NUWE GROEISYFERS STEEDS MISLEIDEND - Suid Afrika

Star InactiveStar InactiveStar InactiveStar InactiveStar Inactive
 

“Statistiek SA het gister aangekondig dat die ekonomie in die tweede kwartaal vanjaar met 1,2% gestyg het nadat besluit is om nie meer die kwartaallikse groeisyfers te annualiseer om ‘n jaarkoers te verkry nie.

Die syfers is egter nogsteeds misleidend en niksseggend omdat die Bruto Binnelandse Produk (BBP) vir die tweede kwartaal steeds met die eerste kwartaal vanjaar en nie met dieselfde kwartaal verlede jaar vergelyk is nie,” sê Fanie Brink, ‘n onafhanklike landbou-ekonoom.

Die groeikoers vir die tweede kwartaal het op grond van dieselfde syfers vanjaar nie net met 1,2% gestyg nie, maar in werklikheid met 19,3% as dit met dieselfde kwartaal verlede jaar en nie met die eerste kwartaal vanjaar vergelyk was nie.

Hierdie groot styging in die tweede kwartaal het die lae basis-effek weerspieël wat veroorsaak was deur die baie ernstige afswaai in die tweede kwartaal verlede jaar.

Sommige ekonome en die meeste batebestuurders, asook die Reserwebank, het egter die tweede kwartaal se groeisyfers weer geannualiseer en verwag ‘n groeikoers van meer as 4% vir vanjaar omdat dit met die vorige kwartaal vergelyk is en vir seisoenale skommelings aangepas is.

Hierdie syfer is egter hoogs spekulatief omdat die derde kwartaal heelwaarskynlik heelwat swakker as dieselfde kwartaal verlede jaar kan wees as gevolg van die skade wat die onluste aan die ekonomie aangerig.

Die korrekte groeikoers vir 2021 gaan aan die einde vanjaar uit die aard van die saak bepaal word deur die BBP van die vier kwartale vanjaar met die BBP van dieselfde vier kwartale verlede jaar te vergelyk waarin die vergelyking van die BBP vir vanjaar se kwartale wat met die voorafgaande kwartale vergelyk was geen rol sal speel nie.

Dit kan geensins as ‘n aanduiding gebruik word van die groeikoers wat vanjaar verwag kan word nie. Die ses maandellikse groeikoers wat die eerste twee kwartale vanjaar met dieselfde kwartaal verlede jaar vergelyk het en met die invloed van die lae-basis effek van 7,5% is op hierdie stadium die beste aanduiding van die verwagte groeikoers vanjaar afhangende hoe die laaste ses maande vanjaar verloop.

Die kwartale in dieselfde jaar is geensins met mekaar vergelykbaar nie. Indien elke kwartaal met dieselfde kwartaal van die vorige jaar vergelyk sou word sal dit in elk geval ‘n jaarkoers wees wat dan nie geannualiseer of vir seisoenskommelings aangepas hoef te word nie omdat dit dan ook dieselfde “seisoene” met mekaar vergelyk.

Groot kwartaallikse seisoenskommelings kom gereeld in die landboubedryf voor as gevolg van die wisselvalligheid in die klimaat, maar dit kan ook ‘n groot invloed op ander bedrywe in die ekonomie uitoefen soos die groot- en kleinhandelsbedrywe, asook die vervaardigings- en vervoerbedrywe wat juis uitgewys moet word deur elke kwartaal met dieselfde kwartaal van die vorige jaar te vergelyk omdat dit ook ‘n groot invloed op ekonomiese groei asook die verbruikerspryse van voedsel het. Hoofsaaklik omdat die produsentepryse van landbouprodukte suiwer net op die vraag en aanbod in die mark en nie op die totale produksie- of vervaardigingskoste plus ‘n winsmarge soos aan die inset- en uitsetkant van die landbou bepaal word nie.

Die skade wat die onlangse onluste in Julie vanjaar aan die aanbodkant van die ekonomie aangerig het wat nog geensins verby is nie, tesame met die styging in werkloosheid wat die privaatverbruiksbesteding aan die vraagkant sal benadeel, terwyl die swak besigheidsvertroue en die voortdurende elektrisiteitstekorte ekonomiese groei vir die derde aansienlik sal vertraag.

Die bekendmaking van die Zondo-kommissie se verslag oor hoe die ANC-regering en sy trawante die ekonomie reeds feitlik finaal vernietig het wat steeds sal voortduur beteken dat daar geen vooruitsigte bestaan dat enige veranderings of verbeterings sal plaasvind wat ekonomiese groei kan skep nie.

Die feit dat ekonomiese groei nog geskep word is suiwer te danke aan entrepreneurs en besigheidsbestuurders in die privaatsektor wat onder die haglike toestande wat deur die regering se vernietigende sosialistiese ideologie geskep is steeds winste kan genereer wat die enigste skepper van ekonomiese groei is.

Die regering sal moet aanvaar en besef dat die produsente, handelaars, vervaardigers,  verskaffers van persoonlike dienste en andere aan die aanbodkant en die verbruikers aan die vraagkant van die ekonomie die belangrikste rolspelers as die skeppers van ekonomiese groei, welvaart en vooruitgang is.

Fanie Brink, Onafhanklike Landbou-ekonoom

    Die kwartaallikse publikasie van Statistiek SA kan by die volgende skakel afgelaai word:

     http://www.statssa.gov.za/publications/P0441/P04412ndQuarter2021.pdf