Meer mielies geproduseer as wat verwag is- Suid Afrika Junie 2019

Star InactiveStar InactiveStar InactiveStar InactiveStar Inactive
 

Die grootte van die verwagte kommersiële mielie-oes is op 10,933 miljoen ton gestel, wat 0,30% of 32 400 ton meer is as die vorige skatting van 10,900 miljoen ton.

Die skatting van die oppervlakte onder mielies is 2,301 miljoen ha, terwyl die verwagte opbrengs 4,75 t/ha is. Die geskatte mielie-oes is 13% kleiner as die 2018-oes. Die drie belangrikste mielieproduserende gebiede, nl. die Vrystaat, Mpumalanga en Noordwes provinsies, gaan na verwagting 80% van die 2019-oes produseer.

Die oppervlak onder witmielies is 1,298 miljoen ha en vir geelmielies is die oppervlak 1,002 miljoen ha. Die produksieskatting van witmielies is onveranderd gelaat op 5,488 miljoen ton teenoor die vorige skatting. Die opbrengs van witmielies is 4,23 t/ha.

In die geval van geelmielies is die produksieskatting 5,445 miljoen ton, wat 0,60% of 32 400 ton meer is as die 5,412 miljoen ton van die vorige skatting. Die opbrengs van geelmielies is 5,43 t/ha.

Sonneblomsaad:

Die produksieskatting vir sonneblomsaad is onveranderd gelaat op 611 140 ton. Die oppervlakteskatting vir sonneblomsaad is 515 350 ha, terwyl die verwagte opbrengs 1,19 t/ha is.

Ander gewasse:

Die produksieskatting van sojabone is 1,216 miljoen ton, wat 6,13% of 79 450 ton minder is as die vorige skatting van 1,296 miljoen ton. Die geskatte oppervlakte beplant van sojabone is 730 500 ha en die verwagte opbrengs is 1,67 t/ha.

Die verwagte grondbone-oes het met 9,36% of 2 125 ton tot 20 580 ton afgeneem, met 'n verwagte opbrengs van 1,03 t/ha. Die oppervlakteskatting vir grondbone is 20 050 ha.

Die produksieskatting van sorghum het ook effens afgeneem met 2,65% of 4 400 ton, van 165 850 ton tot 161 450 ton. Die oppervlakteskatting vir sorghum is 50 500 ha, en die verwagte opbrengs is 3,20 t/ha.

In die geval van droëbone is die produksieskatting afwaarts aangepas met 8,17% of 5 920 ton - van 72 450 ton na 66 530 ton. Die oppervlakte beplant met droëbone is 59 300 ha, en die verwagte opbrengs is 1,12 t/ha.

Die voorlopige oppervlakte beplant met mielies in die nie-kommersiële landbou-sektor word geskat op 296 000 ha, wat 'n afname van 5,98 % verteenwoordig in vergelyking met die 314 835 ha van die vorige seisoen. Die verwagte mielie-oes van dié sektor is 549 180 ton, wat 7,54% minder is as die 593 975 ton van die vorige seisoen. Dit is belangrik om daarop te let dat ongeveer 43% van die mielies wat geproduseer word in die nie-kommersiële sektor, in die Oos-Kaap geplant word, gevolg deur KwaZulu-Natal met 27%.