Suid Afrika -Aansienlik meer mielies vanjaar aangeplant

Star InactiveStar InactiveStar InactiveStar InactiveStar Inactive
 

Die hersiene skatting van die oppervlakte onder mielies beloop 2 599 800 ha, wat 13,01% of 299 300 ha meer is as die 2 300 500 ha wat verlede seisoen aangeplant is, en 2,54% of 64 500 ha meer as die voorlopige oppervlakteskatting van 2 535 300 ha soos vrygestel in Januarie 2020.

Die verwagte kommersiële mielie-oes is 14 560 160 ton, wat 29,14% of 3 285 160 ton meer is as die 11 275 000 ton van die vorige seisoen (2019). Die opbrengs van mielies is 5,60 t/ha.

Die oppervlakte beplant syfers is hoofsaaklik verkry vanaf die Produsente Onafhanklike Oesskattingstelsel (PICES), soos deur die Nasionale Oesskattingskonsortium gerapporteer vir Vrystaat, KwaZulu-Natal, Mpumalanga, Limpopo, Gauteng en Noordwes provinsies.

Neem kennis dat inligting van die objektiewe opbrengs-opname van die Konsortium vir die Mpumalanga provinsie, in April 2020 gerapporteer word en vir die Vrystaat en Noordwes provinsies in Mei 2020. Die huidige opbrengsyfers is hoofsaaklik verkry vanaf produsente in die verskillende provinsies.

Die oppervlak onder witmielies is 1 596 300 ha, wat 'n toename van 22,94% of 297 900 ha verteenwoordig vergeleke met die 1 298 400 ha die vorige seisoen. Die produksieskatting van witmielies is 8 286 825 ton, wat 49,45% of 2 741 825 ton meer is as die 5 545 000 ton van die vorige seisoen. Die opbrengs van witmielies is 5,19 t/ha.

In die geval van geelmielies is die oppervlakteskatting 1 003 500 ha, wat 0,14% of 1 400 ha meer is as die 1 002 100 ha geplant die vorige seisoen. Die produksieskatting van geelmielies is 6 273 335 ton, wat 9,48% of 543 335 ton meer is as die 5 730 000 ton van die vorige seisoen. Die opbrengs van geelmielies is 6,25 t/ha.

Ander somergewasse:

Sonneblomsaad: Die hersiene oppervlakteskatting vir sonneblomsaad is 500 300 ha, wat 2,92% of 15 050 ha minder is as die 515 350 ha aangeplant die vorige seisoen. Die produksieskatting vir sonneblomsaad is 699 130 ton, wat 3,12% of 21 130 ton meer is as die 678 000 ton van die vorige seisoen. Die verwagte opbrengs is 1,40 t/ha.

Ander gewasse:

Die geskatte oppervlakte beplant met sojabone is 705 000 ha, wat 'n afname van 3,49% of 25 500 ha verteenwoordig vergeleke met die 730 500 ha geplant die vorige seisoen. Die produksieskatting is 1 242 950 ton, wat 6,20% of 72 605 ton meer is as die 1 170 345 ton van die vorige seisoen. Die verwagte opbrengs is 1,76 t/ha.

Vir grondbone is die oppervlakteskatting 37 500 ha, wat 87,03% of 17 450 ha meer is as die 20 050 ha geplant vir die vorige seisoen. Die verwagte grondbone-oes is 54 390 ton - 180,36% of 34 990 ton meer as die 19 400 ton van die vorige seisoen. Die verwagte opbrengs is 1,45 t/ha.

Die oppervlakteskatting vir sorghum het afgeneem met 10,30% of 5 200 ha, van 50 500 ha tot 45 300 ha teenoor die vorige seisoen. Die produksieskatting van sorghum is 135 090 ton - 6,37% of 8 090 ton meer as die 127 000 ton van die vorige seisoen. Die verwagte opbrengs is 2,98 t/ha.

Vir droëbone is die geskatte oppervlakte beplant 50 150 ha, wat 15,43% of 9 150 ha minder is as die 59 300 ha geplant vir die vorige seisoen. Die produksieskatting is 72 910 ton, wat 9,88% of 6 555 ton meer is as die 66 355 ton van die vorige seisoen. Die verwagte opbrengs is 1,45 t/ha.

Wintergewasse - 2019 produksie-seisoen

Koring: Die verwagte koring-oes is onveranderd gelaat op 1,502 milj. ton, terwyl die verwagte opbrengs 2,78 t/ha is. Die verwagte produksie in die Wes-Kaap is 633 750 ton (42%), in die Vrystaat 313 600 ton (21%) en in die Noord-Kaap 262 500 ton (17%).

Die beraamde oppervlakte geplant in die Wes-Kaap is 325 000 ha of 60%, die Vrystaat is 128 000 ha of 24% en 37 500 ha of 7% is in die Noord-Kaap.

Ander gewasse:

Die produksieskatting vir moutgars is ook onveranderd gelaat op 345 080 ton. Die oppervlakte beplant word beraam op 131 960 ha, terwyl die verwagte opbrengs 2,62 t/ha beloop.

Die verwagte kanola-oes is 96 200 ton, terwyl die oppervlakteskatting 74 000 ha is, met ? verwagte opbrengs van 1,30 t/ha.

Die oppervlakteskatting vir hawer (ontbytgraan) vir die 2019-seisoen is 21 000 ha en die verwagte oes is 15 540 ton. Die verwagte opbrengs is 0,74 t/ha.