Wat gebeur met my produkte (oeste) op land by my Afsterwe-

Star InactiveStar InactiveStar InactiveStar InactiveStar Inactive
 

Die vraag ontstaan dikwels wat gebeur met oeste op lande by ‘n boer se afsterwe, indien daar geen melding daarvan gemaak word in sy testament nie.

Dit is veral belangrik om bewus te wees van die potensiële slaggate en belastingimplikasies wat oeste op lande kan inhou op die boedel en erfgename van ‘n boer by sy afsterwe.

Meeste boere en veral saaiboere kom te sterwe met een of ander vorm van produk op lande, hetsy of dit pas gesaaides is of produkte is wat op die punt staan om ge-oes te word. Hoë kommersiële waardes van sodanige oeste en moontlike produksielenings en/of ander inset- en finansieringskostes wat daarmee gepaard gaan, kan ‘n groot invloed hê op moontlike belasting aanspreeklikheid en likiditeit in die boer se boedel. Daarmee saam kan dit ook die onderskeie erfenisse wat die erfgename uit die boedel ontvang, beïnvloed.

AGTERGROND

Oeste op lande ten tyde van afsterwe van ‘n boer, vorm deel van die onroerende landbou eiendom (plaas) waarop dit geplant is. Indien die plaas dus nie deur die eksekuteur verkoop word nie, maar aan ‘n erfgenaam bemaak word, vorm die oeste op lande deel van die plaas en word dit as sulks saam met die plaas gewaardeer vir boedelbelasting doeleindes. Dit is daarom belangrik dat onroerende landbou eiendomme met oeste op lande so spoedig moontlik na afsterwe van die boer gewaardeer moet word. Die opbrengs van produkte op lande wat ten tye van die boer se afsterwe nog nie ge-oes was nie, sal dus die erfgenaam van die betrokke onroerende landbou eiendom, waarop dit geplant was toeval, selfs al word dit ge-oes voor afhandeling van die boedel. Die boedel sal egter aanspreeklik wees vir die boedelbelasting wat betaalbaar is op die waarde van die plaas, welke dan ook die waarde van die onge-oeste produkte op lande sal insluit.

POTENSIËLE RISIKOS

Veronderstel die boer bemaak sy plaas en sy boerdery implemente aan sy seun en die restant van sy boedel, wat 4 residensiële eiendomme insluit, aan sy twee dogters. Sy finansiële adviseur het vir hom ‘n berekening gedoen van die potensiële boedelbelasting, kapitaalwinsbelasting en administrasiekostes betaalbaar in sy boedel. Hy het toe ‘n lewenspolis op sy lewe uitgeneem om hierdie kostes by sy afsterwe te dek. Die enigste las in sy boedel is ‘n oortrokke fasiliteit van R 6 000 000 wat hy aanwend as insetkostes vir sy oeste. Aangesien die opbrengs van sy oeste gewoonlik meer as voldoende is om die oortrokke fasiliteit elke jaar af te los, was hy nie bekommerd dat dit nie by sy afsterwe betaal sal kan word nie. Die boer kom te sterwe twee weke voordat hy sou begin stroop.

Aangesien oeste op lande deel vorm van die onroerende landbou eiendom waarop dit geplant is, sal die volle opbrengs van die oeste, tesame met die plaas, deur sy eksekuteur aan sy seun toegeken moet word. Die oortrokke bankrekening wat aangewend is as insetkostes bly egter steeds ‘n las in sy boedel en sy eksekuteur sal heel waarskynlik die residensiële eiendomme moet verkoop om die las te betaal en gevolglik sal sy dogters van hul erflating ontneem word. Die waarde van die oeste op lande verhoog boonop die waarde van die onroerende landbou eiendom waarop dit geplant is, aangesien oeste op lande saam met die grond gewaardeer moet word. Dit verhoog dan weer op sy beurt die potensiële boedelbelasting en kapitaalwinsbelasting betaalbaar in sy boedel. Indien hy egter 3 weke later te sterwe gekom het (nadat hy ge-oes het), sou die prentjie aansienlik anders gelyk het, aangesien die opbrengs van die oeste deel van die restant van sy boedel sou vorm en gevolglik aangewend kon word om die oortrokke fasiliteit te betaal.

GEVOLGTREKKING

Boere moet deeglik bewus wees van die potensiële slaggate, sowel as belasting- en likiditeits implikasies van oeste op lande by hul afsterwe. Ten einde enige verwarring te verhoed moet boere seker maak dat hul testament uitdruklik bepaal hoe oeste op lande moet vererf en welke erfgename aanspreeklik moet wees vir enige kostes en laste wat verband hou met die oeste.

Hierdie is net 'n inligtingstuk - dis beter om met jou persoonlike finansieele raadgewer te praat - en jou finansies korrek te bestuur.