Suid-Afrika se landbou-uitdagings: ons benodig ‘n nuwe bril

Suid-Afrika se landbou-uitdagings: ons benodig ‘n nuwe bril

User Rating: 5 / 5

Star ActiveStar ActiveStar ActiveStar ActiveStar Active
 

Wat is die uitdagings wat landbou in Suid-Afrika tans in die gesig staar? Dit is ‘n vraag met amper soveel antwoorde as wat daar boere en landboukundiges in hierdie land is.

Christian Giesel, hoof van bemarking by Syngenta Suid-Afrika, is van mening dat nuwe oplossings navore tree wanneer mens met ander oë na die uitdagings kyk.

Dit is geen geheim nie dat ons land die volle ontwikkelingspektrum insluit: van die mees gesofistikeerde finansiële stelsels ter wêreld tot tradisionele ruilhandel in landelike gebiede; van verbruikers wat alleenlik kos eet wat as organies gesertifiseer is tot huishoudings wat beswaarlik die mees basiese items kan bekostig.

Dieselfde spektrum geld vir die hele landbouwaardeketting en moet as agtergrond dien vir enige bespreking oor uitdagings en hul oplossings. Dit beteken dat globale uitdagings op eiesoortige wyse hier uitspeel en dat ons hulle vanuit ‘n plaaslike invalshoek moet hanteer. Dit beteken ook dat in soverre die spektrum dinge kompliseer, dit ook ‘n verskeidenheid van hanteringsopsies moontlik maak.

Met dit in gedagte, gee ek graag my siening van drie uitdagings waarmee plaaslike produsente tans worstel.

Klimaatsverandering, gronderosie en verlies aan biodiversiteit

Suid-Afrikaanse boere is lank reeds rentmeesters van die grond, maar ons gaan dinge anders moet begin doen as ons wil voortgaan om genoeg kos te produseer om ‘n groeiende wêreldbevolking se honger te stil.

Grondgesondheid is ‘n groot deel van die strategie wat ons moet volg om klimaatsverandering, gronderosie en verlies aan biodiversiteit die hoof te bied. Mens kan slegs die kaarte speel wat in jou hand is, en in Suid-Afrika sluit ons kaarte gronde met ‘n baie lae organiese inhoud in. Die Wesselsbronomgewing in die Vrystaat, byvoorbeeld, is een van ons hoë potensiaal produksiegebiede, maar die gronde daar bevat minder as 0.5% organiese materiaal. Vergelyk dit met die 4% tot 6% organiese inhoud in Illinois in die VSA, en ons boer vir alle praktiese doeleindes in ‘n woestyn! Amerikaanse landboupraktyke kan dus nie sommer outomaties hier toegepas word nie.

Ons benadering moet op bewaringsboerderypraktyke fokus. Lewendige plantmateriaal regdeur die jaar verhoog grond se organiese inhoud en verhoed erosie veroorsaak deur wind en/of oorstromings – die soort van uiterste weerstoestande wat toenemend en meer gereeld voorkom.

Bewaringspraktyke jaag sommige produsente die harnas in, siende dat oesreste, onkruid en selfs sekere wisselbougewasse ‘n habitat skep vir insekte en swamsiektes. In dieselfde asem, bied hulle egter ook skuiling aan voordelige organismes.

 Die antwoord op hierdie vraagstuk lê in ‘n geïntegreerde benadering wat chemiese gewasbeskerming en strategiese bewerking insluit. Die dae van ploeg net om te ploeg, is verby. Ons kan eenvoudig nie bekostig om organiese materiaal in die vorm van CO2 te verloor net omdat tradisie voorskryf wanneer wat gedoen moet word nie. Bewerking moet doelbewus en deurdag aangepak word.

Tegnologie  teenoor werkverskaffing

Boerderysukses berus tot ‘n groot mate op  skaalvoordele. In die ontwikkelde wêreld, is dit ‘n paadjie wat reguit na tegnologie en outomatisering lei. In Suid-Afrika is dit egter minder vanselfsprekend, gegewe ons arbeidsituasie en die sosiale verantwoordelikheid wat op alle werkgewers rus om werksgeleenthede te beskerm.

 Dit beteken wel nie dat ons die rug op tegnologie moet keer nie. Die teendeel is waar: ons behoort tegnologie te gebruik om die werksmag so effektief en produktief as moontlik aan te wend. Outomatisering is nie van pas onder alle omstandighede nie, maar die presisie wat daardeur moontlik gemaak word, moet nagejaag word om insetverliese en omgewingsimpak tot die minimum te beperk.

 'n Hulpbron soos Cropwise Operations illustreer hierdie beginsel. Cropwise Operations is ‘n digitale platform wat ‘n omvattende bestuurstelsel vir gewasmonitering, beplanning en rekordhouding bied. Deur middel van die Internet of Things (IoT), integreer dit met sensors in plaasimplemente en weerstasies om die sleurwerk uit presisieboerdery te haal. Selfs sonder hierdie vlak van sofistikasie, stel Cropwise Operations produsente in staat om insette soos chemie, bemesting, besproeiing en selfs diesel meer optimaal te benut en terselfdertyd die grootste moontlike voordeel uit elke toediening te haal.

 

Dieselfde geld vir die gebruik van hommeltuie vir verkenning en die insameling van inligting. Die fokus met die gebruik van tegnologie verskil dus, maar die waarde daarvan bly bo verdenking. Só ‘n benadering ontlont ook tot ‘n groot mate die spanning wat soms tussen tegnologie en werkverskaffing bestaan.

  

Veranderinge in verbruikers se voorkeure en verwagtinge

Ons kan nie stry met die feit dat verbruikers in ontwikkelde lande aandring op kos wat volhoubaar verbou word nie, en dat dit produsente se bewerkingspraktyke en gebruik van insette, veral plaagdoders, onder druk plaas. Maar dit is ook ‘n feit dat hierdie verbruikers nie die enigste mark is wat bestaan nie. Miljoene mense in ons eie land en regoor die wêreld voer ‘n daaglikse stryd om nie honger te gaan slaap nie. Dit beteken nie dat hulle ‘n stortingsterrein vir minderwaardige en selfs gevaarlike kos mag wees nie. Dit beteken bloot dat ons nie almal om dieselfde beursies meeding nie en dat produsente hul praktyke kan en moet aanpas volgens die mark waarin hulle wil speel.

 

Vereistes waaraan produsente moet voldoen om veral na die VSA en EU uit te voer, is in sommige gevalle onnodig en onredelik en plaas ‘n geweldige las op produksiekoste. Die besluit om ‘n ander mark te bedien – met dieselfde gehalte maar minder hekkies om oor te spring – kan ‘n wesenlike impak op ‘n plaas se winsgewendheid hê.

 

‘n Groeiende voorkeur vir plaaslik verboude kos ontsluit verdere geleenthede vir produsente en kan as teenvoeter dien vir langafstand vervoerkoste en die skokkende toestand van plattelandse paaie.

 

‘n Meer verfynde benadering tot verbruikers se behoeftes en voorkeure kan produsente ook help om internasionale ekonomiese verskuiwings beter te hanteer. Gewasdiversifisering, verkenning van nismarkte en ‘n belegging in sterk netwerke is voorbeelde van strategieë wat die veerkrag van individuele produsente en die plaaslike bedryf as geheel ‘n hupstoot kan gee.

 

Ten spyte van al die uitdagings, is landbou steeds ‘n bevredigende industrie om in te wees. Meer as ‘n loopbaankeuse, is dit ‘n verbintenis tot die mensdom se toekoms op hierdie planeet. Danksy tegnologie beteken boerdery nie meer 'n geïsoleerde bestaan ​​nie, maar eerder 'n bestaan ​​wat ons in voeling hou met die hartklop van lewe op aarde. Probeer dus om deur ‘n effens ander bril na die bedryf se uitdagings te kyk, en jy sal verstom staan oor al die geleenthede wat jy raaksien.