Sedert die ANC vroeg in Augustus hul steun vir onteiening sonder vergoeding (OSV) gegee het nadat ’n mosie daaroor in die parlement geslaag het, heers onsekerheid in Suid-Afrika en die landbou. Dit het ’n negatiewe uitwerking op ons ekonomie en beleggingsvertroue gehad, en tot ’n verharding in gesindhede gelei.
Dit is die plig van leiers en leiersorganisasies, soos Agri SA, om juis in sulke onstuimige tye na vore te tree. Ons het ’n plig om draaipunte te bewerkstellig en mense aan die praat te kry. Agri SA het al op verskeie forums ons strategie teen OSV bekendgemaak en is hewig teen enige verandering aan Artikel 25 van die Grondwet gekant.
Een van dié strategieë was om met die ANC, die regering en ander rolspelers te praat.
Die ANC het Agri SA genader en gesprekke begin.
Gesprekke tussen die ANC en adjunk-president David Mabuza, die Agri SA-leierskap en Agbiz is gehou. In die gesprekke is die versekering gegee dat produktiewe landbougrond nie gevat sal word nie. Tog neem ons nie dié versekering van politici nie, maar van die Grondwet.
Agri SA en Agbiz het saam deelgeneem aan prosesse in die oploop tot die werkberaad. Daar is gepraat oor hoe die landbou- en motorbedryf die Suid-Afrikaanse ekonomie kan laat groei. Die planne is aan die minister in die presidensie, Nkosazana Dlamini-Zuma, voorgelê.
Kort daarna was daar ’n versoek dat dié planne ook aan president Cyril Ramaphosa voorgelê word. Ek het ’n vergadering met hom gehad en Agri SA se saak gestel. Dié vergaderings het Agri SA se verhouding met die regering en die ANC versterk.
Die Landbouweekblad/Agri SA-grondberaad het ’n geleentheid vir meer as 60 boere-sprekers gegee om hul ervaringe en suksesverhale van transformasie te deel. Die beraad het gewys dat boere progressief is en dat hulle vennootskappe wil smee om verandering mee te bring. Die vraag is nou: Hoe behou ons momentum?
Daar was ’n versoek van Luthuli-huis om met boerelede te praat – die geskiedkundige geleentheid het op 7 September plaasgevind en sowat 200 boerelede kon hul standpunte stel.
Ek is toe deur president Ramaphosa gevra om deel te wees van ’n raadgewende paneel oor grondhervorming. Ons het tot dusver enkele vergaderings gehad waar ek weer Agri SA se saak gestel het. Daar is versigtige optimisme in die lug.
In die afgelope paar maande waar onsekerheid ’n houvas gehad het, was daar wel positiewe draaipunte as gevolg van die leierskapsrol wat Agri SA gespeel het. Ons statuur, ons aanslag en ons breër leierskap in die organisasie wys dat ons nie gaan lê nie. Dit is elkeen in Suid-Afrika se plig om oplossingsgedrewe te wees. Ons moet met mekaar praat. Agri SA sal voortgaan met die gesprekke met die ANC en alle ander rolspelers om oplossings vir die grondvraagstuk te vind. – Dan Kriek, Agri SA