Bonsmaraspeenkalfveiling verf Beeswinkel rooi

Star InactiveStar InactiveStar InactiveStar InactiveStar Inactive
 

Geskiedenis gaan vanjaar in Meimaand gemaak word wanneer duisende Bonsmarabeeste oor nege provinsies aanlyn op ’n Internetveiling van Beeswinkel.co.za aangebied word.

Dié eerste Bonsmaraspeenkalfveiling word op 2 Mei om 14:00 aangebied. Petrus van Heerden, direkteur van Beeswinkel, sê hierdie veiling beloof om die grootste Bonsmaraveiling nóg in Suid-Afrika te wees. “Bonsmaratelers moet nou reeds op die Beeswinkel-platform registreer om hulle aanbod betyds te kan laai,” waarsku hy.

“Die” Bonsmara is die beesras met die meeste geregistreerde diere in Suid-Afrika en die enigste vleisbeesras met gedokumenteerde kruisrasprogramme. Dié ras is baie gewild onder voerkrale. Dit is waarom ons vanjaar vir die eerste keer, in oorleg met Bonsmara SA, Nasionale Bonsmaradag op 2 Mei aanbied,” sê Van Heerden.

Volgens Louis Steyl, rasadviseur van Bonsmara SA, speen die meeste Bonsmaraboere tussen April en Junie. Volgens Steyl speen boere in die ooste van die land effens vroeër en boere in die weste later. Dít is een van verskeie redes waarom die begin van Mei geskik is vir hierdie eksklusiewe Bonsmaraveiling.

“Die Bonsmararas se uitstaande kenmerke sluit sy uitstekende aanpasbaarheid, goeie groei binne en buite uiterste temperature, uitstaande karkasgehalte en goeie resultate in kruisteelstelsels in. Die ras het weens die afgelope 60 jaar se streng genetiese seleksieproses uitstekende groei getoon – perfek vir die kommersiële teler wat ’n hoë vleisproduserende beesras soek wat min onderhoud verg,” sê Steyl.

Sodra die Internetveiling op 2 Mei om 14:00 die middag begin, kan deelnemers verskeie opwindende verwikkelinge verwag. Volgens Melanie Duminy-Boshoff, bemarker van Beeswinkel, gaan dit ’n ‘rooi veiling’ wees.

“Kopers kan verwag dat hoë gehalte Bonsmarakalwers, wat bulle en verse insluit, aangebied sal word. Boere wat belangstel om hul kuddes aan te vul, kry met hierdie veiling ook die ideale geleentheid om verskalwers te koop,” verduidelik sy.

Verkopers wat hul Bonsmaraspeenkalwers wil verkoop, moet ten minste twee weke voor die veiling op Beeswinkel se webtuiste geregistreer wees. Die verkoper neem dan hoë gehalte video’s en foto’s van sy speenkalwers en registreer sy lot. Hoe vinniger verkopers hul lotte op Beeswinkel laai, hoe gouer kan kopers bewus word van die kalwers wat beskikbaar is.

Dennis Staal, mede-direkteur van Beeswinkel, sê een van die voordele van Beeswinkel se aanlynveiling is dat die verkoper geen onkoste het om sy vee na veilingskrale te vervoer nie. “Die verkoper moet net ’n paar minute neem, sy beeste afneem en sy lot registreer,” sê hy.

Vir meer inligting, besoek www.beeswinkel.co.za. – Persverklaring