TLU SA reageer op Minister se wanvoorstelling- Suid Afrika

User Rating: 5 / 5

Star ActiveStar ActiveStar ActiveStar ActiveStar Active
 

’n Redelike groot debat het in die media ontstaan oor die Agricultural and Agro-processing Masterplan (AAMP) wat afgeteken is en daarmee saam verskeie wanpersepsies.

Eerstens, die minister van landbou Thoko Didiza se aanspraak dat TLU SA ’n regverdige kans gehad het om deel te neem en sy stempel af te druk, is nie die volle waarheid nie.

“TLU SA het wel insette gelewer nadat dit duidelik geword het, dit is nodig om aspekte soos wat alles onder transformasie val, aan te spreek om duidelikheid te kry. Die plan is egter afteken sonder dat enige van ons insette ooit hanteer is,” het mnr. Bennie van Zyl, TLU SA Hoofbestuurder gesê.

“Dit moet in die begin duidelik gestel word dat daar bepaalde kundige navorsing en punte in die afgetekende plan vervat is waarmee TLU SA baie gemaklik is. Die kommentaar wat gegee word deur rolspelers wat die plan wel afgeteken het, fokus op daardie aspekte en indien dit al was wat in die plan vervat was sou TLU SA heel moontlik ook nie ’n probleem gehad het nie. Die harde werklikheid is egter dat die hele plan afgeteken is en die probleem lê juis in daardie dele waaroor daar geswyg word of waar daar steeds begrippe gebesig word wat tot op hede vir ons mislukkings veroorsaak het.”

Dié wat die plan onderteken het, verwys nou na pogings om die landbouplan te verpolitiseer en sê dat die AAMP inklusief is en politiek nie ’n rol gespeel het in die samestelling daarvan nie.

“Wat is transformasie anders as ideologie en verpolitisering?”

TLU SA, Saai, LWO, Neasa en WRSA wil almal uitnooi om insette te gee om ’n ekonomies gerigte plan daar te stel en dan te implementeer.

“Reg deur die land word ervaar dat alle inwoners moeg is vir die resultate van die ANC se ideologiese uitgangspunte wat sedert 1994 nog net meegehelp het dat dinge agteruitgaan. Ons kan  glad nie verstaan nie dat hier waar ons ’n geleentheid gehad het om ekonomiese beginsels te laat vergestalt; persone steeds in stilswye toekyk hoe daar ten spyte van goeie punte in die AAMP, daar weer knie gebuig is voor die ideologiese aspekte wat ook daarin vervat is.”