Rekord katoenverbruik voorspel vir 2019/20- Suid Afrika

Star InactiveStar InactiveStar InactiveStar InactiveStar Inactive
 

Die wêreldverbruik van katoen sal na verwagting met ongeveer 1,5% in 2019/20 toeneem. Die ICAC (International Cotton Advisory Committee) voorspel dat die wêreldverbruik van katoen 'n rekord hoë vlak van 27,3 miljoen ton in 2019/20 sal bereik ondanks handelsonsekerhede, verswakking in globale ekonomiese groei en die verlangsaming in die vraag na katoen.

Die belangrikste faktore wat gewoonlik 'n invloed op die groei in die wêreldvraag na katoen het, is wêreld ekonomiese groei, bevokingsgroei en die prys van mensgemaakte vesels. Die Internasionale Monetêre Fonds projekteer wêreld ekonomiese groei om tussen 3,5% en 3,6% in 2019 te wees, maar die Verenigde Nasies verwag aan die ander kant dat die wêreld se bevolking met 1,1% sal toeneem. Aangesien bevolkingsgroei as die vernaamste drywer van globle katoenverbruik beskou word, projekteer die ICAC dat die wêreldverbruik van katoen met ongeveer 1,5% in 2019/20 sal toeneem.

Die wêreldverbruik van katoen sal na verwagting steeds deur Oos- en Suid-Asiatiese ekonomieë gelei word, wat saam met China verantwoordelik is vir sowat 80% van die katoen wat in die wêreld verbruik word. Katoenverbruik in China sal na raming met 1% tot 8,5 miljoen ton toeneem, terwyl die ICAC verwag dat katoenverbruik in Viëtnam en Bangladesj onderskeidelik met 3% en 2,5% sal toeneem. In die tweede jaar van stagnante groei sal katoenverbruik in beide Indië en Pakistan na verwagting bestendig bly teen 5,4 miljoen en 2,3 miljoen onderskeidelik.

Sover dit wêreldkatoenproduksie betref, word 'n toename in hektare sowel as produksie in 2019/20 verwag, namate boere op die gunstiger katoenpryse in vergelyking met dié van mededingende gewasse reageer. Met 'n verwagte verhoging in globale opbrengste verwag die ICAC dat wêreldkatoenproduksie met 6% teen die vorige seisoen sal toeneem tot 27,6 miljoen ton. Toename in aanpantings word in al die groot katoenproduserende lande sowel as in verskeie Wes-Afrika lande verwag. Terwyl Suidelike Halfrond plantvoornemens nog nie bekend is nie, bly die beskikbaarheid van water 'n groot bron van kommer in Australië en is dit onwaarskynlik dat hektare onder katoen hier sal verhoog.

Met 'n katoenproduksie wat op die oomblik geprojekteer word om 'n bietjie meer as verbruik te wees, verwag die ICAC dat eindvoorraadvlakke teen die einde van die 2019/20-seisoen sal styg, effens meer as die verwagte eindvoorrade van die huidige 2019/19-seisoen.