En so droom ons President die realiteit van die dag weg in Suid Afrika-

Star InactiveStar InactiveStar InactiveStar InactiveStar Inactive
 

Ons edelagbare President met al sy mooi drome het   sekere lede van die parlement en media baie opgewonde gemaak en geinspireer met sy mooi woorde en drome vir toekoms, ander was reeds gemaklik aan die slaap en ander het nie mooi geweet of die President werklik besig is om die land se probleme en oplossings aan te spreek nie.

Sy verwysing na 'n nuwe vinnige trein wat binne ure Suid Afrika sal kan deurkruis en sy droom oor 'n nuwe stad iewers in Suid Afrika, in die volgende 10 jaar kan 'n normale denkende mens met realiteit en toekomsvisie nie verstaan nie, veral gegewe die feit dat alles wat gewerk het 25 jaar terug toe die ANC regering die land begin bestuur het, feitlik vernietig is. Suid Afrika se paaie was onderhou, die spoorwee se spore was almal daar en die treine was onderhou en het betyds aangekom. SAA was winsgewend en Eskom het 100% gewerk.  Daar was water skoon water in die pype en in ons riviere.So kan mense aangaan - en nog baie ander voorbeelde noem. 

Die realiteit is dat Suid Afrika enorme skuld het, sukkelende ekonomie, staatsondernemings, werkloosheid,moord en doodslag en nog steeds wil die President 'n "show" opsit. Dis nou behoorlik bo blink en onder stink. Dit laat mense onwillkeurig dink of dit nie dalk net om homself gaan nie. Dis duidelik dat hy selfversekerd is en dat hy in beheer voel- maar dit gaan nie oor homself nie, maar oor 'n span. 

Daar is reeds baie artikels geskryf en kommentare gelewer oor die 2019 SONA van die President en uit alles kom een boodskap- die ware realiteit en hoe dit opgelos gaan word is nie aangespreek nie.

Landbouers in Suid Afrika het begin met die insameling van die somergraanoeste en 26 ander soorte landbou produsente, is in verskillende fases van hulle produksie seisoen en  nog steeds is daar geen duidelikheid oor die regering se voorneme om grond te ontein nie. Binne 3 maande moet Suid Afrika se somergraanprodusente 'n nuwe oes in die grond sit, dit terwyl niemand weet wat aangaan nie- en die wat weet swyg ook.

Landbou maatskappye wat produkte, dienste en masjinerie aan die landbou verkoop, is net so onseker en weet nie wat die toekoms inhou nie. Beplannings moet gedoen word en daar word reeds gekyk om in ander lande hulle kantore te vestig. Die rand is 'n goeie aanduiding van wat die wereld en beleggers dink van wat in Suid Afriika gebeur. 

Landbank gaan volgens die President geld beskikbaar stel aan opkomende landbouers wat reeds sukkel om van die grond af te kom. Daar is reeds baie suksesvolle opkomende landbouers wat bygestaan is deur privaat maatskappye of bestaande landbou organisasies en maatskappye. 

Sosiale media is tans die enigste bron van inligting as jy die mense volg wat deel was van die proses, maar die nuus is ook nie betroubaar nie. Ekonome en sogenaamde kenners het baie te se en te bespiegel, maar nie een van hulle is landbouers in murg en been nie. Die media ontleed elke sogenaamde politieke leier se gesprek in detail, en dit terwyl meeste van die leiers eintlik visvang en kyk watse reaksie lok hulle stellings uit. 

Die president se mislukking om selfs melding te maak van onteiening sonder vergoeding – ’n beleid wat hy in die verlede gesteun het – laat beleggers wat op duidelikheid gehoop het met geen groter duidelikheid nie. Die beleid is op pad, maar sy bepalings bly ondeursigtig. Anders gestel, net genoeg duidelikheid om belegging af te skrik, nie genoeg om rondom dit te beplan nie. Beleggers sal waarskynlik voortgaan om te wag en te kyk. Niemand gaan enige beleggings in Suid Afrika maak indien daar nie onvoorwaardelike duidelikheid is oor die beleid nie. 

Pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede het ’n paar blink planne bevat, maar dié planne moet daadwerklik toegepas word om ’n ekonomiese ommeswaai teweeg te bring. Die regering moet verseker dat hy die voorgestelde ekonomiese ingrypings kan uitvoer deur samewerking met die private sektor. Landelike en plaasveiligheid bly steeds 'n groot bron van kommer en oplossings vir polisiëring is nodig om hierdie nasionale krisis aan te pak. Die platteland van Suid Afrika val uitmekaar en dorpies sukkel om te bestaan, omdat die regering se eie mense nie weet hoe om hierdie dorpe en finansies te bestuur nie. Die dorpies het enorme skuld.

Pres Ramaphosa het in sy toespraak gesê die landbou en die landbouverwerkingsektor sal aansienlik uitgebrei word deur sleutelwaardekettings en produkte te ondersteun, nuwe markte te ontwikkel en steun op landbouinvoer te verminder. Met verwysing na die presidensiële adviespaneel se verslag oor grondhervorming wat hy verlede week in ontvangs geneem het, het Ramaphosa gesê die paneel se aanbevelings sal die afhandeling van ’n omvattende, verreikende en transformerende grondhervormingsprogram inlig. Die verslag is al by elke Minister en seker  ander politici, maar die landbouers waaroor alles gaan, weet nog niks. Dit is absurd dat die president verwag dat landbou ’n sleutelrol in ekonomiese groei moet speel te midde van die feit dat dit die sektor is wat die meeste ly onder die konsep van onteiening sonder vergoeding.

Suid-Afrika is nie op ’n goeie plek nie. Die ekonomie is byna in sy peetjie, armoede en ongelykheid word by die dag erger, met misdaad wat hoogty vier. Die korrupsie en morele bankrotskap van die Zuma-era wil ook net nie wyk nie. Boonop is onverdraagsame twitterati besig om die openbare diskoers in die land te bepaal en van maatskaplike samehorigheid, iets waaraan die president groot waarde heg, is daar nie eintlik veel meer sprake nie. Rassehaat is aan die orde van die dag- jy kan net op sosiale media rondblaai en dit aanskou. Nog steeds word ons landbouers vermoor en aangeval en daarmee saam ander inwoners van Suid Afrika- Die President het hom glad nie hieroor uitgespreek nie. 

Tyd is iets waarvan Suid-Afrika nie veel het nie, veral nie mense wat elke aand honger gaan slaap nie. Hulle kan nie nog tien jaar wag nie. Baie van die beloftes is ook al gehoor, maar vir baie mense is Suid-Afrika steeds nie ’n beter plek nie. Ramaphosa se vooruitsig vir die skep van 2 miljoen werksgeleenthede vir jong mense oor die volgende dekade is realisties nie. Sy voorgangers kon nie eens daarin slaag om ’n miljoen werksgeleenthede te skep nie. Om sy teiken te bereik, sal hy van rasgebaseerde ekonomiese bemagtiging moet wegbeweeg en onregverdige arbeidswetgewing moet aanpas.

Die President het self gese dis nou klaar gepraat daar moet nou gewerk word- en dalk so hier en daar gedroom word ook. Woorde moet egter met dade gepaardgaan en tot nou het die ANC regering meer gepraat as gedoen. Die huidige regering moet wys hoe hy anders as voriges gaan wees.

Sedert die koms van demokrasie 25 jaar gelede het ons nog nie ’n nuwe stad in Suid-Afrika gebou nie. Sowat 70% van Suid-Afrikaners sal teen 2030 in stedelike gebiede woon.  Daar is na raming tans meer as 60 miljoen mense in die land. Die vinnige verstedeliking en toestroming na veral groot stede sal watertekorte, ’n tekort aan skole ensovoorts veroorsaak, terwyl plakkersgebiede en onwettige grondbesetting onafwendbaar lyk. Die regering kyk na Landbou om sy werkloosheid op te los wat op die stadium nie baie rooskleurig lyk nie. 

Weelderige motors, huise, "namebrand" klere en skoene is die "show ' van die regering en sy meelopers asook verskeie ander politieke leiers. Groot salarisse, vakansiereise en duur horlosies, slimfone en Whiskey's bepaal meeste van die mense se persoonlikheid. Dit lyk of die huidige Minister van finansies baie van die weelde gaan beheer in die nuwe regering. 

Of die edelagbare President se oproep om plaaslik te koop gaan veld wen weet ons nie, maar dit is 'n stap in die regte rigting. Die probleem is dat nog byna geen projek wat die regering aangepak het suksesvol kon produseer nie.

Maar gegewe 'n nuwe span hoop ons dit gaan werk. Dit was lankal tyd dat die regering fabrieke moes oprig om alles wat so maklik van China af ingevoer word te vervaardig. Verbruikers moet produkte vermy wat uit ander lande hier gestort word. As ons plaaslike landbouprodukte koop, sal dit outomaties tot werkskepping lei en kommersiële boere help om te oorleef ten spyte van groot klimaatskwessies.

Die gedagte van 'n nuwe stad sal maar eers mooi ondersoek moet word, want as die edelagbare President saam met die Chinese President in die bed gaan spring om die stad te bou moet hy weet die Chinese stuur hulle eie mense om te kom bou en werk. Die gedagte van 'n "slim' stad of 'n "wyse'  stad is nog in wording in die wereld, en daarom moet Suid Afrika se regering maar vir eers hom bepaal by die huidige realiteit. 

Geloof en hoop is ons mense se voortbestaan, maar nie in mense nie-  dit is duidelik dat Suid Afrika 'n heel nuwe regeringsparty nodig het, met heel nuwe leiers met skoon verledes. Ons land en sy mense moet vereenig word en ons kan as 'n land se inwoners saamwerk. Landbou was nog altyd 'n voorbeeld waar mense van verskillende rasse saam werk en saam sukses bereik. Intussen moet ons die nuwe regering 'n kans gee om te doen wat hulle verkondig- onder die huidige President kan daar dalk heel goeie dinge gebeur. 

Landbou is nog gesond en die regering het nog nie sy kloue so sterk daarin gehad nie. Die tyd vir landbou en sy mense om saam te staan is nou. Landbou is joune, deel dit met mense wat dieselfde ideale en droom het oor landbou. Ons landbouers is van die beste in die wereld, word deel van die proses en staan by jou landbouorganisasies. Landbou is joune- beskerm dit.

Johann Pretorius