Die jarelange versuim om die belangrikheid van die landbouer te erken- Suid Afrika

Star InactiveStar InactiveStar InactiveStar InactiveStar Inactive
 

Die jarelange versuim om die broodnodige rol wat die landbousektor in sy geheel vir die land speel te erken, is die oorsaak en gevolg van die sinnelose moord op die jong landbouer, Brendin Horner, wat hierdie week in die landbougemeenskap van Paul Roux brutaal vermoor is.

Vrystaat Landbou (VL) het met skok kennis geneem van die onsinnige moord op Horner, wat ’n aanduiding is van die kultuur wat oor verskeie jare posgevat het asook die versuim om hierdie vergrype te veroordeel en doeltreffend hok te slaan. VL spreek hom ten sterkste hierteenoor uit. 

COVID-19 demonstreer uiteindelik die landbou se waarde
Landbou- en burgerregte-organisasies beywer hulle al jare lank om hierdie probleem aan te spreek, maar die erns van die saak en die gevolge daarvan is eers onlangs deur die regering besef, toe die landbousektor die kastaiings uit die vuur moes krap tydens die uitbreek van die COVID-19-pandemie. 

Die moord op Horner asook alle ander moorde en aanvalle – in toenemende mate in die landbousektor – soos die aanval op plaaswerkers op 3 Oktober in die Hennenman-distrik, is beduidend van hierdie kumulatiewe gevolg van die jarelange versuim. Daadwerklike optrede word vereis, eerder as lippediens waarmee die landbousektor en die land die afgelope tyd tevrede moes wees.

Regering moet nou daad by woord voeg
Die openbare veroordelings van die moorde op landbouers word verwelkom, maar die situasie gaan meer vereis om hierdie wesentlike probleem aan te spreek. Die regering moet erns maak met die bemagtiging van landelike gebiede in terme van groter kapasiteit en logistieke steun (voertuie en tegnologie) rakende polisiëring.

Die daarstel van doeltreffende landelike polisiëringseenhede, soos wat dit in die Landelike Beveiligingstrategie bepaal word, moet prioriteit geniet en so vinnig as moontlik daargestel word, ten einde groter veiligheid te bewerkstellig.

Die onaanvaarbare situasie in die landelike gebiede vereis egter ook dat ons persoonlike veiligheid na nóg ’n hoër rat oorgeskakel moet word. VL gaan steeds voort om dié probleem so doeltreffend moontlik die hoof te bied en om die omgewing en uitdagings waarin ‘n landbouer moet boer, aan te spreek.

Die spoedige arrestasie van diegene wat vermoedelik by die moord op Horner betrokke was, word verwelkom, en die persone betrokke by die ondersoek word vir hul vinnige optrede bedank. Daar sal voortgegaan word om die belangrikheid van die sektor vir die voortbestaan van die inwoners van die land, aan die regering voor te hou. – Persverklaring, Vrystaat Landbou


Newsletter Subscribe