Analise toon plaasaanvalle in Vrystaat daal aansienlik- Suid Afrika

Star InactiveStar InactiveStar InactiveStar InactiveStar Inactive
 

Die aantal plaasaanvalle in die Vrystaat het die afgelope drie jaar aansienlik afgeneem, alhoewel die aantal moorde min of meer dieselfde gebly het. Die Oos-Vrystaat is die gebied wat verlede jaar die meeste onder aanvalle deurgeloop het, terwyl die meerderheid daarvan oor naweke plaasvind het.

Dit is van die statistieke volgens Vrystaat Landbou (VL) se VKB Veiligheidslessenaar wanneer ’n analise van 2018, as ’n kalenderjaar vanaf 1 Januarie tot 31 Desember, se aanvalle gedoen en dit met die afgelope drie jaar s’n vergelyk word. Dié analise geld vir plaasaanvalle en -moorde in die Vrystaat vanaf 2016 tot 2018.

Volgens dr Jane Buys, veiligheidsrisiko-analis by VL, toon die analise ’n redelike afname in plaasaanvalle. “Gedurende 2016 was daar 59 insidente, in 2017 was daar 72 en in 2018 slegs 39 aanvalle,” sê sy. “Wat wel kommerwekkend is, is dat die moorde op plase en/of kleinhoewes waar werkers, opkomende landbouers én produsente geteiken word, ongeveer dieselfde gebly het. Dit het effens gedaal, met sewe moorde in 2016, ses in 2017 en ses in 2018.”

Meeste insidente
Die analise toon dat die Noord-Vrystaat in 2016 en 2017 die meeste aanvalle en moorde gehad het, met onderskeidelik 26 in 2016 en 30 in 2017. In 2018 het die Oos-Vrystaat die meeste insidente (18) gehad. Die Suid-Vrystaat is die gebied wat die minste geteiken word. Hier het ’n daling plaasgevind met 19 aanvalle in 2016, 13 in 2017 en ses in 2018.

Die dorpe en stede wat die afgelope drie jaar die meeste geteiken is, is Bloemfontein (meestal kleinhoewe-gebiede), Clocolan, Ficksburg en Ladybrand. In 2016 het 41 dorpe en/of landbougemeenskappe in die Vrystaat plaasaanvalle en moorde beleef. Dit het in 2018 na 30 dorpe gedaal.

Geweldsmisdade soos poging tot moord in landbougemeenskappe het vanaf 15 in 2016 tot vyf in 2017 en 2018 gedaal. Die grootste ernstige geweldsmisdaad op landbougrond blyk gewapende en/of huisrowe te wees.

Gewildste maande en dae
Die maande waarin die meeste plaasaanvalle voorgekom het, is Augustus en Maart. Die meeste plaasaanvalle in die Vrystaat vind oor naweke, vanaf Vrydae tot Sondae, plaas (19 uit 39 in 2018). Sowat 50% vind op Saterdae plaas. Dinsdae is ook die afgelope twee jaar ’n prominente dag vir plaasaanvalle.

Oor dié drie jaar was dit insiggewend dat die meeste plaasaanvalle min of meer in die middel of aan die einde van ’n maand plaasgevind het. Dié tye is die 9de tot die 15de en weer vanaf die 26ste tot die 30ste van elke maand. Die meeste aanvalle (effens meer as 50%) het in die aand (18:00 tot middernag) plaasgevind. Dit is insiggewend dat sowat 50% van die aanvalle ook in die dag plaasgevind het.

Die oorgrote meerderheid slagoffers was alleen toe hulle aangeval is. Dit is egter kommerwekkend dat twee en meer slagoffers in 22 uit 59 aanvalle in 2016, in 29 uit 72 aanvalle in 2017 en in 16 uit 39 aanvalle in 2018 (sowat 37 tot 41%) geteiken is. Die meeste kinders wat die afgelope drie jaar in plaasaanvalle aangerand is, is in 2017 geteiken. In 2016 was 50%, in 2017 36,4% en in 2018 52,38% van die slagoffers jonger as 50 jaar. Dit wil voorkom of al meer jonger slagoffers geteiken word.

Groter groepe aanvallers
In 47 uit 59 aanvalle in 2016 (79,66%), 58 uit 72 aanvalle in 2017 (80,55%) en 32 uit 39 aanvalle in 2018 was tussen twee en sewe aanvallers by plaasaanvalle en/of moorde betrokke. Dus was tussen 79,6 en 82,1% aanvalle deur twee of ses aanvallers, met ander woorde groter groepe, gepleeg.

In 48 tot 61% van die aanvalle is vuurwapens gebruik. Ander gevaarlike wapens sluit in kieries, pylgewere, spiese, tuinvurke en ysterpype.

In 19 uit 59 aanvalle in 2016 (32,2%), 22 uit 72 aanvalle in 2017 (30,55%) en 20 uit 39 aanvalle (51,28%) in 2018 is voertuie deur aanvallers gebruik om na en van tonele te beweeg. Dus is voertuie in 30 tot 52% van die gevalle gebruik. In nagenoeg 15 tot 20% van die gevalle is voertuie van slagoffers gebuit.

Dit is insiggewend dat in 13 uit 59 aanvalle in 2016, 19 uit 72 aanvalle in 2017 en vier uit 39 aanvalle in 2018 niks geroof is nie. In die meerderheid van die gevalle was dit te danke aan die paraatheid van slagoffers wat alarm gemaak het en die aanval afgeweer het deur terug te veg of te skiet. Die aanvallers het dus die tonele verlaat sonder om slagoffers te beseer of enige items te roof.

Daar is in 16 uit 59 sake in 2016, in 26 uit 72 sake in 2017 en in 13 uit 39 sake in 2018 arrestasies uitgevoer. Dit is ’n syfer van 27 tot 36%. In baie gevalle is arrestasies uitgevoer deur produsente wat gemobiliseer het en gebiede toegemaak het sodat aanvallers nie kon ontsnap nie.

Nalatigheid van slagoffers
Wat kommerwekkend is, is dat nagenoeg 22 tot 35% van die aanvalle verhoed kon word as dit nie vir die nalatigheid van slagoffers was nie. In baie gevalle het slagoffers byvoorbeeld hul deure oopgemaak as in die nag geklop is. Baie slagoffers het ook in die nag wakker geword wanneer mense in die huis rondbeweeg. Daar was ook geen hond wat alarm kon maak of ’n veiligheidshek in die huis nie.

Daar is steeds slagoffers wat ondersoek instel wanneer honde buite blaf. Heelwat insidente vind ook plaas waar geen geforseerde toegang tot ’n woning bekom is nie en vensters en deure oopgestaan het. Dit maak dit vir misdadigers maklik om slagoffers te oorrompel en aan te rand.

In 21 uit 59 aanvalle in 2016 (35,59%), in 16 uit 72 aanvalle in 2017 (22,22%) en in elf uit 39 aanvalle in 2018 (28,21%) kon aanvalle aan verslapte veiligheidsmaatreëls of nalatigheid deur slagoffers toegeskryf word. – Vrystaat Landbou-nuusbrief


Newsletter Subscribe