MEER EKONOMIES VERNIETIGENDE TRANSFORMASIE- Suid Afrika

Star InactiveStar InactiveStar InactiveStar InactiveStar Inactive
 

“Die ANC-regering se beleid van ‘radikale ekonomiese transformasie’, ‘inklusiewe ekonomiese groei’ en “ekonomiese hervorming” wat niks anders as suiwer politieke slagspreuke is nie het die ekonomie reeds tot bykans finaal oor die afgrond gestoot”, sê Fanie Brink, ‘n onafhanklike landbou-ekonoom.

Ten spyte daarvan sê die Minister van Finansies, Enoch Godongwana, nogtans dat die “ekonomie kort transformasie” terwyl hy erken dat “Suid-Afrika se ekonomie in sy huidige vorm nie volhoubaar is nie.”

Brink het verwys na die artikel, “Ekonome kort tranformasie,”1) wat gister in die Rapport verskyn het.

Die Minister het ook erken dat “dié syfers toon dat die land se nywerheidsbasis in werklikheid vernietig is waar die werkverliese, inkomste-ongelykheid en armoede vandaan kom.”

Die “vervaardigingsbedryf het van ’n hoogtepunt van omtrent 22% in die 1980’s tot die huidige 12% van die Bruto Binnelandse Produk (BBP) afgeneem. Die kapitaalbasis van dié bedryf het boonop in reële terme van R677,7 miljard in 2008 tot R545,9 miljard gekrimp.”

Tenspyte daarvan moet die ekonomie nou nog verder transformeer, hervorm en vernietig word! Ongelooflik!

Die enigste gevolgtrekking wat daarom gemaak moet word is dat die ANC se ekonomies ongeletterde en onbevoegde politici net eenvoudig nooit sal verstaan hoe ekonomiese groei geskep word nie. Hieroor moet daar geen twyfel bestaan nie en ook nie oor die sekerheid dat die ANC-regering met sy sosialistiese ekonomiese beleid die ekonomie binne die volgende 2 tot 3 jaar finaal sal vernietig nie! Terwyl die kans vir nog erger onluste en plundering by die dag al groter word het die Minister dit nou duidelik bewys dat die ANC-regering in werklikheid nog nooit ‘n ekonomiese groeiplan gehad het wat die ernstige fiskale en sosiale probleme in die land kon oplos nie!

Die voormalige premier van Brittanje, Winston Churchill, het nie verniet gesê: "Socialism is a philosophy of failure, the creed of ignorance, and the gospel of envy, its only inherent virtue is the equal sharing of misery.”

Die ekonomiese vernietiging sal veroorsaak dat Suid-Afrika sy fiskale soewereiniteit verloor sowel as sy status as ‘n ontwikkelende land en in ‘n onderontwikkelde land met baie groter armoede, hongersnood, werkloosheid en ongelykheid sal verval wat selfs die voortbestaan van die demokrasie in gedrang sal bring.

Die groot historikus, Alexander Tytler, het reeds in 1787 die volgende gesê: “A democracy is always temporary in nature; it simply cannot exist as a permanent form of government. A democracy will continue to exist up until the time that voters discover they can vote themselves generous gifts from the public treasury. From that moment on, the majority always votes for the candidates who promise the most benefits from the public treasury, with the result that every democracy will finally collapse due to a loose fiscal policy, which is always followed by a dictatorship. Invariably, the majority (having become complacent and pathetic), choose those who promise to take from one group and share the spoils amongst those who are less productive. An apathetic population is not one that will suddenly decide to roll up its sleeves and get the country, once again, on a productive footing, but will rather jump on the wagon of empty promises and rides it downhill until it reaches the bottom of the economic.”

Die ANC-regering sal nooit verstaan dat dit in die eerste plek nie gaan oor die skepping van groter werksgeleenthede deur die transformasie van die ekonomie nie, maar oor ‘n politieke en ekonomiese omgewing wat die regering daar moet stel om dit vir die privaatsektor moontlik te maak om wins en ekonomiese groei te skep.

Wins is die enigste skepper van ekonomiese groei wat deur produsente, vervaardigers, verskaffers van persoonlike dienste en andere aan die aanbodkant en verbruikers aan die vraagkant van die ekonomie volhoubaar geskep kan word.

“Die ANC-regering sal gestop moet word met sy voorgesette ekonomies vernietigende transformasiebeleid, terwyl die vooruitsigte vir die ekonomie en die land baie dringend aangespreek sal moet word omdat dit baie slegter lyk as ooit in die verlede,” sê Brink.

Fanie Brink, Onafhanklike Landbou-ekonoom

1)     “Ekonomie kort transformasie”

https://www.netwerk24.com/Sake/Ekonomie/ekonomie-kort-transformasie-20210925