Sekere bronne dui aan dat die Franse demograaf Alfred Sauvy die eerste was wat ná die Tweede Wêreldoorlog na drie groepe lande verwys het. Lande in die weste is as Eerste Wêreld-lande beskryf. Hierdie lande is gekenmerk deur hoë ekonomiese groei, welvaart en persoonlike vryheid. Oosbloklande agter die Ystergordyn met sentrale beheer is as Tweede Wêreld-lande beskryf.
Derde Wêreld-lande was arm en hoofsaaklik in sekere dele van Asië, Suid-Amerika en Afrika te vinde. As ’n Afrika-land het Suid-Afrika egter uitgestaan as ’n uitsondering, onder meer weens hoë ekonomiese groei en hoë vlakke van nywerheidsontwikkeling.
Die gebruik van terminologie het sedertdien verander, met lande van die wêreld wat eerder as ontwikkelde lande en ontwikkelende lande beskryf word. Ontwikkelde lande het onder meer hoë lewenstandaarde en hoë ekonomiese groei en hou inflasie in toom. Ontwikkelende lande het wisselvallige ekonomiese groei, groot verskille in lewenstandaarde, en die beheer van inflasie is dikwels ’n probleem.
Histories kon Suid-Afrika in die liga van Eerste Wêreld-lande speel. Hiervan is die blywende bewys die rol van Jan Smuts, die destydse eerste minister van Suid-Afrika, in die stigting van die Verenigde Volke-Organisasie, nou die Verenigde Nasies.
Maar die water wat was, sal die meul nie weer maal nie. Die ANC-regering het in 1994 ’n land oorgeneem met instellings soos Eskom, hawens, die poskantoor, Transnet en die weermag wat van wêreldgehalte was.
Oor elkeen van hierdie instellings se tragiese geskiedenis kan bladsye geskryf word, maar die Suid-Afrikaanse weermag se verval word dikwels vergeet. Die pad van verval was vanaf ’n operasionele weermag na ’n seremoniële weermag tot feitlik niks. Een voordeel is dat die Suid-Afrikaanse weermag nie ’n staatsgreep sal kan uitvoer nie.
Die jaarlikse bevolkingsgroeikoers is hoër as die ekonomiese groeikoers, en Suid-Afrikaners word op ’n per kapita-basis armer.
Na 30 jaar van ANC-bewind is Suid-Afrikaners smagtend na hoop op ’n beter ekonomiese toekoms. Ongelukkig ontaard hoop en drome sonder ’n plan vinnig in ’n nagmerrie, soos ons dikwels in Suid-Afrika sien. Die ANC-regering het geen planne tot die voordeel van Suid-Afrika nie.
Werkloosheid is op ’n kritieke vlak, met min hoop vir werkloses. Die jaarlikse bevolkingsgroeikoers is hoër as die ekonomiese groeikoers, en Suid-Afrikaners word op ’n per kapita-basis armer.
What political messages would speak to agricultural issues ahead of SA elections?
Afgesien van die kritieke verval van instellings wat noodsaaklik is vir ekonomiese sukses, het munisipale dienslewering ook in groot dele van die land in duie gestort. Suid-Afrikaanse burgers sien daagliks hierdie verval van Eerste na Derde Wêreld-standaarde.
Dit is egter verbasend dat ANC-politici blykbaar onbewus is van hierdie toedrag van sake. Volgens president Ramaphosa gaan dit uitstekend in Suid-Afrika, afgesien van sekere krisisse wat hom soms skok. Skok, maar nie uit sy diepe slaap en tot enige aksie nie.
Gewone burgers ly daagliks onder die gedrag van die regering. Die regering maak wette en regulasies asof Suid-Afrika steeds ’n Eerste Wêreld-land is, maar ongelukkig is ’n Derde Wêreld-burokrasie vir die toepassing verantwoordelik. Die gevolg is vrees by elke geleentheid as ons van regeringsdienste soos die hernuwing van lisensies afhanklik is.
Die regering probeer op internasionale vlak bó Suid-Afrika se gewigsklas boks. Die skrale troos is dat dit aandag weglei van Suid-Afrika se plaaslike probleme.
Die land se leiers het steeds nie geleer dat Suid-Afrika se verval ook die land se rol in die internasionale politiek verander het nie. Die kabinet dink die Suid-Afrikaanse regering het ’n wêreldrol te speel in internasionale konflikte soos Rusland-Oekraïne, of Gaza-Israel.
Die ANC-regering het regtig op loop gegaan, want hy kan nie eers Suid-Afrika se interne probleme oplos nie. Ongelukkig vervreem die regering se optrede in hierdie internasionale konflikte Suid-Afrika se internasionale handelsvennote. Die regering probeer op internasionale vlak bó Suid-Afrika se gewigsklas boks. Die skrale troos is dat dit aandag weglei van Suid-Afrika se plaaslike probleme.
Oorloë en bedreigings van oorloë sal Suid-Afrika se internasionale handel nadelig tref. Lande met handelsbande met Suid-Afrika kan in gewapende konflik teen mekaar te staan kom.
Die beste strategie vir die ANC-regering en vir Suid-Afrika is om ander lande se bakleiery te ignoreer. Hierdie strategie sal beteken dat internasionale konflik soos dié wat die wêreld tans beleef, nie tot nadeel van die Suid-Afrikaanse ekonomie en die land se ekonomiese vooruitsigte sal wees nie.
Die alternatief laat my sidder. Suid-Afrika maak tans internasionale vyande weens die regering se chaotiese buitelandse beleid waarin min mense enige samehang sien. Hierdie vyande sluit ook lande met groot Suid-Afrikaanse handelsbande in. In swak oomblikke wonder ek soms hoe ver (of naby) Suid-Afrika aan boikotte en sanksies is soos dié wat die land in die 1980’s lamgelê het.
Die gevaar van sanksies herinner ons natuurlik aan Zimbabwe, waar sekere persone reeds vir verskeie jare aan sanksies deur die VSA onderworpe is. Die knaende vraag in die gemoed van baie Suid-Afrikaners is of die land op die pad van Zimbabwe is.
........
Met ’n algemene verkiesing op hande weeg vrae oor ekonomiese en politieke vooruitsigte nietemin swaar op die gemoed van baie mense. In Suid-Afrika is hierdie twee verweef.
........
Gelukkig het Suid-Afrika steeds sekere instellings wat die pad van Zimbabwe onwaarskynlik maak. Die Grondwet is van allergrootste belang en moet in stand gehou word, ten spyte van die regering se pogings om dit te ondergrawe. Voorts moet ’n lewenslange president as staatshoof ook ten alle koste vermy word. Gelukkig kan die Suid-Afrikaanse staatshoof kragtens die Grondwet vir net twee termyne dien.
Met ’n algemene verkiesing op hande weeg vrae oor ekonomiese en politieke vooruitsigte nietemin swaar op die gemoed van baie mense. In Suid-Afrika is hierdie twee verweef. Die historikus CW de Kiewiet het baie jare gelede opgemerk dat Suid-Afrika polities deur rampe vorder en ekonomies deur meevallers vorder. Sedert die 1940’s het min verander.
Die ANC-regering hoop op meevallers om die land se ekonomiese krisis op te los. Vir politieke krisisse het die regering geen hulp nodig nie, want dit word sommer tuis gemaak.
Deursnee-Suid-Afrikaners het hoë verwagtings vir ekonomiese verbetering na die verkiesing op 29 Mei 2024. Dit kan net gebeur as die ANC mag verloor.
........
Die keuse vir ekonomiese vooruitgang is in die hande van Suid-Afrika se kiesers.
........
As die ANC aan bewind bly, selfs by wyse van ’n koalisieregering, sal niks verander nie. ANC-politici stel net in hul eie voordeel belang en gee nie vir die land of die mense om nie. Ekonomiese groei sal laag bly en die wisselkoers van die rand sal onder druk bly.
Dieselfde geld vir bewindsoornames deur partye soos MK onder leiding van Jacob Zuma of die EFF onder leiding van Julius Malema. Hierdie partye se drang na sentrale beheer sal tot die land en die inwoners se nadeel wees.
Partye in die Veelpartyhandves begryp Suid-Afrika se ekonomiese krisis en doen beleidsvoorstelle aan die hand wat die lewensomstandighede van mense kan verbeter. Die keuse vir ekonomiese vooruitgang is in die hande van Suid-Afrika se kiesers.
Daar is hoop in Suid-Afrika op terreine buite die politiek. Gemeenskappe neem toenemend eenvoudig regeringsfunksies oor en verseker dienslewering. As die ANC weer die verkiesing wen, is ons hoop op ekonomiese groei oor die volgende vyf jaar tot 2029 te vinde in die bydrae van die burgerlike gemeenskap om ’n beter lewe vir almal te verseker.
- Jannie Rossouw, besoekende professor, Wits Sakeskool