“Die verhoging in rentekoerse volgens die sentrale banke in die wêreld se rentekoersbeleid kan nie die inflasiekoers beheer, die wisselkoers beskerm of ekonomiese groei stimuleer nie.
Daar bestaan in elk geval geen bewyse om hierdie aansprake van sentrale banke en ekonome te substansieer nie,” sê Fanie Brink, 'n onafhanklike landbou-ekonoom.
Hy het verwys na die artikel "Inflasie kán sonder hoër rentekoers beveg word" wat vandag op die webblad van Netwerk24 verskyn het deur Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Groep, waarin hy klaarblyklik sy deuntjie verander het oor die bekamping van die inflasiekoers.
Veral as hy sê dat "die styging in die petrolprys nie inflasie is nie", maar "dit is presies wat die Reserwebank probeer doen deur die rentekoers te verhoog" om die inflasiekoers te verlaag. Hy sê "prysstygings (en dalings) is 'n normale verskynsel en ekonomiese kragte sal bepaal wie die las ervaar". Dit is die eerste keer ooit dat ek hoor dat Roodt, die Reserwebank of enige ander ekonoom erkenning aan markkragte gee!
Die vraag wat gevra moet word is hoe groot is die las of pyn van rentekoersverhogings?
Die rentekoste wat verbruikers betaal beloop niks meer as 2% van hulle totale privaat verbruiksbesteding nie en ek daag die Reserwebank uit om my verkeerd te bewys! Die gewig wat rentekoste wat verbruikers betaal in die Verbruikersprysindeks dra is so min dat dit nie eers voorkom op die lys van verbruikersitems wat Statisitiek SA gebruik om die indeks saam te stel nie. Die mate waartoe die verhoging in rentekoerse die "vraag in die ekonomie kan demp" is daarom in werklikheid onbeduidend en selfs weglaatbaar klein.
"Aangesien die Reserwebank ook verantwoordelik is daarvoor dat inflasie laag bly om die waarde van die geldeenheid te beskerm". Dit kan nooit waar wees dat die inflasiekoers en die waarde van die geldeenheid net deur veranderings in rentekoerse bepaal word. Omdat dit in werklikheid deur al die plaaslike en internasionale politieke en ekonomiese faktore bepaal word wat 'n invloed op die vraag en aanbod van goedere en dienste, die waarde van die geldeenheid en ekonomiese groei uitoefen, respektiewelik.
Roodt sê ook "almal ding in 'n vrye ekonomie mee", maar daar bestaan vandag nêrens in die wêreld meer 'n "vrye mark" nie omdat regerings van die meeste lande heeltemal te veel in hulle ekonomieë inmeng, veral in SA met die ANC-regering se suiwer sosialistiese beleid!
Dit is aanvaarbaar dat 'n "persoon bereid moet wees om deel te neem aan die pynlike proses" want hy het nie 'n ander keuse nie en omdat niemand iets daaraan kan doen nie, maar nie ook aan hoër rentekoerse wat nie die inflasiekoers kan verlaag, die waarde van die geldeenheid kan beskerm en ekonomiese groei kan stumileer nie!
Die aansprake van die Reserwebank hieroor en die stelling dat die invloed van rentekoersveranderings twee jaar neem om deur die ekonomie te werk" is eenvoudig nie waar en nog minder korrek nie.
Dit is ook die eerste keer ooit dat ek hoor Roodt, die Reserwebank of ander ekonome sê dat "hoër koerse nie die prys van internasionale oliepryse kan verlaag nie". Hy is natuurlik reg, maar die Reserwebank en al die ander sentrale banke in die wêreld glo dat Vladimir Putin die oorlog in die Oekraïne sal beëindig as hulle hul rentekoerse verhoog - ingesluit die Amerikaase Reserweraad en die Europese Sentrale Bank!
Die inflasiekoers sal weer afkom eers nadat die oorlog beëindig is en dan sal ru-olie- en voedselpryse weer terugkeer na normaal en nie omdat die sentrale banke hulle rentekoerse verhoog het nie. Hoewel die banke weereens soos in die verlede daarop sal aanspraak maak dat die inflasiekoers verlaag het as gevolg van die uitstekende werking van hulle rentekoersbeleid. Daarom is dit die enkele grootste dwaling in die ekonomiese wetenskap!
sê Brink.
Fanie Brink, Onafhanklike Landbou-ekonoom