DIE eerste treë weg van die ongekende wêreldwye akkommoderende rentekoersbeleid van die laaste jare is gegee.
Verskeie sentrale banke, veral in ontluikende lande, het reeds begin met 'n proses om hul onderskeie beleidsrentekoerse van uiters lae vlakke te verhoog. Ontleders verwys hierna as 'n proses om rentekoerse geleidelik te normaliseer tot by die vlakke wat voor Covid gegeld het. Uit onlangse kommentaar van die Reserwebank (SARB) blyk dit dat Suid-Afrika dalk selfs voor die einde van die jaar ook dié paadjie gaan begin stap.
Ondanks die begin van 'n stygfase gaan beleidsrentekoerse waarskynlik nog vir 'n geruime tyd laer as in die periode voor Covid bly. Tog moet plaaslike verbruikers en die regering in hul bestedingsbesluite oor komende maande daarvan bewus wees dat krediet nou gaan begin duurder word. Raadgewers moet dit ook nie uit die oog verloor in hul advies aan beleidmakers nie.
Sentrale banke van oor die wêreld heen, insluitend die SARB, het verlede jaar vinnig en aggressief gereageer om die rimpeleffek vir die ekonomie en finansiële markte van die Covid-skok te probeer versag. Dit het ingesluit om beleidsrentekoerse tot op die been te sny. In die meeste ontwikkelde lande, en in 'n veel mindere mate ook in sommige ontluikende lande, het sentrale banke verder gegaan deur ook 'n reeks monetêre maatreëls buite die standaarde te gebruik. Dié maatreëls is meer as 'n dekade vroeër aangewend om die wêreldwye finansiële stelsel staande te laat bly gedurende die krisis van 2007-'08.
Die maatreëls het veral te make met grootskaalse likiditeitverskaffing deurdat sentrale banke op groot skaal aankope van staatseffekte doen. Sodoende probeer die beleidmakers verseker dat kort- sowel as langtermyn-rentekoerse laag bly. Hoewel die stappe nie verlede jaar groot ekonomiese skade kon verhoed nie, sou die ekonomiese impak van die pandemie daarsonder veel erger gewees het.
Noodmaatreëls nou minder gepas
Hoewel die ekonomiese herstel van die streng grendelstaat wat die wêreldekonomie in die tweede kwartaal van 2020 tot stilstand geruk het uiteenlopend was, is die oorgrote meerderheid van ekonomieë op die herstelpad. Dit is wel so dat sommige lande wesenlike terugslae beleef het (dink maar aan die erge Covid-vlae in Indië en tot onlangs nog in Suid-Afrika), maar tog is die situasie in die meeste gevalle beter as in 2020.
Op die keper beskou sou sentrale banke die uiters akkommoderende monetêre beleid in werking wou gehou het totdat daar groter sekerheid oor die volhoubaarheid van die ekonomiese herstel is.
Opeenvolgende aanbodskokke, insluitend skerp stygende energiepryse, sowel as die gepaardgaande vinniger en meer volhoubaar as vroeëre verwagte versnelling in inflasie het egter 'n stokkie voor dié planne gesteek. In vroeër rubrieke is genoem dat vername sentrale bankiers van mening was (en in 'n groot mate steeds is) dat die hoër inflasie sover vanjaar tydelik sal wees. Daarom was daar geen haas om die monetêre stimulus te begin verminder nie.
Die selfvertroue van diegene (myself inkluis) wat verbygaande (transitory) hoër inflasie voorsien het, het nou begin taan. Die gevoel is steeds dat die tempo waarteen verbruikersinflasie styg oor tyd sal begin afneem, maar daar is al hoe meer geluide dat die tydsduur van hoër inflasie langer kan wees as wat vroeër geskat (of voor gehoop) is.
EKONOMIESE GROEI - EERSTE KWARTAAL 2021
Die kruks van die probleem is wêreldwye verbruikersvraag na sekere goedere wat vanweë die laer rentekoerse, asook die enorme fiskale stimulus in ’n land soos die VSA, vinnig herstel. Weens Covid-beperkinge kon produksie nie tred hou met die robuuste vraag nie. Die aanvanklike mening was dat produksie mettertyd sou herstel van die Covid-gedrewe probleme en aan die vraag voldoen. Nuwe Covid-uitbrake in lande soos China, Viëtnam en Maleisië wat 'n belangrike rol vervul in die wêreld se vervaardigingwaardeketting het egter verskaffingskanale verder ondermyn. Dit lei tot tekorte in verskeie produkte met hoër pryse wat volg.
Daar is op die oomblik ook ’n sameloop van ander faktore wat inflasieprobleme veroorsaak. Dis asof sodra een beperking verlig word, daar êrens anders iets skeefloop. Die jongste voorbeeld is ’n wesenlike tekort aan gas in dele van Europa, veral Brittanje en in ’n mindere mate ook in die VSA. Dit is onder meer weens onnatuurlik matige windtoestande in Europa die laaste ruk. Europa en Brittanje het al goed gevorder met kragopwekking deur middel van windtegnologie. In reaksie op die stil winde word meer gas nou gebruik. Die gasvraag is dus nou skielik meer, maar daar is klaarblyklik nie voldoende voorsiening gemaak om gas te berg nie. Boonop speel Rusland, ’n groot gasverskaffer vir Europa, nou ’n geopolitieke speletjie. Dié land probeer ’n langdurige dispuut oor Europese goedkeuring vir ’n kontroversiële Russiese gaspypleiding wat die Oekraïne omseil as ’n hefboom gebruik voordat die land produksie sal verhoog om aan die hoër Europese gasvraag te voldoen.
Daar is op die oomblik ook ’n sameloop van ander faktore wat inflasieprobleme veroorsaak. Dis asof sodra een beperking verlig word, daar êrens anders iets skeefloop.
Die prys van gas in Brittanje het in so ’n mate gestyg dat dit nou meer as dubbel soveel per vaatjie ru-olie kos. Dit dryf weer verbruikers na olie vir verhitting en ander aanwendings. Die uiteinde is dat die olieprys ook nou ’n verdere hupstoot tot bo $80 per vaatjie gekry het. Die opeenvolgende skerp toename in insetkostes beteken dat verbruikersinflasie in vele lande vir langer op die huidige hoër vlakke kan bly.
Moeilike keuse
Die kombinasie van ’n onvoltooide ekonomiese herstel van die Covid-skok (wat laer-vir-langer rentekoerse regverdig) in baie lande, en sloerende hoër inflasie (wat ’n hoër rentekoers benodig) is ’n penarie vir selfs die mees gesoute sentrale bankier.
In onlangse weke is dit al hoe meer duidelik dat die makers van monetêre beleid oor die wêreld heen al hoe meer ongemaklik raak met die inflasietendense. Dis belangrik om te herinner dat in baie gevalle (ook in Suid-Afrika) is die hoofmandaat van die sentrale bank om oor tyd inflasie tot ’n sekere teiken te beperk. Indien daar vir ’n geruime tyd van die teiken afgewyk word, verloor die sentrale bank geloofwaardigheid, inflasieverwagtinge kan styg en dan is daar die gevaar dat inflasie vir lang periodes hoër as wat optimaal is kan bly. In sulke gevalle kan dit dan nodig wees om, soos wat Paul Volcker in die VSA gedurende die 1980's gedoen het, aggressief die beleidsrentekoers te verhoog om inflasie te bekamp. ’n Meer aggressiewe benadering is nie sonder koste nie, vir die ekonomie en soms ook vir politici by die stembus.
Daarom verkies die meer geloofwaardige sentrale banke om ’n geleidelike proses te volg deur eerder vroeër teen ’n matige tempo op te tree as daar tekens is dat inflasie ’n probleem raak, of indien daar wesenlike risiko’s vir die inflasievooruitsigte is.
Dít is min of meer waar ons nou is. Die SARB het juis verlede week in hul tweejaarlikse monetêrebeleid-oorsigdokument die punt gemaak dat hulle binnekort by ’n punt gaan kom waar die voor- en nadele van ’n vroeëre, meer geleidelike proses met rentekoersverhogings afgespeel sal moet word teen ’n besluit om die eerste koersverhoging uit te stel en dan moontlik later meer aggressief te moet optree.
Internasionaal lyk dit asof ’n langer wordende lys van sentrale banke die eerste opsie van vroeër eerder as later verkies. In ontwikkelende lande was die sentrale banke in Noorweë en Nieu-Seeland onlangs die eerste wat die beleidrentekoers verhoog het. Finansiële markte verdiskonteer nou dat die Bank van Engeland reeds in Desember die beleidskoers in Brittanje kan verhoog. Meer belangrik vir wêreldmarkte is dat die Amerikaanse Federale Reserweraad (die Fed) sterk geluide maak dat hulle voor die einde van die jaar kan begin om die tempo af te skaal waarteen staatseffekte aangekoop word. Langtermyn-rentekoerse in die VSA het reeds begin styg en het die week teen die hoogste vlak sedert Junie vanjaar verhandel.
In ontluikende markte het die sentrale banke van onder meer Pole, Hongarye, Peru, Mexiko, Colombia, Mexiko, Brasilië, Chili en Rusland reeds die rentesneller getrek. Teen die agtergrond, insluitend die sinspeling in die onlangse SARB-beleidsdokument dat hulle ook die vroeë opsie met koersverhogings verkies, het die waarskynlikheid skerp toegeneem dat die plaaslike beleidskoers reeds in November met ’n matige 25 basispunte verhoog kan word.
Versigtig oor die klippe met uitgawes
Die debat oor verhoogde staatsbesteding in Suid-Afrika om veral die mees kwesbare deel van die bevolking te ondersteun wil maar net nie gaan lê nie. Vir diegene wat dink ons kan onverpoosd bestee, behoort die vooruitsig van ’n hoër rentekoers stof tot nadenke te wees.
Die rentekoers op plaaslike 10-jaar-staatseffekte het reeds sedert begin September met nagenoeg 75 basispunte gestyg. Dit beteken bloot gewoon dat die finansieringskoste van staatsbesteding in Suid-Afrika aan die toeneem is. Net soos met die sikliese (tydelike) hulpbronmeevaller waaruit ons nou voordeel trek, is die periode van laer rentekoerse ook nie permanent nie.
Derhalwe behoort beide verbruikers en die regering ’n oefening (stress test) te doen om seker te maak dat nuwe/verhoogde besteding steeds volhoubaar sal wees indien die renteterugbetalings begin styg.
Die enigste volhoubare manier om verhoogde staatsbesteding te finansier is ’n ekonomie wat teen ’n vinniger tempo groei, meer mense in die formele sektor in diens neem en sodoende meer persoonlike belasting kan invorder. ’n Beter presterende ekonomie en prysstabiliteit sal ook tot beter maatskappywinste en belasting lei.
Standhoudende verhoogde ekonomiese groei is op die ou einde wat die armes oor tyd gaan help, beide in terme van meer werksgeleenthede en meer hulpbronne om die mees kwesbare mense te ondersteun. Volhoubare verhoogde sosiale beskerming is nie moontlik as die reuse uitgawe daarvoor nie ’n konstante (hoër) inkomstestroom as finansiering het nie.
Hugo Pienaar is hoofekonoom van die Buro vir Ekonomiese Ondersoek aan die Universiteit Stellenbosch.