Omgewingsbestuur belangriker as ooit - Suid Afrika

Star InactiveStar InactiveStar InactiveStar InactiveStar Inactive
 

Doeltreffende omgewingsbestuur is van kardinale belang vir volhoubare voedselsekuriteit.

Só praat Dr. Gawie du Toit, een van die land se voorste gronddeskundiges, en die kenner aan spits van TLU SA se Adviesdiens.

“Omgewingsbestuur ondersoek en bestudeer die natuurlike grond-sisteem, klimaat (water en temperatuur of sonenergie), plantegroei, dierelewe òp die grond (makrolewe) en ìn die grond (mikrobepopulasie) asook aksies van die mens op sy omgewing; met die doel om grondgebruik beter te verstaan, vir volhoubare voedselproduksie vir  die  nimmereindigende bevolkingstoename in Suid-Afrika,” verduidelik Dr. Du Toit.

“Landbou kan ’n geweldige invloed hê op die ekosisteme wat dit omring. Ingelyk kan die absolute oorheersende rol wat klimaat vir die saaibedryf van Suid-Afrika in die algemeen en die mieliebedryf in die somersaaigebied in besonder speel, nie oorbeklemtoon word nie.

“Hou nou verder ingedagte, dat afgesien van klimaat wat die ewewigspunt vir voedselproduksie net tans balanseer (met oënskynlike goeie voedselproduksie en uitvoere) ’n krities-analitiese waardering gemaak moet word van ‘n uiters delikate strategiese aspek wat nie ligtelik opgeneem moet/kan word nie.

“Omgewingsbestuur se kernwaarde is daarin geleë om sorg te dra dat hierdie ewewigspunt nie negatief beïnvloed word nie. Dit is egter nou net hier waar rooi ligte flikker.”

Dr. Du Toit wys op die volgende aspekte: Die ewewig grond-plant-klimaat het in homself ongelukkig ’n redelik ernstige agteruitgang van grondsuurheid en aftakeling wat niks goed voorspel vir voedselproduksie in die nabye toekoms nie, tensy die probleem spoedig opgelos word.

“Dit is ’n probleem wat ontstaan het deurdat boere gelei word om groot mielie-oeste na te jaag met onnodige groot hoeveelhede van veral stikstoftoedienings, wat verantwoordelik is vir die ongewenste besoedelingstoestand van grondsuurheid. Indien hierdie toestand  nie dringend aandag kry en opgelos word nie, kan voedselsekerheid ernstig benadeel word.”

   Suid Afrikaanse landbouers moet bouers en Welvaartskeppers bly.

Dr. Du Toit voeg by dat die probleem nietemin relatief maklik opgelos en bestuur kan word deur boere. “Hier kan ons dus omgewingsbestuur suksesvol hanteer word.”

‘n Volgende aspekte wat ernstige aftakeling tot gevolg het, met baie nadelige invloed op voedselproduksie , is onder andere besoedeling van ondergrondse water deur Mynbou (veral Oopgroef Steenkoolmyne) wat ons beperkte goeie watervoorraad, veral vir besproeiing in Suid-Afrika, op die spits dryf.

“Afgesien van die waterprobleem, vernietig hierdie onordelike Mynbou ons uiters skaars natuurlike hulpbron – grond – waarvan ons baie min het. Onthou daar kan nie meer grond ‘gemaak’ word nie. Dit wat die Liewe Vader ons gegee het, moet ons soos ‘n kleinood bewaar.”

’n Verdere chaotiese en skrikwekkende wateraspek is die Rioolwerke van feitlik alle Stadsrade en Munisipaliteite wat totaal in duie gestort het. Vanuit die oogpunt van Omgewingsbestuur is hierdie betrokke aspek ’n onhebbelike uitdaging wat ernstig aandag verdien.

“Alles wat uitgegooi en weggegooi word – dit wat bedoel is vir die ashope – is ’n groot kopseer. Hier kan ongelooflike verwerkingspotensiaal plaasvind. Daar is so baie wat met verwerkte plastiek gedoen kan word, om nie eers te praat van die duisende tonne voertuigbande nie –Plastiek en Rubber is ‘n groot bron van besoedeling, wat teruggewerk kan word vir hergebruik. Die bekende chemieseproses hiervoor word “pirolise” genoem.”

Alhoewel negatiewe impakte ernstig is en besoedeling en agteruitgang van grond, water en lug kan insluit, kan landbou ook ’n positiewe invloed op die omgewing hê, byvoorbeeld deur kweekhuisgasse(veral koolsuurgas) binne gewasse en grond vas te vang. Grondkunde is belangrik in diè verband, want met diè kennis word grond gesond gehou vir volhoubare produksie.

“Om nou gestalte aan hierdie waarde van landbou te gee oor die fundamentele begrip van die dinamiese wisselwerking grond-plant-klimaat, is dit belangrik om die agtergrond-filosofie soos formuleer deur grondkundige van Universiteit Pretoria, Prof Willem Fölscher te verwys.”

Volgens ’n bekende natuurwet, die Tweede Wet van Termodinamika, streef die heelal na ’n meer en meer wanordelike distribusie van energie en dus die verval van materie (entropie proses). Biologiese lewe, waarvan die voortbestaan en funksionering berus op ’n ordelike energietoestand en strewe na opbou van materie, is dus eintlik ’n natuuranomalie. Die produksiesisteem (wat deur die mens benut word) verteenwoordig dus ’n metastabiele ewewigstoestand wat gevolglik sterk eksterne druk ondervind om verandering te ondergaan. Vernietigende aksie van natuurkragte word vervolgens gebuffer deur sekerlik die grootste natuurwonder , tewete evolusie van die fotosintese proses van die groenplant met die grond as sleutelkomponent. Water, sonlig-energie en koolsuurgas uit die atmosfeer word deur die groenplant gebruik om energieryke verbindings te sintetiseer. Nie alleen word sodoende voedsel vir mens en dier gelewer nie, maar word ook voldoende potensiële energie in die vorm van organiese reste in die grond daargestel, ten einde verval-prosesse te stuit. ’n Uiters delikate ewewig balans ontstaan gevolglik tussen die heterotrowe (C-oksidasie) aktiwiteit (beskermingsproses) en outotrowe (N-oksidasie) aktiwiteit (verval-proses).

Dr. Toit sluit af met: “Hiervolgens is nou duidelik dat die wonderlike opbouende natuur-proses van fotosintese ’n duidelike voorbeeld stel en tot ons as mens spreek, hoe opgetree moet word om verval en vernietiging in ons omgewing teë te werk vir voortbestaan op planeet aarde.”