GROEIVOORUITSIGTE IS ONREALISTIES

Star InactiveStar InactiveStar InactiveStar InactiveStar Inactive
 

Die ekonomiese groeivooruitsigte vir vanjaar van 5% en hoër wat weens verskeie optimistiese redes deur verskillende ekonomiese kommentators aangevoer word,1)2) is nie realities nie, sê Fanie Brink, ‘n onafhanklike landbou-ekonoom.

Die eerste belangrike rede is vanweë die feit dat verskeie finansiële batebestuurders en ekonome die groeikoers vir die tweede kwartaal met die eerste kwartaal vanjaar vergelyk wat volgens Statistiek SA 1,2% beloop het. Hulle annualiseer dan steeds die kwartaallikse groeikoers tot ‘n jaarkoers van 4,8% omdat hulle aanvaar dat die oorblywende twee kwartale vanjaar dieselfde verloop as die tweede kwartaal sal hê wat nie korrek en onrealisties is. Die “jaarkoers” wat so bereken word is geensins ‘n aanduiding wat  die verwagte groeikoers vir 2021 kan wees nie.

Statistiek SA het hierdie kwartaal vir die eerste keer besluit om nie meer die kwartaallikse groeikoerse te annualiseer nie en om ook die groeikoerse te bereken deur dit met die  dieselfde kwartaal van die vorige jaar te vergelyk wat die korrekte berekeningsmetode is omdat die groeikoers dan ‘n jaarkoers is en nie geannualiseer hoef te word nie.

Die werklike groeikoers, volgens Statistiek SA, vir die tweede kwartaal vanjaar teenoor dieselfde kwartaal verlede jaar in werklikheid 19,3% wat aansienlik hoër was as wat dalk algemeen verwag was. Die rede hiervoor is dat die tweede kwartaal verlede jaar die hardste deur die Covid19-pandemie en die inperkingsmaatreëls in die land getref wat die swakste kwartaallikse groeikoers van -17,4% sedert 1960 tot gevolg gehad het.

Die meeste finansiële batebestuurders en ekonome het feitlik almal voor die bekendmaking van die tweede kwartaal se groeisyfers daarop gewys dat dit ‘n uitsonderlike hoë groeikoers sal toon as gevolg van die “lae basis” van die tweede kwartaal verlede jaar waarmee dit vergelyk sal word.

Die tweede onrealistiese rede vir die verwagte hoër groeikoers vanjaar is die feit dat die derde kwartaal verlede jaar weer die hoogste kwartaallikse groeikoers van 13,9% sedert 1960 tot gevolg gehad het wat beteken dat die derde kwartaal vanjaar weer ‘n besonderse lae groeikoers kan behaal as wat op hierdie stadium verwag kan word. Die groeikoers kan self negatief kan wees veral as gevolg van die onluste in Kwazulu-Natal en Gauteng in Julie vanjaar getref het wat ‘n groeikoers van gemiddeld 5% vir hierdie jaar nie haalbaar sal maak nie.

Die derde rede waarom die groeivooruitsigte vir vanjaar nie realisties is nie is omdat die hoër internasionale metaalpryse wat die regering se inkomste verhoog nie ook gepaard sal gaan sonder enige verhogings in die uitgawes van die regering nie. Die regering sal dit noodwendig moet aanwend om die stygende armoede, hongersnood en werkloosheid te verminder om sover as moontlik die uitbraak van enige verdere onluste die hoof te probeer bied. Gevolglik sal die gaping tussen die inkomste en uitgawes van die regering in hierdie finansiële jaar steeds groter word en daarom kan dit nie verwag word dat die verder verswakkende fiskale posisie van die regering enigsins ‘n bydrae tot hoër ekonomiese groei sal lewer nie.

Die regering sal ook nie die addisionele  maatskappybelasting wat hy van die mynboubedryf ontvang het in ‘n spaarrekening plaas nie, maar ook bestee aangesien die ANC-regering nog nooit geld gehad het wat hy nie bestee en vermors het nie.

Die hoër internasionale metaalpryse en die gevolglike toename in die winsgewendheid van die mynboubedryf is in werklik ‘n baie duidelik bewys hoe die bedryf ‘n groter bydrae tot ekonomiese groei kan lewer en ‘n groter inkomste vir die regering kan genereer om die baie ernstige fiskale en sosiale probleme in die land daadwerklik aan te spreek.

Daar bestaan gevolglik geen kans dat die begrotingstekort vir hierdie jaar slegs 7% van die BBP sal beloop teenoor die 9,3% waarvoor daar in Februarie begroot was nie. Die kans is baie beter dat die begrotingstekort selfs hoër sal wees as waarvoor begroot is!

Die moontlikheid dat die skuldlas van die regering as verhouding tot die bruto binnelandse produk (BBP) nader aan 70% kan draai as die 88% wat vroeër voorsien is, is totaal buite die kwessie gesien in die lig van die addisionele uitgawes waarvoor die regering verder wil voorsiening maak. Heelwaarskynlik sal die opwaartse hersiening van die grootte van die ekonomie met 11% wat Statistiek SA vanjaar gemaak het nie eers ‘n noemenswaardige bydrae maak om die skuldlas van die regering as verhouding tot die BBP te verbeter nie.

Daarom is die aannames wat deur verskeie batebestuurders en ekonome gemaak word dat die regering se begrotingstekort en sy skuldlas tot die BBP verlaag sal word geensins realisties nie. ‘n Sterk moontlikheid bestaan eerder dat die regering die groter inkomste sal moet gebruik vir sy uitgawes waarvoor daar nie andersins fondse beskikbaar is nie.

“Die nuwe Minister van Finansies en Hoof van Ekonomiese Transformasie, Enoch Godongwana, het juis verlede week tydens ‘n party-lekgotla die uiters moeilike finansiële herprioritiserings en beleidsoorwegings uiteengesit wat deur almal in die regering ooreengekom moet word as die regering sy bestaande bestedingsverpligtings wil nakom, die fiskus wil stabiliseer en ‘n volskaalse finansiële krisis wil afweer. Hy het 'n baie somber prentjie van die druk op die openbare finansies geskets wat 'n stywer gordel sal vereis en 'n toename in die pogings om die ekonomie te laat groei.

Namate die regering se finansiële krisis toeneem sal die regering nie 'n basiese inkomstetoelaag kan bekostig nie en gevolglik sal werksgeleenthede in die staatsdiens moontlik verminder moet word om R19,6 miljard se uitstaande loonverhogings te vind.

Die regering moet ook dringend R73,4 miljard in die hande kry om sy salarisonderneming met die openbare sektor na te kom en die verdere ineenstorting van belangrike staatsondernemings te vermy, maar daar bestaan ook groot onsekerheid oor waar die fondse vandaan sal kom.”3)

Die swak ekonomiese groeivooruitsigte vir die land is in werklikheid ook deur die nuwe Minister van Finansies bevestig slegs 'n week nadat hy aangestel is toe hy die  beleggingsgemeenskap ingelig het dat “niks regtig gaan verander in terme van Suid-Afrika se fiskale standpunt en toewyding tot skuldstabilisering nie.” Hy het ook sy verbintenis om fiskale dissipline na te streef en die strukturele hervormings wat nodig is om groei te bevordering gehandhaaf in ooreenstemming met die standpunt van sy voorganger, Tito Mboweni.

“Hierdie bevestiging en verbintenis van die minister beteken in werklikheid dat hy die huidige uiters swak ekonomiese en fiskale posisie van die land finaal oor die afgrond sal dryf!”

Die jongste ekonomiese groeisyfers het gewys dat die privaat en openbare sektor se gesamentlike vaste kapitaalbelegging verder afgeneem het, terwyl die Johannesburgse Aandelebeurs gewaarsku het dat die tempo waarteen buitelandse beleggers hul kapitaal uit die land onttrek geleidelik oor die afgelope paar jaar toegeneem het oor die makro-ekonomiese omgewing wat aansienlik versleg het.

Die aanname deur batebestuurders dat die “afwaartse neiging in die ekonomie in die vyf jaar tot 2019 is nou verby is” en dat die “praatjies van stagnasie in die ekonomie nou ‘n einde kan kry,” is nog meer onrealisties. Die land beleef nie ‘n stagnerende ekonomiese siklus nie, maar ‘n ekonomie wat reeds feitlik totaal deur die sosialistiese ideologie van die ANC-regering vernietig is!

Magnus Heystek, ‘n direkteur en beleggingstrateeg van Brenthurst Wealth, het juis onlangs daarop gewys dat “optimisme nie ‘n beleggingstrategie is nie,” veral as daar op onrealistiese en katastrofiese ekonomiese vooruitsigte staatgemaak word.

 Daarom kan dit nie aanbeveel word dat buitelandse en plaaslike beleggers verdere kapitaalbeleggings in Suid-Afrika maak nie,” aldus Brink.

Fanie Brink, Onafhanklike Landbou-ekonoom 

1) “Kyk, hier is goeie nuus, sê ekonome

https://www.netwerk24.com/Sake/Ekonomie/kyk-hier-is-goeie-nuus-se-ekonome-20210912

2) “Vlak 2 ‘kan ekonomie met 5% laat groei’

https://www.netwerk24.com/Sake/Ekonomie/vlak-2-kan-ekonomie-met-5-laat-groei-20210912

3) “ANC told 'there's no money' for its expensive big plans”

ANC told 'there's no money' for its expensive big plans (timeslive.co.za)