Leer oor beste wingerdpraktyke by streeksinligtingsdae- Suid Afrika

Star InactiveStar InactiveStar InactiveStar InactiveStar Inactive
 

Die wynbedryf moedig alle wyndruifprodusente, wynmakers en wingerdkundiges aan om hulself met die nuutste tendense en beste wingerdpraktyke in wyndruifverbouing toe te rus tydens ʼn reeks streeksinligtingsdae wat van 5 tot 19 Mei 2020 aangebied word.

“Die Winetech Vinpro Inligtingsdae word jaarliks in Mei en September in ses streke aangebied, en fokus op wingerdtegniese tendense en advies relevant tot die spesifieke wyndruifverbouingstreek,” sê Conrad Schutte, bestuurder van Vinpro se konsultasiediensafdeling.

Italiaanse wingerdpraktyke
Die Kaap Suidkus-inligtingsdag wat op 5 Mei by die Ertjiesvleisaal in Spookfontein gehou word, gaan op koelklimaat-dekgewasse en Italiaanse wingerdpraktyke, die wingerdstok se reaksie op klimaatsverandering, dormansie en die tydsberekening vir snoei, asook die effek van druifrypheid op potensiële wynstyl fokus.

Die Robertson-sessie op 6 Mei by die Graham & Rhona Beck-vaardigheidsentrum buite Robertson gaan die klem op wingerdbestuur in tye van lae waterreserwes plaas, asook op die mees toepaslike dekgewasse in lae-reënvalgebiede wat van drupbesproeiing gebruik maak, die belangrikheid van en beste praktyke rondom die onderhoud van besproeiingstelsels en sluit ʼn oorsig oor die wynbedryf van 2005 tot 2025, en die effek van die koronavirus op die bedryf in.

Sprekers tydens die Paarl en Swartland-sessie van 12 Mei by Nelson-landgoed buite die Paarl, gaan raad gee oor die bestuur van miere, kalanders, krompokkels en stamsiektes deur tradisionele metodes, maar ook deur die gebruik van voordelige insekte. Die dag sluit ook ʼn oorsig oor wêreldtendense in organiese en biodinamiese wynmarkte, asook doelwitgedrewe dekgewasbestuur in.

Besproeiingstelsels en dekgewasbestuur
Produsente by die Olifantsrivier-sessie wat 14 Mei by Die Keldery in Vredendal gehou word, sal terugvoer ontvang oor ʼn waterbestuursprojek, asook wenke oor effektiewe onderhoud van besproeiingstelsels en ʼn oorsig oor voorpunttegnologie, navorsing en beste praktyke waargeneem tydens ʼn studietoer na Australië.

Tydens die inligtingsdag vir die Worcester- en Breedekloofstreke wat 14 Mei by Daschbosch Cellar, Rawsonville, gehou word, gaan sprekers ʼn oorsig gee oor die stand van die wynbedryf gedurende onstuimige tye, die suksesse en uitdagings van chemiese beheer gedurende die afgelope seisoen, dekgewasbestuur in lae-reënvalgebiede en die gebruik van afstandswaarneming om wynstyl en -gehalte te bestuur.

Implikasies van verskille tussen stokspasiëringskeuses
Kenners by die Stellenbosch-geleentheid sal op 19 Mei by Landtscap hul ervarings deel rondom die gebruik van besproeiingskedulering om die effek van uitermatige wind op wingerde te buffer, die implikasies van verskille tussen stokspasiëringskeuses, alternatiewe druifsoorte in antwoord op klimaatsverandering en die stand van die Suid-Afrikaanse wynbedryf.

“Ons moedig alle wyndruifprodusente, wynmakers, wingerdkundiges, verskaffers aan die wynbedryf en ander persone wat belangstel om hulself met die belangrike inligting toe te rus wat bedryfskundiges by die streeksinligtingsdae deel,” sê Conrad.

Die registrasiefooi wissel tussen R200 en R300 per persoon, afhangend van die streek. Om by te woon, bespreek aanlyn by www.sales.vinpro.za/events of kontak Gaynor Fortuin by tel 021 276 0432, e-pos This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. – Persverklaring, Vinpro