Die omvang van grond- en eiendomsbesit in Suid-Afrika is enorm. Suid-Afrika het honderde duisende plase en miljoene eiendomme, nie 10 of 20 nie.
Volgens ‘n studie van die regering self is daar sowat 425 000 plase in Suid-Afrika, en oor die 6 miljoen ander geregistreede eiendomme (die syfer wissel daagliks a.g.v. konsolidasie of hersonerings ens.)
Die ekonomie rondom die registrasie, administrasie, oordragte, finansiering en die hereregte (belasting op die verkoop van eiendomme) van hierdie magdom eiendomme is enorm. Oud President P.W. Botha het per geleentheid gesê SA is ‘n swaardvis, nie ‘n jellievis nie.
Net die banke sit met honderde duisende titelaktes, en hulle weet baie goed dat dit fisies onmoontlik sal wees om hulle geld te kry indien ‘n plaas of fabriek sonder vergoeding onteien word, en die eienaar sy ekonomiese aktiwiteit ontneem is.
As gevolg hiervan is die stelsel van grondregistrasie in Suid-Afrika geweldig sterk, want verskeie rolspelers het ‘n ekonomiese belang daarin.
Die wysiging van Art. 25 van die Grondwet sodat die regering grond kan onteien sonder vergoeding aan die eienaar, beteken nie daar gaan geen regsproses wees nie. Die regering sal steeds onderworpe wees aan die voorgeskrewe prosesse om eiendom te onteien. Selfs al vaardig die parlement ‘n wet uit om grond sonder enige wetlike proses van eienaar te laat verwissel, is die rolspelers en markkragte te sterk vir die implementering daarvan.
Indien Art. 25 gewysig word, gaan die regering dus ‘n verrassingspakkie oopmaak waar nie net die individuele eienaars nie, maar banke, prokureurs, hordes eiendomsagente, beleggers met baie geld en verskeie internasionale eiendomseienaars gaan uitspring.
Indien die regering wel op kommunistiese wyse privaatbesit tot ‘n einde wou bring met die wysiging van Art. 25, sit hy ongelukkig die pot heeltemal mis. So ‘n stap sou groter wysiging aan die Grondwet vereis, asook die wysiging of skrap van verskeie ander wette.
Maar bo en behalwe die stelsel van registrasie, is daar praktiese probleme omdat die omvang soos hierbo verduidelik, so groot is. Op enige gegewe tydstip is eienaarskap van ‘n eiendom soms administratief onduidelik, soos tydens ‘n kooptransaksie. Mense teken soms ‘n kontrak, betaal die koopsom maar sloer maande of jare om die oordrag te doen. Of die eienaar sterf, sy kinders bly aan in die huis of op die plaas, maar doen nooit die oordrag nie.
So het ‘n kliënt onlangs fisies ‘n leë stuk grond in die Karoo aan my uitgewys, en na ‘n soek in die aktekantoor het ons vasgestel die eiendom het die laaste keer in 1912 van eienaar verwissel. Waar soek jy nou daardie afstammelinge, indien enige?
Dus, as gevolg van die omvang en die inherente ingewikkeldheid van die hele stelsel, behels grondeienaarskap in Suid-Afrika meer as net die optekening van aktes in die aktekantoor, en na my mening beskik die regering ongelukkig nie oor die administratiewe apparaat of die kundigheid om ‘n suksesvolle aanslag daarteen van stapel te stuur nie.
‘n Stawende voorbeeld hiervan is die situasie met grond in Zimbabwe. Ten spyte van die ekstreme aanslag op privaatbesit, kon daardie regering nie privaatbesit uitwis nie. Net ‘n fraksie van die eiendom in Zimbabwe is uiteindelik onteien, die registrasiestelsel is steeds staande en daar is steeds aktevervaardigers in Harare (een of twee Afrikaans magtig).
Woonhuise in verskeie woonbuurte in Harare is nou al vir ‘n paar jaar duurder as in Pretoria. Dit word op dieselfde webwerwe en deur dieselfde agentskappe as Suid-Afrikaanse eiendomme bemark, deur agente wie se foto’s dieselfde lyk as agente in Pretoria. Google gerus “Harare property for sale” of “Zimbabwe farms for sale”. Vir watertand plase, Google “Zambia farms for sale”.
Die krag van privaatbesit, gebaseer op ‘n gesofistikeerde registrasiestelsel, is ‘n bykans onomstootbare instelling.
Johan de Klerk, Pretoria.
(Johan de Klerk is ‘n Prokureur van Pretoria).
Kontakbesonderhede.
This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.