In Sub-Sahara-Afrika is daar twee petrolreuse: Nigerië en Angola.
1. Die opkoms van energie as magsfaktor in die wêreld
Die wêreld se energiebronne is die son, wind, steenkool, gas, olie, hidro-elektrisiteit kernkrag, en hout. Hierdie artikel handel oor die wat, wie en waar van die hedendaagse petrolpolitiek wat op veral gas en olie betrekking het. Dis ook bekend dat groot korrupsie soms plaasvind. Die ganse mensdom het in die huidige tyd ’n belang by olie en petrol. Dis egter nie ’n baie ou verhaal nie, want olie is in 1865 vir die eerste keer in Pennsilvanië in die VSA ontdek. Dis gevolg deur die ontdekking van olie in Iran (voorheen Persië) in 1908.
Die twee opvolgende groot wêreldoorloë van die 20ste eeu het olie-eksplorasie aangewakker. Militêre vliegtuie, tenks en vragmotors benodig olie en petrol. Nuwe olievelde is daarna ontdek in verskeie streke van die wêreld, soos Koeweit, Irak, die Arabiese Emirate, Katar en Oman. Dit het die fokus na die Arabiese wêreld verskuif. Olie is egter ook in die voormalige Sowjetunie, China, Suidoos-Asië (soos in Indonesië en Maleisië), Noord-Afrika (soos in Libië en Algerië), Suid-Amerika (soos in Ecuador en Venezuela), Noord-Amerika (soos in Kanada en Alaska), die Noordsee (Brittanje) en Noorweë ontdek.
In Afrika was daar ook belangrike olievondste in die Deltagebied van die Nigerrivier in suidoos-Nigerië en in die Kabindaprovinsie van Angola, asook in nabygeleë Gaboen teenaan die Atlantiese kus.
In hierdie artikel sal ek nie net besondere aandag aan die Midde-Ooste skenk nie, maar ook spesifiek die petrolpolitiek van Nigerië en Angola ontleed. Dis ook waar grootskaalse oliekorrupsie plaasgevind het. Die historiese swaartepunt van olie was egter altyd die Arabiese wêreld in die Midde-Ooste.
2. Olie en die Arabiese wêreld
Die oliereus van die Arabiese wêreld was en is steeds Saoedi-Arabië. In hierdie geweste is Turkye en Israel feitlik die enigstes met min olie. Die res het ’n Arabiese blok in die internasionale politiek gevorm.
Blokvorming het begin met die Baghdad-konferensie in 1959 waartydens die deelnemende state ’n konsortium gestig het onder die titel van die Arab Petroleum Congress. Dié konsortium is alreeds in 1961 omskep in die Organisation of the Petroleum Exporting Countries (OPEC), waarna verdere mobilisasie uitgeloop het op die Tehran-ooreenkoms van 1971 en spoedig daarna op die stigting van die Organisasie van Petroleum-Uitvoerlande (Opul) (Engels: OPEC) in 1973. Dit het beduidende implikasies vir die Arabiese wêreld, oliepolitiek in die algemeen en verhoudings met die destydse Sowjetunie, die VSA, Europa, Israel en die res van die wêreld ingehou. Dit het ook op oliesanksies uitgeloop.
So was Arabiese oliesanksies gemik teen die Weste en Israel sowel as die apartheidsregering in Suid-Afrika. Dit is interessant dat die stigtingsvergadering van Opul nie in Riaad, die hoofstad van Saoedi-Arabië, plaasgevind het nie, maar in Wene in Oostenryk.
3. Die oorheersing van Opul
Die bedoeling met Opul was om ’n kartel te vorm, ’n organisasie van deelnemers wat samewerking mbt produksie bewerkstellig. Dit waaroor die Opul-kartel moes besluit, was die verhoging van petrolpryse wêreldwyd en die toekenning van produksiekwotas aan die deelnemende Opul-state. Saoedi-Arabië het die grootste kwota en Katar die kleinste kwota ontvang. Oliepryse het dan ook gestyg van $2,25 per vaatjie vóór die stigting van OPUL in 1973, tot $11,65 in 1974, $30 in 1979, $38 in 1981 en $200 in 2009. Dié styging het op ’n resessie in die Weste uitgeloop en selfs ’n internasionale bankkrisis tot gevolg gehad.
In Suid-Afrika het Sasol reeds sedert 1953 bestaan, en is Mossgas is in 1992 gestig. Dit het Suid-Afrika beter bestand teen sanksies gemaak. Die olieskokke van die sewentigerjare het egter daartoe gelei dat alternatiewe energiebronne wêreldwyd, soos skaliegas, wind, son en water beter benut word. Dié mededinging het petrolpryse laat stabiliseer op ongeveer $43 vandag, nog steeds veel laer as wat dit in die tagtigerjare en 2009 was.
4. Is dit die einde van Opul?
Opul is steeds ’n multilaterale kartel van 13 lidlande, te wete ses van Arabië (Saoedi-Arabië, Egipte, Irak, Iran, Koeweit en Katar; vier van Afrika (Algerië, Libië, Nigerië en Angola); en drie van elders (Indonesië, Venezuela en Ecuador).
Buiten Opul is daar ook ’n groep olieproduserende state wat nêrens inskakel nie. Dit is die VSA, Brittanje, Rusland, Noorweë, Soedan/Suid-Soedan, Bahrein en Gaboen.
In teorie sou hierdie verskaffers van buite Opul nie “prysmakers” soos die Opul-state wees nie, maar wel “prysnemers”. Dit is bloot omdat hulle nie onderhewig is aan Opul-produksiekwotas en -pryse nie. Opul-pryse het egter die norm geword.
Binne Opul is Saoedi-Arabië steeds die sterkman met ’n kwota van 7,4 miljoen olievate per dag en Katar die kleinste met slegs 0,6 miljoen vate per dag. Lidlande mag nie prysoorloë veroorsaak deur groter volumes en/of teen laer of hoër pryse te verhandel nie. Soos aangetoon, het prysdalings voortgeduur. So het Katar twee jaar gelede (2018) eensydig die prys verhoog en die toegewyste kwota oorskry. Omdat daar egter geen vasgestelde reëls is nie, het Koeweit as bemiddelaar opgetree. ’n Skikking is bereik en Katar het verloor. Sedertdien het die prysdalings binne Opul gestabiliseer en verhandel dit op ongeveer $43 per vaatjie vandag.
Intussen gaan die soeke na alternatiewe energiebronne wêreldwyd voort. Die Opul-oorheersing duur steeds voort, terwyl wisselvallige prysstygings stabiliseer. Selfs nie-Opul-state volg die riglyne van Opul. Afwykings kom egter hoofsaaklik in die VSA en Rusland voor. Dis veral Rusland wat in navolging van Opul probeer om produksie te verminder ten einde relatiewe skaarstes te bewerkstellig sodat pryse kan styg. Rusland se grootste oliemark is Suid-Europa.
5. Die toenemende rol van semistaatsoliemaatskappye
Van die wêreld se grootste maatskappye is semistaatspetrolkorporasies. Die 12 grootstes is:
Aramco (Saoedi-Arabië)
Gazprom (Rusland)
Rosneft (Rusland)
Exxon-Mobil (VSA)
British Petroleum (VK)
Royal Dutch Shell (Nederland)
Chevron (VSA)
Total (Frankryk)
Petronas (Maleisië)
CNPC (China)
Sanongol (Angola)
Nigerian National Petroleum Corporation (NNPC) (Nigerië).
Nota: Slegs Aramco, Sonangol en die NNPC val binne die Opul-kartel. Die res is onafhanklik.
Hoe vergelyk Suid-Afrika in dié verband?
Petrolwinste in Suid-Afrika is veel kleiner. Suid-Afrika se grootste olie- en petrolkorporasies is Sasol, Mossgas en Renergen wat ’n ooreenkoms met die Franse Total het mbt die “Brulpadda”-gasvelde in die Indiese Oseaan suid van Mosselbaai. Al drie is onafhanklik van Opul.
Sasol het eksplorasiewerk naby Bazaruto in Mosambiek gedoen, maar onlangs aangekondig dat eksplorasie gestaak word, skynbaar vanweë die onwinsgewendheid van hierdie projek. ’n Ander rede vir hierdie disinvestering mag ook wees dat al-Shabaab-Islamiete ’n terreurveldtog in die Cabo Delgado-provinsie van noordelike Mosambiek voer. In so ’n geval is politieke risiko’s baie groot. Dit het egter niks met Opul te make nie.
’n Verdere semistaatskorporasie, Transnet, voorsien en bedryf die 380 km-oliepypleiding tussen Durban en Gauteng. Dis steeds winsgewend, alhoewel pyplynsabotasie gereeld plaasvind, skynbaar omdat daar ’n winsgewende swartmark vir brandstof in Suid-Afrikaanse misdaadnetwerke is.
Die formele oliesektor in Suid-Afrika word steeds deur die ses grotes, te wete Mobil, BP, Shell, Total, Engen en Sasol, bedien. Dis ’n winsgewende netwerk vir kleinhandelaars sowel as ’n stabiele inkomstestroom vir die staatskas sodat ’n belasting by die pompprys ingereken word. Dis egter konvensie dat die RSA-regering Opul-riglyne volg sonder om fiskale outonomie prys te gee. Die petrolprys is die kombinasie van die wêreldprys in dollar en die Suid-Afrikaanse geld in die rand/dollar-wisselkoers.
6. Van petrolpolitiek tot petrolkorrupsie in Afrika
In Sub-Sahara-Afrika is daar twee petrolreuse: Nigerië en Angola.
Beide word bedien deur winsmakende oliekorporasies: die Nigerian National Petroleum Corporation (NNPC) en Sanongol in Angola. Britse en Amerikaanse oliemaatskappye speel steeds groot rolle in Nigerië, terwyl China ’n toenemende rol in Angola speel.
Nigerië: Oliekorrupsie in Nigerië het gefloreer onder die verskeie militêre bewinde in Nigerië, wat reeds sewe staatsgrepe opgelewer het. Die ergste korrupsie was in die tye van Ibrahim Babangida (1985–1993) en generaal Sani Abacha (1993–1998), wat sy dollarbates in Switserland versteek het. Dis daarom nie vreemd nie dat dit militêre diktators is wat die olienywerheid genasionaliseer het en sodoende deur die NNPC staatsbates beroof het. Dit het $300 miljard beloop. Tans het die NNPC ’n aandeel van 55% in Nigeriese olieverdienstes, met 45% wat aan Shell (30%) en Total (15%) behoort. Dit was Shell wat die eerste olie in 1957 ontdek het. Mobil, Elf en Chevron het ook oliebeleggings in Nigerië. Hierbenewens het die ministerie van finansies en regerende elites in veral die Deltagebied die winste onderling verdeel.
Daar is egter lig in die tonnel van korrupsie en dit is dat die rykste Nigeriër vandag, Alike Dangote, nie in die oliesektor ryk geword het nie, maar as entrepreneur in die mieliemeel-, konstruksie- en sementvervaardigingsektore.
Angola: Alike Dangote van Nigerië is die rykste man in Afrika. Isobel dos Santos van Angola is egter die rykste vrou in Afrika. Anders as Dangote het sy haar rykdom grootliks aan oliepolitiek te danke – dat haar vader, Eduardo dos Santos, vir 38 jaar president van Angola was en dat sy vanweë haar vader se invloed ook voorsitster van Sonangol, die nasionale oliekorporasie van Angola, was. Hierbenewens het sy ook belange in die bankwese en konstruksiesektor – die Angolese noem dit Futungo – wat die naam van die presidensiële paleis is.
Daar is egter ook ’n Chinese konneksie in hierdie verhaal, want China verruil die belegging van Chinese infrastruktuur in Angola vir Angolese olie. Dit betrek nie net Sonangol nie, maar ook die Sentrale Bank.
’n Bekende skrywer oor Afrika-korrupsie, Tom Burgis, verwys hierna as die Looting Machine wat in Angola bestaan uit die Angolese Sentrale Bank, Sanongol onder die voorsitterskap van Isobel dos Santos, en “offshore” maatskappye soos BP, Shell, Chevron en Exxon Mobil. In vergelyking met die kompleksiteit van korrupsie in Nigerië was die “Futungo” in Angola grootliks familiebesigheid.
Isobel se bates is aan die begin van vanjaar (2020) op $2 miljard oftewel R28 miljard bereken. Dalende oliepryse het haar dus nie juis armer gemaak nie. Die meeste oliewinste in dollarterme het haar toegeval.
7. Slot
Sedert die tye van Babangida en Sani Abacha in Nigerië en Isobel dos Santos in Angola het hulle onderskeie state prosesse van herdemokratisering ondergaan. Vrye verkiesings het teruggekeer. Of dit die Looting Machine in daardie state kan uitskakel, sal net die toekoms leer. Die langtermyn-oliepolitiek word tans bedreig deur omgewingspolitiek waarin groener energie ’n toenemende rol speel. Sal olie en petrol verdwyn? Die antwoord is “nie sommer nie”, want die einde van die Steentydperk het ook nie die einde van steen en klip in die moderne wêreld beteken nie.
Dis nog lank voordat alternatiewes soos kernkrag, waterkrag, windkrag en skaliekrag beduidende invloede op die petrolbedryf in state soos Angola en Nigerië sal hê.
Die les uit bostaande is egter dat state met swak instellings altyd “looting machines” sal oplewer. Die korrupsieverhore wat tans in Suid-Afrika afspeel, is sprekende bewys daarvan dat sulke vergrype nie net in Angola en Nigerië plaasvind nie, maar ook by ons.