HOËR RENTEKOERSE GEEN OPLOSSING- Suid Afrika

User Rating: 5 / 5

Star ActiveStar ActiveStar ActiveStar ActiveStar Active
 

Rentekoerse

"Die Reserwebank sal in die komende weke, net soos die Amerikaanse Federale Reserweraad, Europese Sentrale Bank en ander sentrale banke in die wêreld, weereens die werking van die markkragte van vraag en aanbod totaal ignoreer wanneer hulle hul rentekoerse verder verhoog," sê Fanie Brink, 'n onafhanklike landbou-ekonoom.

"Hulle sal die internasionale ekonomie in 'n ernstige resessie dwing!"

Die sentrale banke glo dat rentekoerse 'n baie sterker markkrag in die ekonomie is as die markkragte van vraag en aanbod wat nooit korrek of waar kan wees nie!

 Kan die Reserwebank vir ons sê wat die invloed van die stygings in rentekoerse op die vraag in die ekonomie is as die rentekoste wat verbruikers betaal nie meer as twee persent van hul totale private verbruiksbesteding beloop nie? Of as dit so 'n lae gewig het dat dit nie eers op die lys van verbruikersitems verskyn wat Statistiek SA gebruik om die verbruikersprysindeks saam te stel nie?

 “Dit is op die beste weglaatbaar klein!”

 Kan die Bank ook vir ons sê wat die invloed van hoër rentekoerse op die onlangse ernstige aanbodkantskokke in die ekonomie is in terme van die hoër brandstof-, voedsel- en kunsmispryse as gevolg van die oorlog in die Oekraïne?

Die antwoord is presies niks nie want die Banke het absoluut geen beheer oor die aanbodkant van die ekonomie nie wat die enkele grootste rede is vir die huidige hoër inflasiekoers in die wêreld!!

 Die banke is van mening dat as hulle die verbruikers aan die vraagkant van die ekonomie met hoër rentekoerse straf vir prysstygings waarvoor hulle nie verantwoordelik is nie, sal dit ook die ernstige aanbodkantprobleme oplos.

Het die Banke dalk enige wetenskaplike bewyse dat die veranderings in die inflasiekoers deur die veranderings in rentekoerse verklaar kan word?? Dit bestaan ​​nie!

Die Banke is in die proses om die ekonomie in 'n ernstige wêreldwye resessie te druk deur hul rentekoerse verder te verhoog. Die voorsitter van die Amerikaanse Federale Reserweraad het ook reeds gesê: "Ons is nie bang om die ekonomie in 'n resessie te druk om inflasie te stop nie." Heeltemal belaglik!

"Die inflasiekoers word bepaal deur al die plaaslike en internasionale politieke en ekonomiese faktore wat 'n invloed op die vraag en aanbod van goedere en dienste het, sowel as op die waarde van die geldeenheid en ekonomiese groei!"

Die inflasie in die wêreld sal weer daal wanneer die oorlog tot 'n einde kom en die voedsel- brandstof- en kunsmispryse weer na normaliteit terugkeer, terwyl die Banke dan, soos in die verlede, weer op 'n lang ego-trip sal gaan oor hoe goed hul rentekoersbeleid die inflasiekoers aan bande gelê,” sê Brink.

Fanie Brink, Onafhanklike Landbou-ekonoom