TOE my ma se parkinsons-ondersteuningsgroep begin praat oor die wondere van dagga-olie (wat mens kan kry by iemand wat iemand ken wat die “beste ooit” maak) het dit my ietwat tot onrus gestem omdat ek absoluut niks weet van die kannabinoïed-wêreld nie, behalwe my eie twee (wild uiteenlopende) ervarings.
Die eerste keer was ek 'n student. Dagga het my so paranoïes gemaak dat ek vir ure onder 'n tafel weggekruip het. Die tweede keer, 'n dekade later, iewers aan die Transkeise kus, oortuig 'n vriend my om 'n teugie te vat van 'n kontrepsie wat hy met 'n aartappel geprakseer het. Kom ons sê net alles het ewe skielik rooskleurig begin lyk. Die see was blouer, die strand eindeloos en die man met die aartappelpyp beeldskoon-begeerlik-mooi ...
Albei my ervarings is duidelik nie iets wat my moeder en die parkinsons-kennisse in gedagte het nie. Húlle is begeesterd oor 'n video wat iemand aangestuur het oor hoe daggadruppels help met die moeilike simptome van dié siekte. En hulle doen navorsing op die internet. Dit help met die bewerasies, sê hulle. Dit help met geheue. En dit help om jou beter te laat slaap. En, sê hulle: “Die mense" sê dit help vir alzheimers ook.
My ma sê ons moet dit miskien probeer. Maar ek bly katvoet; ek weet te min. En daai onbeheerste gevoel van dekades gelede maak my steeds bang.
Ek koop intussen 'n paar boksies “CBD powder" by die toonbank van 'n kettingkoffiewinkel. Dit is professioneel verpak, en jy kan selfs jou wegneemkoffie met 'n skeut daarvan bestel. Dit help, sê die verpakking, met angstigheid, slaap, chroniese pyn en inflammasie. Jou “daily dose of calm”.
Nou wil ek meer weet. En présies weet.
Daarvoor moet ons begin met 'n chemieles. Net 'n kleintjie. Byt vas.
Die wetenskap
Dagga en hennep is twee verskillende plante in die groter Cannabaceae-familie (soos 'n speldekussing en die suikerbos in die groter proteafamilie). Albei plante bevat chemiese verbindings wat kannabinoïede genoem word. Daar is nou al meer as 113 van hulle geïsoleer.
Kannabinoïede werk in op sekere ontvangers in die liggaam wat as die endokannabinoïedestelsel (EKS) bekend staan.
Die twee kannabinoïede waaroor daar die meeste inligting is en die meeste navorsing gedoen is, is tetrahidrokannabinol (THK) en kannabidiol (KBD). In Engels is hierdie afkortings THC en CBD.
THK is die samestelling wat jou “hoog" maak. KBD bevat géén psigo-aktiewe bestanddele nie en sal jou dus nie hoog maak as dit op sy eie gebruik word nie. Die Wêreldgesondheidsorganisasie sê daar is in hierdie stadium geen bewyse dat die gebruik van suiwer KBD enige gesondheidsverwante probleme inhou nie.
Die EKS is 'n komplekse sel-seinstelsel in die liggaam wat in die vroeë 1990's ontdek is deur navorsers wat probeer verstaan het wat die uitwerking van KBD is. Alhoewel kenners nie alles oor die EKS verstaan nie, weet ons dat dit 'n rol speel in onder meer hoe ons slaap, ons gemoedstemming, aptyt, geheue, fertiliteit en voortplanting.
Die EKS is aktief in jou liggaam al gebruik jy nie dagga nie.
Die wetgewing
Cathy Wynn is die hoof van bemarking by Goodleaf, die firma wat die pakkies KBD-poeier vervaardig wat ek in die koffiewinkel gekoop het.
“Dagga-olie en KBD-olie is twee heeltemal verskillende goed. Suiwer KBD-olie bevat geen THK nie en is dus nie psigo-aktief nie, terwyl dagga-olie wel THK sal bevat.
“Die wetgewing wat in 2019 verander het, het KBD gewettig en sekere voorskrifte in werking gestel oor pakgroottes ensovoorts. Die wetgewing het terselfdertyd die persoonlike gebruik van dagga gewettig, maar dit bly steeds onwettig om met dagga handel te dryf.
“Al ons produkte kom van die hennepplant, wat natuurlik ryk is aan KBD, terwyl die daggaplant baie minder KBD bevat en baie hoër vlakke van THK het. So vir KBD-produkte maak dit sin om die hennepplant te gebruik.
“In ons besigheid is daar iets wat as die ‘entourage effect’ bekend staan – dat as al die elemente van die plant saam gebruik word, met ander woorde al die kannabinoïede maar ook die reuk- en smaakelemente wat in die terpene en flavonoïede van die plant opgesluit is, is die effek daarvan baie sterker.
Dagga- of Cannabis Olie- Suid Afrika
“En dit is hoekom dagga-olie, wat al die elemente van die plant bevat, baie sterker is as 'n produk wat net KBD bevat. Dit word baie keer gebruik vir pasiënte wat byvoorbeeld kanker het en aan chroniese pyn ly, want die THK daarin is so kragtig dat dit soms deur die pyn kan sny wat ander medisyne nie kan nie. Maar die enigste manier om dagga-olie wettig in die hande te kry, is om 'n mediese voorskrif daarvoor te kry.
“As jy dit koop deur iemand se broer se oom se vriend wat dit in sy garage maak, dan moet jy baie versigtig wees, want jy kan nie seker wees wat in daardie produk is nie. Omdat daar verskillende maniere is om die uittreksel te maak, loop jy die gevaar dat daar miskien skadelike stowwe in is. Wees baie bedag op waar enige olie vandaan kom."
Die KBD wat Goodleaf gebruik, word uit Kanada en Colombia ingevoer omdat Suid-Afrika nog nie op die regte vlak is om die suiwer ekstrak by die groot maat te produseer nie.
“Ons voer ons KBD van die VSA en Colombia in en dit word nie net aan daardie kant as suiwer gesertifiseer nie, maar ons laat doen aan dié kant ook toetse op ons produkte om heeltemal seker te maak dat dit byvoorbeeld geen swaar metale of insekgif bevat nie, maar ook nie meer as 0.001% THK nie, soos in die Suid-Afrikaanse wetgewing bepaal word.
“Niemand kan hoog raak van enige van ons produkte nie, en as iemand ooit vir jou sê hulle het KBD gebruik en snaaks gevoel daarna, dan moet jy vra waar hulle dit gekry het, want met die vlakke van THK in ons produkte kan dit eenvoudig nie gebeur nie.”
Olie, room, poeiers
As Martha Stewart, Amerika se voorste koekiebakker en lewenstylghoeroe, begin om KBD-lekkers te verkwansel, dan weet jy 'n verskynsel is so hoofstroom as wat dit kán wees. Stewart sê sy't by haar vriend Snoop Dog, die Amerikaanse rapper, oor dagga geleer en eet nou tot 20 van haar jellielekkers 'n dag om haar “kalm en gefokus" te hou.
En daar is 'n interessantheid hier. Die Kanadese maatskappy Canopy Growth, wat Stewart se KBD-produkte ontwikkel, het die kweekaanleg wat hulle in Lesotho gehad het verlede jaar aan Goodleaf verkoop. Hulle staan nou op hulle vierde oes en verkoop dié blomme aan die mediese mark in Oos-Europa en Australië. Verlede jaar het hulle 8.5 ton uitgevoer.
Daar is verskillende maniere waarop jy KBD kan gebruik, sê Wynn. Uiteindelik gaan dit oor wat elke persoon verkies. Die bekendste manier is waar die KBD-ekstrak in 'n olie geplaas word en jy dan die druppels onder jou tong sit, waar dit deur die kliere opgeneem word.
“Maar ons het ook sakkies wat jy by jou koffie of smoothie kan voeg. Of by gebottelde water. Ons nuwe stafies is baie gewild. Mens kry ook KBD in kapsules, alhoewel ons dit nie maak nie. Maar veral ouer mense hou daarvan omdat dit 'n presiese dosis bevat.
Goodleaf ontwikkel nou ook 'n damptoestel (vape). “Dit is 'n baie vinnige manier om die KBD in jou liggaam in te kry en daarom is dit iets wat goed werk vir omstandigheidsangs, soos byvoorbeeld voordat jy 'n groot voorlegging moet doen. 'n Paar trekke sal onmiddellik die edge afvat. Sommige mense hou van die damptoestel om gedurende die dag te help as hulle angstig of oorweldig voel. Sommige mense sê dit het gehelp om hulle te laat ophou rook. Daar is 'n hele paar studies wat daarop dui dat dit kan help om die afhanklikheid van nikotien teen te werk."
En dan bemark Goodleaf ook verskeie velprodukte: rome, serums, olies en 'n liproom.“Omdat KBD so sterk anti-inflammatories is, werk dit goed vir mense met psoriase, ekseem en al die ander inflammatories-gedrewe veltoestande. En die hennep-olie wat ons in al ons produkte gebruik, is ook baie ryk aan omega 3 en 6; dus is dit 'n uitstekende bevogter.”
Is dit veilig?
Maar is daar 'n kans dat KBD-produkte negatief op ander medisyne kan inwerk?
Wynn sê dit is altyd belangrik om jou dokter te raadpleeg as dit jou bekommer, maar Suid-Afrika se wetgewing maak net voorsiening vir 'n 20mg-dosis van KBD per dag, en dit is baie laag in vergelyking met internasionale standaarde.
“In Amerika kan jy tot 60mg per dag gebruik en in Brittanje tot 70mg per dag."
Wynn sê hulle het “honderde kliënte" wat met die hulp van KBD minder afhanklik van angs- en depressiemedikasie, en ook kalmeer- en slaapmiddels geraak het.
“Baie mense is desperaat om van chemiese medisyne af te kom, en vir baie werk KBD uitstekend. Maar soos met enige medikasie is dit belangrik dat jy met die gesondheidspraktisyn praat wat die medikasie vir jou voorgeskryf het, want ons is nie mediese spesialiste nie."
Ná my gesprek met Wynn en al my oplesery staan ek nou hier met al hierdie kennis, en ek moet sê, ek is nog steeds bietjie senuagtig. Ek sal dit beslis maar eers met my ma se dokter bespreek voordat ons enige besluite oor KBD-olie neem.
Anneliese Burgess is mede-redakteur van Vrye Weekblad en die skrywer van Heist! South Africa's Cash In Transit Epidemic Uncovered.