Die Klein Karoo in ’n wurggreep - Suid Afrika

Star InactiveStar InactiveStar InactiveStar InactiveStar Inactive
 

Ons span reis weekliiks deur landboustreke in Suid Afrika-en buurlande, ons het nog nooit die Wes Kaap en omliggende dele so mooi gesien soos vanjaar nie- dis nat, die oeste is mooi die damme is vol en die blommetjies langs die Wes Kus staan kleurvol op elke plek.

Saam met dit is groot dele van die Vrystaat en Noord Wes asook Mpumalanga ook gelukkig om 'm besonderse goeie oesjaar te kon he. Koring in die gebiede is baie mooi en ons glo dat goeie vroee reens eersdaag sal val.

Maar dan is daar dele wat dit baie swaar gaan in die Oos Kaap asook dele van die Noord Kaap en ook dele in Limpopo. 

Met ’n vernietigende droogte wat die landbou­bedryf in die Klein Karoo in ’n wurggreep het, probeer boereverenigings, landbou organisasies en vrywillegers alles om droogte hulp vir die landbouers te kry.

Die droogte wat al etlike jare duur, word as die ergste in dekades bestempel, deur party selfs as die ergste die afgelope eeu.

Die Klein-Karoo is 'n somerreënvalstreek met 'n halfwoestynklimaat. Daar val gemiddeld sowat 250 mm reën per jaar. Die gemiddelde somertemperatuur is 27°C, terwyl die gemiddelde wintertemperatuur 14°C is. Die plantegroei bestaan hoofsaaklik uit die bekende Karoobossies, wat besonder goed bestand is teen droogte en boonop vir sekere diere eetbaar is. Aalwyne, melkbos en turksvye kom ook voor en na een van die baie skaars donderstorms gedurende die blomtyd kan die Klein-Karoo vir 'n kort tydjie in 'n blomtuin verander.

Om boerdery in hierdie halfwoestyn toestande te bevorder, is daar 'n aantal damme in die riviere van die Klein-Karoo gebou. Baie van hierdie riviere loop gedurende die wintermaande glad nie. Die grootste dam is die Gamkapoortdam in die Swartberge, nie ver van Gamkaskloof en die bekende Hel nie ('n baie verlate, vroeër byna onbereikbare nedersettinkie).

Besproeiingsdamme, opgaardamme en riviere is leeg of byna leeg. Die hele situasie vererger daardeur dat boere nie soos met vorige droogtes op volstruisboerdery kan terugval om kop bo water te hou nie. Weens die uitbreek van die hoogs patogeniese H5N8 Avian Influenza mag volstruisvleis sedert verlede jaar nie meer uitgevoer word nie en het baie volstruisboere reeds tou opgegooi.

Die volstruisleerbedryf speel ’n groot rol in die lewensvatbaarheid van Klein Karoo Internasionaal (KKI) in Oudtshoorn se volstruisbesigheid, wat talle uitdagings het. 

Op die oomblik is daar drie groot uitdagings, naamlik die droogte, ’n verbod op die uitvoer van vars volstruisvleis weens die uitbreking van H5N8, en die jongste verbod op die uitvoer van gaar én rou volstruisvleis weens gebrekkige instandhouding van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye (DAFF) se laboratorium wat residue in voedsel van dierlike oorsprong monitor.

Die volstruisleerbedryf hang af van gehalte – van  gesonde volstruise wat sonder groeistimulante grootgemaak word, tot sysagte volstruisleer wat gesog is in die modewêreld en die sierlike vere wat sedert 1863 geproduseer word en tot so onlangs as 1975 die hoofvertakking van volstruisboerdery was.

Boere gaan ook gebuk onder groot uitstaande skuld wat opgeloop het weens die droogte. Boere kan nie diversifiseer nie omdat daar nie water is nie. Al wat vir boere oorbly, is die hoop dat iets sal verander.

Dit is die eerste keer in die 30 jaar wat die Klein Karoo se veld so droog sien. 

In sekere dele het dit in Oktober 2015 laas water uit die takriviere op sekere plase gehad. Die laaste waterleibeurt uit die Stompdrift/Kammanassie Waterskema was in November 2016. 'n Volle 4 jaar van oorleef.

Droogtes is ’n realiteit in die Klein Karoo. Dit is daarom dat die streek hom so goed tot volstruisboerdery leen.

Behalwe vir die Europese verbod op die invoer van volstruisvleis uit Suid-Afrika is daar nog faktore wat dit nie meer vir volstruisprodusente winsgewind maak om met volstruise te boer nie.

Die hoë koste van voer. Met die huidige droogte het lusernproduksie in die Klein Karoo feitlik tot stilstand gekom. In die verlede kon produsente lusern opgaar vir gebruik in die droë jare. In die huidige droogte moet lusern en ander voer aangekoop word.

Die ondoeltreffendheid en gesloer van die betrokke staatsinstellings- Modeneigings wat lei tot ’n afname in die verkope van volstruisleer.

Nie lank gelede nie het sekere boere wingerd onder besproeiing gehad met ’n wyn­kelder waar baie druiwe jaarliks gepars kon word. Die wingerde is egter tot niet weens die klimaatsverandering in die Klein Karoo.  Dis absoluut klimaatsverandering maar dit lyk of die Karoo 'n groot vetkol is.

Boere het byvoorbeeld in Februarie hulp ontvang, en toe eers weer in Julie. Die regering het net die droogtehulp onttrek. 

Volstruisboerdery word geensins ingesluit  by hulpskemas van die Departement van Landbou nie; Daar is 'n  gevaar van werksverliese as daar nie hulp aan boere kom nie. Boere moet nog steds belasting betaal al kom daar nie water uit die riviere meer nie.  Die Stompdrift/Kammanassie Waterskema staan stil, sonder water.

Die droogte se invloed na besighede op die dorp begin oorspoel. Landbou speel ’n groot rol in die ekonomie van Oudtshoorn en uit die aard van die saak het die droogte ’n rimpeleffek op die dorp se ekonomie.

Die Sentraal- en Klein-Karoo steeds onder vernietigende droogtetoestande en die damvlakke wys dit duidelik. Die Stompdrift- en Kammanassie-damme by Oudtshoorn staan onderskeidelik op 8.5% en 0.1 terwyl die Poortjieskloofdam by Montagu op 0% staan. Damvlakke in die Sentraal-Karoo lyk ewe benard met die Floriskraaldam by Laingsburg op 15,8%, die Leeugamkadam op 22%, die Oukloofdam by Prins Albert op 3.78%, die Gamkadam by Beaufort-Wes op 29,2% en die Gamkapoortdam op 0.11%.

Die Matzikama-distrik van die Wes-Kaap het ook welkome reën gehad, maar die droogte in die gebied is fel en gaan meer as een seisoen van bo-gemiddelde reënval nodig hê om te herstel nie. Al die landboubedrywighede in hierdie streke het reeds erge skade gely. Dit sluit die volstruis-, vee-, wingerd-, vrugte-, groentesaad-, lusern- en lusernsaadproduksie in.

Dit is ons plig as landbouers in Suid Afrika om hierdie boere by te staan, daar is bo normale oeste in die Mielieproduserende gebiede en ons doen beroep op hierdie graan boere om graan en ander voer aan hierdie boere te skenk. 

As jy weet wat droogte is, sal jy weet wat dit is om hierdie mense behulpsaam te wees. Suid Afrika se voltruisboere kan oorleef as ons hulle die nodige hulp gee.  

Ons as inwoners van Suid Afrika kan gerus hierdie gebiede gaan besoek en 'n paar daae kuier op van die plase en gastehuise en hierdie mense ondersteun.

Die Klein Karoo is basies 'n lang vallei wat aan die Noordelike kant deur die Swartberg en aan die Suiderkant, deur die Langeberg en Outenikwaberge geskei word van die kusstrook, wat bekend is as die Tuinroete. Die vallei is dor en droog, maar was vroeër die tuiste van groot troppe olifante, koedoes, buffels en ook renosters, seekoeie en leeus. Al hierdie is uitgeroei en al wat in die gebied oorgebly het is 'n paar luiperds en bobbejane met baie volstruise in die Oudtshoorn gebied. Hierdie gebied het baie bekend geword met die draai van die vorige eeu toe volstruisvere hoogmode in Europa gewees het.

Wes van Oudtshoorn in die Swartberg lê die wêreldbekende Kangogrotte van die Klein Karoo. Die grotte is ontdek deur 'n Hottentot-veewagter wat na verlore vee gaan soek het. Die grotte is meer as twee kilometer ondergronds en sluit ook die Wondergrot in. Die hoofgrotte mag slegs saam met 'n gids besoek word (twee uurliks). Die grotte is in 1938 tot Nasionale monument verklaar.

'n Paar kilometer Oos van Oudtshoorn lê die bekoorlike dorpie De Rust, 'n hawe vir kunstenaars en 'n gebied bekend vir sy woestyn-wyne en kaas.  Baie naby aan De Rust is die ander klein dorpie Dysseldorp, gestig deur die "London Missionery Society". Die dorp getuig van 'n jaarlikse pelgrimstog na die plaaslike Katolieke kapel op Goeie Vrydag. Besoekers van oor die hele land kom hierheen gedurende die Paansaweek.

Die Groot Karoo is 'n groot en verlate streek wat aan die Noordekant van die Swartberg lê. Die groot vlakte was eens 'n groot binnelandse see van mere en moerasse wat bewoon was deur oerdiere. Hulle het vir miljoene jare oor hierdie streek geswerf tot hulle skielike einde. Die meeste van die tyd vertoon hierdie verlate land vaal en oninteressant, maar die Groot Karoo kan oornag groen word na 'n onverwagse reënbui en die vlaktes kan met kleur oorstroom word as die blomme in die lente tot lewe kom. Die hele Groot Karoo-streek is ideaal geskik vir skaap-boerdery. Beaufort-Wes het 'n belangrike vakansie-bestemming geword, veral in die winter. Daar is baie ontspannende aktiwiteite wat in die dorp geniet kan word. Die Karoo Nasionalepark is net buite die Noordweste van die dorp. In die park is daar verskeie boksoorte, ook bobbejane, bakoor-jakkalse en koedoes. Die laer gedeelte van die park het tipiese Karoo-plante en die hoër dele het meer suurgras.  

Die Groot Karoo waar dierelewe skaars is, het tog een van die wêreld se grootste versameling van fossiele en dit is 'n mekka vir paleontoloë. Die Karoo is uniek in die feit dat die rots-strata prakties 'n ononderbroke rekord bevat van fossiel-spesies oor 'n tydperk langer as 50 miljoen jaar. Dit sluit die evolusie van die eerste soogdiere in.

Die Klein en Groot Karoo-Streek lyk met die eerste oogopslag net na verlate, oop vlaktes, maar by nadere ondersoek is daar gevind dat daar streke is wat werklik verdien om besoek te word deur oud en jonk.

Johann Pretorius  ANN  

Die artikel is vertaal in Spaans en Frans. Dit word geplaas op Internassionale Landbou mediums.