TLU SA beklemtoon teenstand van onteiening sonder vergoeding in samewerking met ad hoc groep vir beskerming van eiendomsreg- Suid Afrika

Star InactiveStar InactiveStar InactiveStar InactiveStar Inactive
 

Uit die kommentaar by die openbare verhore van die Portefeuljekomitee vir Openbare Werke en Infrastruktuur oor die Onteieningswet is dit duidelik dat deelnemers geen idee het oor die implikasies van dié wet nie

. Dit is dus die taak van die ad hoc groep vir die beskerming van eiendomsreg om die publiek te waarsku oor wat die gevolge vir die land sal wees indien die wet geïmplementeer word.

By die (naweek se) verhore in Orange Farm, Gauteng was deelnemers van mening dat die Covid-19 pandemie gebruik moet word om die Onteieningswet vinniger deurgevoer te kry en sodoende toegang te kry tot openbare gesondheidsorg, polisiestasies, behuising, werk en ekonomiese geleenthede.

“Wat die mense nie besef nie is dat die Onteieningswet juis al hierdie dienste en geleenthede in die wiele gaan ry,” sê mnr. Henry Geldenhuys, die president van TLU SA. “Wie, by hulle volle positiewe, sal vaste beleggings maak in ‘n land waar die grondwet sowel as wetgewing bepaal dat bates deur die staat gekonfiskeer kan word sonder om daarvoor te betaal?

“Dit is duidelik dat hierdie mense nie besef vooruitgang kom deur ekonomiese groei wat deur belegging in die land geskep word nie. Indien iemand nie die nodige begrip het van hoe belangrik vaste beleggings is as die fondament van ekonomiese groei nie, betreur ons hulle onkunde. Dit bly egter ons verantwoordelikheid om daardie beginsel tuis te bring – nie net by gewone burgers nie, maar ook by politici.”

TLU SA is deel van die ad hoc groep van meer as 50 organisasies wat  landbouverteenwoordigers, burgerlikes en opposisiepartye insluit. Die groep vergader gereeld om kwessies wat eiendomsreg bedreig te bespreek en aksies daaroor te oorweeg.

“Dit is ongelooflik dat die ANC steeds deur Radikale Ekonomiese Transformasie (RET) voortgedryf word,” sê hy. “Die Nasionaal Demokratiese Rewolusie lei na sosialisme en kommunisme, terwyl hierdie ideologie regoor die wêreld nog net tot mislukking gelei het. Gewone Suid-Afrikaners gaan hieronder ly, nie die korrupte leiers nie.”

Tydens die mees onlangse vergadering van die ad hoc groep vir die beskerming van eiendomsreg het die deelnemers op verskeie aksiestappe ooreengekom om die proses van onteiening sonder vergoeding teen te werk. TLU SA sal soos wat die stappe geneem word, meer inligting hieroor verskaf.