Landbou bied dalk die oplossing vir beurtkrag- Suid Afrika

Star InactiveStar InactiveStar InactiveStar InactiveStar Inactive
 

Agri SA se lede het die vermoë om elektrisiteit deur sonkragopwekking te verskaf, wat nodig is om toekomstige beurtkrag te voorkom.

Daar is reeds 500 aansoeke vir sonkrag-opwekkingsaanlegte, wat die potensiaal het om 1 400 MW by te dra om druk op die kragnetwerk te verlig. Indien die administrasieprosesse gestroomlyn word, kan dié 500 aansoeke en ander uitgerol word.

'Ons vra nie om befondsing of selfs spesiale behandeling nie, net om die proses binne Eskom en NERSA te bespoedig om hierdie aansoeke te verwerk,' sê Nicol Jansen, Agri SA se voorsitter van die Sentrum van Uitnemendheid: Ekonomie en Handel. 'Dit is 'n wen-wen geleentheid vir die regering en Suid-Afrika.'

Kleinskaalse sonfotovoltaïese (PV) installasies bied 'n geleentheid vir boere om elektrisiteit op te wek en druk op die kragnetwerk te verlig. Ongelukkig is slegs 13 projekte tans gekoppel en in bedryf, weens Eskom se stadige verwerking en administrasie van aansoeke, asook die stadige implementering van elektrisiteitsregulasies en die bottelnek om by NERSA te registreer.

Indien Eskom en NERSA hul prosesse kan bespoedig, kan hierdie aansoeke (meestal van boere) 1 400 MW genereer wat fase 1 beurtkrag kan verhoed. Verder kan die landbou dié potensiaal meer as verdubbel indien kommersiële banke bereid is om sonkragsentrales as sekuriteit te gebruik om toegang tot kapitaal te verkry. Tans benodig banke bykomende sekuriteit om hierdie projekte te finansier, wat deelname aan projekte beperk.

'Deur die regulatoriese en administratiewe beperkinge te verwyder en die gebruik van sonkraginstallasies as sekuriteit vir befondsingsprojekte, kan boere potensieel met verdere uitbreiding genoeg elektrisiteit verskaf om fase 3 beurtkrag te verhoed,' sê Jansen.


Newsletter Subscribe