REGERING HET GEEN BEGRIP VAN GROEI EN VOORUITGANG- Suid Afrika

Star InactiveStar InactiveStar InactiveStar InactiveStar Inactive
 

Die ANC-regering het geen begrip daarvoor dat ekonomiese groei en voortuitgang totaal afhanklik is van die winsgewendheid en volhoubaarheid van al die individuele bedrywe soos, onder andere, die produksie-, vervaardigings-, konstruksie- en handelsbedrywe in die primêre en sekondêre sektore, asook die dienstebedrywe in die tersiêre sektor van die ekonomie nie,” sê Fanie Brink, ‘n onafhanklike landbou-ekonoom.

Brink het verwys na die inligtingsessie van FNB Agrisake verlede week in Johannesburg waartydens die jongste verwikkelinge in die mieliebedryf ter sprake gekom het.

Hy sê dat naas die ernstige droogtes, is die grootste probleem in die mieliebedryf die feit dat mielieprodusente nog altyd te veel mielies geplant het omdat hulle oor die langtermyn beter af sou gewees het as hulle minder geplant het. Die oordragvoorraad van 3,2 miljoen ton vir hierdie jaar waarna daar tydens die besprekings verwys is, is in werklikheid witmielies waarvoor daar nie 'n internasionale mark gevind kon word nie en wat met die vorige rekordoes van meer as 17 miljoen ton veroorsaak het dat die prys van mielies van R5000 tot R2000 per ton geval het. Produsente se inkomste, net soos die van ander entrepreneurs, word deur die grootte van die oes en die pryse bepaal wat baie benadeel word as surplusmielies teen baie laer uitvoerpariteitspryse uitgevoer moet word, terwyl hulle produksiekoste elke jaar buitensporig styg.

'n Mielieprys van R2400 per ton behoort boere glad nie aan te moedig om die komende seisoen meer meilies te plant nie, trouens hulle behoort minstens 300 duisend hektaar minder aan te plant omdat hierdie prys op 'n gemiddelde basis nie eers hulle produksiekoste kan dek nie. Boonop is die produsente verantwoordelik vir die opbergingskoste van die surplusmielies wat vir maande lank in die silo's kan lê.

Landbouprodusente is prysnemers en nie prysmakers nie en het daarom nie ‘n meganisme, soos die insetverskaffers van produksiemiddele en die kopers van landbouprodukte, om hulle kostestygings aan die eindverbruikers deur te gee nie omdat die pryse van landbouprodukte suiwer deur die markkragte van vraag en aanbod in die plaaslike en internasionale markte bepaal word. Dit beteken dat landbouprodusente in die meeste gevalle prysstygings aan die insetkant van die landbou moet absorbeer wat op ‘n produksiekoste plus ‘n winsmarge basis deur die insetverskaffers vasgestel word.

Menselike en dierlike voedselvervaardigers en -handelaars stel ook hulle pryse op ‘n produksiekoste plus ‘n winsmarge basis vas en slaag baie goed daarin om al hulle kostestygings aan die verbruikers deur te gee. ‘n Prysmeganisme en luuksheid waaroor die landbou nie beskik nie.

Hierdie twee faktore is direk daarvoor verantwoordelik dat die pryse van landbou-insette en die verbruikerspryse van voedsel altyd vinniger as die produsentpryse van landbouprodukte styg. Regeringsbeleid veroorsaak verder ook kostestygings vir die landbou, waaronder verskeie belastings en heffings, stygings in elektrisiteitstariewe en minimum lone wat deur produsente absobeer moet word.

“Voedselsekerheid kan slegs volhoubaar wees as die produksie van voedsel winsgewend is en daarom is die volgende basies doelwitte die voorvereistes vir die landbou as ‘n bedryf in die primêre sektor van die ekonomie:

Eerstens, die bevordering van die winsgewendheid en die volhoubaarheid van landbouproduksie wat op aanvaarbare wetenskaplike en ekonomiese beginsels baseer is om die finansiële oorlewing van landbouprodusente te verseker.

Tweedens, die ondersteuning en bevordering van die landboubedryf deur die bedreigings wat die internasionale en plaaslike politieke en ekonomiese verwikkelings vir die bedryf inhou daadwerklik aan te spreek en die geleenthede wat nuwe tegnologiese en ekonomiese ontwikkelings teweegbring, te benut, om voedselsekerheid vir die land te verseker.

Derdens, die daarstelling van ‘n politieke en ekonomiese beleidsomgewing waarbinne die landbou instaat gestel moet word om deur ‘n verbetering in die winsgewendheid van die bedryf ‘n groter bydrae tot ekonomiese groei te kan lewer.”

Dieselfde doelwitte geld ook vir al die ander bedrywe in die primêre, sekondêre en tersiêre sektore van die ekonomie wat ook ondersteun moet word omdat ekonomiese groei totaal afhanklik is van die winsgewendheid en volhoubaarheid van die al die indiwiduele bedrywe in die ekonomie.

Die steeds verswakkende wisselkoers, wat nog dramaties sal verswak as gevolg van die regering se onkunde, onbevoegdheid, bankrotskap en korrupsie, hou wel beperkte voordele vir landbuprodusente in wanneer surplusse uitgevoer moet word, maar dit weeg geensin op teen die groot nadele wanneer tot soveel as 85% van die produksie-insette wat produsente elke jaar nodig het om te produseer, ingevoer moet word nie. Die beskermende invoertariewe teen ander lande se gesubsidieerde storting van landbouprodukte in die internasionle en plaaslike markte is totaal onvoldoende maar dit is suiwer 'n politieke aangeleentheid vir die ANC om hulle ondersteuners te beindruk. Die regering moet die landbou ondersteun om voedsel so doeltreffend en winsgewend as mootlik te produseer omdat dit die enigste manier is om voedselsekerheid vir die land te verseker.

“Dit is in elk geval nie die mielieprodusente se verantwoordelikheid om genoeg mielies vir die land te produseer nie, dit is die regering se verantwoordelikheid.”

Brink sê die ANC het geen begrip hoe ekonomiese groei geskep word nie en nog minder dat hy die ekonomie en land binne die volgende 5 jaar totaal sal vernietig. Die gevolge van ‘n baie moontlike volskaalse resessie hierdie jaar sal dit vir die landbou en al die ander bedrywe in die ekonomie egter totaal onmoontlik en onomkeerbaar maak om van die ANC se vernietigende beleid, wat deur baie organisasies en privaat inisiatiewe ten volle ondersteun word, te herstel.  

ooooooOoooooo

Bothaville
31 Maart 2019
Navrae: 082 573 5661