AGRI SA FAAL LANDBOUBEDRYF- Suid Afrika

Star InactiveStar InactiveStar InactiveStar InactiveStar Inactive
 

Agri SA se besluit om opnuut "hande met die regering te vat" is uiters skokkend en het nou finaal die kommersiële landboubedryf aan die ANC-regering met sy vernietigende sosialistiese ideologie uitverkoop," sê Fanie Brink, 'n onafhanklike landbou-ekonoom.

Hy het verwys na die artikel “Tyd is reg vir landbou, regering om hande te vat” wat op die webblad van Netwerk24 verskyn het na Agri SA se jaarlikse kongres wat verlede week aanlyn gehou was.
 “Agri SA het baie duidelik net so min soos die regering 'n idee wat die primêre landbou-ekonomiese doelwitte van die landboubedryf is en hoe dit bereik kan word nie.”

 Die doelwitte is (a) die bevordering van die winsgewendheid en die volhoubaarheid van kommersiële landbouproduksie wat op aanvaarbare, wetenskaplike en ekonomiese beginsels gegrond is om die finansiële oorlewing van produsente te verseker, (b) die ondersteuning en bevordering van die landboubedryf deur die toepassing van die nuutste tegnologiese ontwikkeling om voedselsekerheid vir die land te verseker wat slegs volhoubaar kan wees as die produksie van voedsel winsgewend is en (c) die daarstelling van ’n politieke en ekonomiese beleidsomgewing waarbinne die landbou instaat gestel moet word om deur die verbetering van die bedryf se winsgewendheid en volhubaarheid ‘n groter bydrae tot ekonomiese groei te kan lewer.

Die georganiseerde landbou het as 'n sosiale vennoot van die regering hierdie doelwitte nou finaal afgeteken wat die landboubedryf tesame met al die ander bedrywe in die ekonomie binne die volgende 3 tot 4 jaar finaal sal vernietig.

“Die samewerking en begrip om die regering se fiskale en sosiale uitdagings wat die gevolg van sy vernietigende sosialistiese ekonomiese beleid is kan geensins 'n doelwit van die georganiseerde landbou wees nie.”

Die samewerking in 'n vennootskap met die regering het nog absoluut geen voordele vir die kommersiële landboubedryf ingehou nie, terwyl die inmenging van die regering die voortbestaan van die bedryf baie ernstig bedreig deur, onder andere, grondonteiening sonder vergoeding, minimum lone, die afwesigheid van enige droogtehulp, hoër belastings, en die vernietiging van die ekonomie in die algemeen.

Die baie ernstige fiskale probleme soos groter begrotingstekorte en regeringskuld, asook die sosiale probleme soos armoede, hongersnood, werkloosheid en ongelykheid is suiwer die verantwoordelikheid van die regering wat hy oor die afgelope jare in werklikheid dramaties vererger het en die gevolg van ernstige onluste en plundering van die ekonomie was.

Die politieke en ekonomiese transformasie van die landboubedryf sal nie slaag nie, maar sal voedselsekerheid vernietig en 'n uittog van duisende plaaswerkers en hulle families tot gevolg hê.

Die bedryf is ook nie die "hoeksteen van die ekonomiese herstelplanne” van die regering wat suiwer op sy vernietigende sosialisme baseer is en wat deur die georganiseerde landbou ten volle ondersteun word nie, maar wat reeds die ekonomie en die land onomkeerbaar vernietig het.

“Die georganiseerde landbou is nie veronderstel om die regering se mislukte beleid te ondersteun en te propageer nie, maar om die bedryf se doelwitte wat baie ernstige bedreig word met die Verenigde Nasies, die Wêreldbank en die Internasionale Monetêre Fonds op te neem om oplossings daarvoor te soek in stede daarvan om die vernietigende beleid van die ANC-regering te help implementeer!!," sê Brink.

"Tyd is reg vir landbou, regering om hande te vat"

https://www.netwerk24.com/netwerk24/sake/landbou/tyd-is-reg-vir-landbou-regering-om-hande-te-vat-20211014