buite die Grondwet en ons sit met ‘n onwettige regering. Dit sal duidelik manifesteer wanneer buitelandse kredietverskaffers hulle geld soek en agterkom dat die regering nie die nodige mandaat van belastingbetalers gehad het nie, en die karige besittings van die ANC op veilings verkoop moet word om die skade te beperk

Johan de Klerk, Prokureur, Pretoria.